Tien uit tien, of jy’s kak

Sondag 8 Maart 1998

Ek kan die gedagte om te verloor nie verduur nie – nie as ek verwag het om te wen nie. Ek raak obsessief daaroor om te wen, om my verwagte punt van sukses te bereik. As ek dit nie bereik nie, maak niks vir my sin nie, en my wêreld verkrummel: “Hoe is dit moontlik dat ek nie kon wen nie?!”

Ek moet leer om tevrede te wees met minder, en om laer verwagtinge aan myself te stel.

In Ten Things to Do in Denver When You’re Dead praat die hoofkarakter van ’n lys wat mens moet opstel van tien dinge wat jy die graagste in die lewe wil doen. Volgens hom sal jy heel waarskynlik nooit al tien gedoen kry nie, maar al realiseer jy net vyf of ses daarvan, het jy goed gedoen vir jouself.

Dis kak. As ek so ’n lys moet opstel, verwag ek om al tien te doen. Nege uit tien sal beteken ek het misluk.

Hoe gaan ek te werk om hierdie destruktiewe houding te verander?

______________________