Repatriasie (Notas MCCXIII)

DINSDAG 24 AUGUSTUS 2004

11:34

Ek is op die oomblik gelukkig in Taiwan – hoewel ek tans in Bronkhorstspruit is. Ek glo ek kán gelukkig wees in Bronkhorstspruit. Wat belangrik is, is dat al my besittings, en my inkomstegenererende werk, in Taiwan is.

16:31

Dis die sewentiende dag van my vakansie in Suid-Afrika. Ek het nog nege dae oor. Enkele gedagtes is al genoteer oor die “terugkom” issue. Soos gewoonlik is dit ’n ietwat irriterende aangeleentheid, want … vat ek sekere boeke saam, los ek dit hier, siende dat ek dalk binnekort terugkom?

Ek vra myself dus plegtig om ’n bietjie lig op die onderwerp. [Hoekom lyk my notas soms soos gebed? En hoekom kniel ek soms as ek skryf … net ’n grappie.]

Dis Dinsdagmiddag. Ek het nou net onder ’n boom, in die laatwinterson, op ’n plot net buite Bronkhorstspruit, ’n Nat Sherman gerook. Ek is op die oomblik hier, in Suid-Afrika. My ouer suster en haar sesmaand-oue babaseuntjie sit op die bed in die kamer oorkant my. Sy blaai deur ’n tydskrif, en die klein laitie maak sagte kreungeluidjies. My jonger suster sit aan die ander kant van die huis in die kantoor van my ouers se besigheid. Ekself lê op die bed in die ander spaarkamer, op ’n geel deken, en maak aantekeninge in my notaboek.

Tog woon ek tans in Taiwan. Tog is ek tans in Suid-Afrika. Wat is die probleem?

Die feit dat ek nou hier is, in Bronkhorstspruit, saam met my familie, is een honderd persent deel van my lewe in Taiwan!

My belangrikste opmerking oor die vraagstuk is reeds genoteer: ek is tans gelukkig in Taiwan. Ek het ’n goeie woonplek daar. Ek het enkele vriende. Ek doen werk wat my van ’n redelike oukei inkomste voorsien. Ek spandeer heelwat tyd elke week aan my persoonlike literatuur, en ek studeer Chinees (soms meer as ander tye, maar steeds). Dit is ’n goeie lewe, volgens my eie standaarde.

’n Ideale lewe sou insluit dat my ouers reeds finansieel gemaklik op aftrede kon wees; my jonger suster en haar man sou in die dorp woon, soos nou; my ouers suster en haar gesin miskien in Pretoria; en ek sou in ’n aangename huis óf in Pretoria, óf in Bronkhorstspruit gewoon het saam met ’n aangename en aantreklike vrou. Dit is die ideaal – met almal wat natuurlik gesond is, hulle werk geniet, en voldoende kapitaal genereer om ’n goeie lewe te kan bekostig.

Ek is nie een wat graag na die huidige realiteit kyk en uitroep, “That’s life!” nie, maar dis nie so eenvoudig soos ek wat net my goed hiernatoe verskeep en in ’n drie slaapkamer huis in Bronkhorstspruit intrek nie. Dit sal, ironies genoeg, selfsugtig wees om dit te doen, indien my pad wél kruis met ’n vrou met wie ek my dae sal wil slyt op hierdie planeet, en soveel te meer as ons saam kinders moet verwek.

Die lewe wat ek tans my eie noem, en waaruit ek ’n toekoms skep, is die beste kans wat ek het, op hierdie stadium, om te wees wie ek is en te doen wat ek doen; en dan, indien dit op die spreekwoordelike kaarte is, die beste kans om iemand te oorreed om haar lewe met my te deel.

My huidige lewe bevat die saad waaruit ’n goeie toekoms kan spruit – vir myself, en vir enige ander persoon of persone vir wie se welsyn ek moontlik oor vyf jaar ten minste gedeeltelik verantwoordelik sal wees.

Dit is my huidige lewe, in Taiwan. (So spreek ek, op ’n plot net buite Bronkhorstspruit, op Dinsdag 24 Augustus 2004.)

______________________