Samesyn en die individu

DONDERDAG 9 DESEMBER 2004

Vele mense is bekend met die verskynsel van ongemak met hulleself. Een van die dinge wat hulle doen om hierdie ongemak, of spanning, teen te werk, is om te sorg dat hulle soveel as moontlik van hul wakker-ure spandeer saam met mense wat van hulle hou, en wat gemaklik is by hulle.

“Wat op aarde is verkeerd hiermee?” sal vele mense uitroep.

Die versoeking is daar om te sê, niks. Ek maak net ’n onskuldige opmerking.

Vele visse het egter in vele waters op hierdie planeet geswem en gevrek sedert ’n vraag my begin interesseer het: Wat gee samesyn met ander mense die individu?

’n Verdere vraag is, as die behoefte wat vervul word met samesyn met ander mense, verminder kan word, wat sal die resultaat wees? Die individu sal sekerlik nie so gereeld, en vir sulke lang periodes, die samesyn van ander mense opsoek nie – ’n gedagte wat sekerlik enige een wat glo aan die universele waarde van tyd spandeer met ander mense, teen die bors sal stuit.

’n Derde en finale vraag sal dan wees, gestel ’n persoon kan inderdaad sy of haar behoefte aan samesyn verminder, sou dit nie die persoon in staat stel om minder afhanklik te wees van die voorskrifte van ander oor hoe hulle moet verskyn aan die gemeenskap, oor hoe hulle moet funksioneer, en oor wat hulle moet sê en doen, wanneer, en op watter wyses nie?

Kantgedagte: Sommige mense sal my dalk daarop wys dat mense nie meganiese kreature is wat wag vir opdragte om ingepons te word voor hulle ’n woord kan uiter of ’n ledemaat kan lig nie. Natuurlik wag niemand op ’n ander een om opdragte teen sy voorkop uit te druk voordat hy oorgaan tot aksie nie. Die voorskrifte waarna ek verwys, is soms subtiel en ander kere word dit uitgespel, soms is dit algemeen bekend, en soms is dit so verborge dat indien jy sommige mense daarop wys, hulle oombliklik harnasse toeslaan en krygsponies bespring om jou te dwing om jou woorde terug te trek.

Watse resultaat, om saam te vat, sal dit hê op die psige van ’n individu wat vry word van die voorskrifte van ander mense oor hoe hulle moet verskyn, hoe hulle moet optree, en wat hulle moet sê en doen? En mag dit wees dat hierdie vryheid in die geval van sommige individue ’n noodsaaklike deel van die proses is wat hulle uiteindelik in staat sal stel om ’n positiewe eindresultaat te bewerkstellig van hul bestaanstyd op hierdie planeet?

______________________