TAIWAN: ‘N KORT OORSIG

Deur 11 - 05 - 2003

Al die materiaal in hierdie boek (met die uitsondering van enkele paragrawe) dateer uit die Taiwan-periode van my lewe. Dis belangrik om te noem dat hierdie boek nie gaan oor Taiwan nie; dat dit die omgewing is waar sekere temas verder ontwikkel het, en waaruit ander gespruit het, is wel van belang. Enkele bladsye oor hierdie omgewing sal derhalwe nie onvanpas wees nie.

Geografie

Taiwan is ongeveer 160 kilometer van China af, en lê op die westelike rand van die sogenaamde Ring van Vuur – wat al wat leef om die Stille Oseaan terroriseer met aardbewings en vulkane. Taiwan is bergagtig, met van die hoogste bergpieke in Noordoos-Asië.

‘n Subtropiese ligging reduseer Taiwan se klimaat tot twee seisoene. Dit sous in die somer, en elke nou en dan storm ‘n tifoon van die Fillipyne af in. (‘n Gelukkige somer is een waar ‘n mens nie vir drie maande sonder end ly onder nat en onuithoudbaar bedompige kondisies nie.) Danksy hierdie tipe klimaat is daar heelwat plantegroei, maar om dit werklik te geniet moet ‘n mens uit die stad uit vlug. Daar’s blykbaar ook bere en verskillende tipes bokke te sien in die berge. (Siende dat ek dit gewoonlik net maak tot by die plaaslike kafee oor naweke, kan ek dit egter nie bevestig nie.)

Geskiedenis

Volgens die Lonely Planet – wat ooplê langs die rekenaar soos ek hierdie stuk skryf – is daar al mense in Taiwan vir iets soos tien duisend jaar. Die eerste bewoners het van ander eilande in die ongewing gemigreer hiernatoe, en hulle deel genetiese eienskappe met mense in die nabygeleë Fillipyne. Teen die tyd wat die eerste Chinese hier aangekom het, was daar hoofsaaklik twee inheemse groepe: dié wat op die vlaktes gebly het, en die ander groep wat meestal in die berge gehou het.

Van die vyftiende eeu af het Chinese in groter groepe hier aangekom. Omdat hulle meestal afkomstig was van die Fujian Provinsie in China, is die taal wat meeste Taiwanese praat amper identies aan die Fujian dialek van Chinees (hoewel Mandaryns die amptelike taal is in Taiwan).

In die jaar 1517 het die Portugese hier ‘n draai gemaak, en die eiland Ilha Formosa genoem. (Laasgenoemde beteken Pragtige Eiland. Dit was egter die Chinese wat aan Taiwan haar huidige naam gegee het, wat vertaal as Baai van Terrasse.) Die Hollanders het ook anker kom gooi in 1624, en hulle het lekker bere en bokke gejag tot ‘n Ming lojalis met die naam van Cheng Cheng-kung hulle kom verjaag het in 1661. Omdat die Qing dinastie op daai stadium die troon in Beijing volgesit het, het hulle weer op hulle beurt Taiwan oorgeneem in 1682. Vir die volgende twee honderd jaar was daar grootskaalse immigrasie uit die suidelike provinsies van China.

Die volgende groot gebeurtenis was toe Japan die plek oorgeneem het as ‘n kolonie in 1895. Dit was een van die pryse wat die Japanese gekry het omdat hulle ‘n oorlog met China gewen het in die genoemde jaar. Vir die volgende 50 jaar was Taiwan deel van die groeiende Japanese ryk. Teen die tyd wat Japan die Tweede Wêreldoorlog verloor het, het sake in China van so ‘n aard verander dat dit net ‘n kwessie van tyd was voor Taiwan se geskiedenis weer onherroeplik sou verander.

Die oomblik toe die Japanese onttrek aan China, het die burgeroorlog tussen die kommuniste en die regering van Chiang Kai-Sjek sy laaste, en bloedigste fase betree. Teen die begin van ’49 het Chiang besef sy dae is getel in China. Hy besluit toe om die hele versameling kulturele skatte van die National Palace Museum, al die geld van China se nasionale bank, amper een-en-’n-half miljoen ondersteuners en 600,000 soldate op skepe te laai en ‘n bietjie te kom rus in Taiwan. Die idee was om “binne twee jaar” met die uitgeruste troepe weer die vasteland binne te val – en weer die skatte terug te sit in die oorspronklike museum in Beijing.

Chiang en al sy troepe het aan die einde oud geword in Taiwan (Chiang is in 1975 dood op die ouderdom van 87), en soos meeste mense weet sit die kommuniste nog steeds die troon warm in Beijing.

Politiek

Chiang het in 1949 nie net met troepe, ondersteuners, geld en Ming-vase hier aangeland nie, hy’t ook die titel, vlag en nodige politici saamgesleep wat hom die reg kon gee om te sê hy’s nog steeds die Hoofman van die Moederland. Hy het op hierdie oewers aangeland as die president van die Republiek van China, en teen die tyd wat hy dood is in 1975, was hy nog steeds die president van die Republiek van China.

Tot en met die sewentigerjare het die res van die non-kommunistiese wêreld saam met Chiang gestem dat sy regering in Taiwan die regmatige regering van die hele China is. Dinge het egter begin verander in daai dekade, en vandag is daar slegs ‘n paar lande wat nog erkenning gee aan die politici in Taipei as die regmatige Chinese regering.

So, die Verenigde Nasies skop toe die ou van Taiwan uit in ’71, en meeste lande het in die jare daarna hulle ambassades in Taipei gesluit – net om kort daarna besigheid voort te sit as sogenaamde Trade Offices. Wat is Taiwan dan as dit nie die fisiese adres is van die regering van China nie? Van 1949 af was Taiwan in praktyk geregeer as onafhanklik van China – hoewel enige Taiwanees in die tronk kon beland het daai tyd as hy dit hardop gedink het. Van die tyd dat die regeringsleiers in die sewentigs die memo gekry het dat hulle nie meer erken word as die politieke meesters van China – met Taiwan as haar provinsie – nie, het hulle met ‘n staatkundige identiteitskrisis gesit. Hulle het nietemin nog steeds werk gehad om te doen, naamlik om ‘n verantwoordelike regering te wees vir die 25 miljoen mense in Taiwan.

Moet die naam dan nie net doodgewoon verander na die Republiek van Taiwan nie? Om dit te vra is om ‘n senuwee raak te trap onder die plaaslike bevolking. Sommiges glo Taiwan moet een of ander tyd weer deel word van die Moederland. Ander glo weer Taiwan moet erken word vir wat sy is, en vir die afgelope meer as vyftig jaar al was: ‘n onafhanklike staat. En in hierdie vreemde politieke situasie is die laaste groep mense wat wil hê Taiwan se naam moet amptelik verander, die regering in Beijing. Hulle glo die oomblik as Taiwan ‘n amptelike naam kry wat die werklikheid meer akkuraat weerspieël, dan verklaar hulle onafhanklikheid van die Moederland. En dan is die hel los.

So, tot vandag toe, huisves Taipei die regering van die Republiek van China, met ‘n provinsiale regering in ‘n ander Taiwanese stad wat op papier verantwoordelik is vir die provinsie Taiwan.

***

Dit dus, is die geografie, geskiedenis en ongewone politieke staat van die land waarin ek myself die afgelope vier jaar bevind het.

Ek wonder soms, as ek hierdie afgelope vier jaar van my lewe in ‘n land gebly het wat self oortuig was van haar eie identiteit, en haar plek in die wêreld, sou dit op ‘n vreemde manier ‘n effek gehad het op my eie soeke na hierdie dinge?

Hierdie inskrywing dateer: 11 - 05 - 2003 om 12:22 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.