Man in die spieël – groei – Renaissance man

SONDAG 1 AUGUSTUS 2004

Wie is daai man in die spieël? (En hoekom kyk hy so na my?)

Die uitdaging, soos ek reeds teen dié tyd al soveel keer geresiteer het dat sommige lesers se kop seker wil draai by die blote sig van die woorde, is … om te verskyn as wie en wat jy werklik is. (Daar, dit was nie so erg nie, was dit?)

My punt op hierdie oomblik is egter dat ’n mens soms terugval op ou verskynings wat nie meer werklik geldig is nie, maar wat vertrou kan word vir goeie reaksie. Hierdie tipe situasie los homself weldra op, op ’n natuurlike wyse – of dan hopelik so, anders sal die selfverloëning ’n oop, brandende sweer word.

Dit is egter belangrik om, as ’n mens miskien in ’n spesifieke situasie anders verskyn het as hoe jy jouself sien, jy nie sonder versuim ’n badkamerspieël moet gaan soek om paniekerig vir jouself te gil, “Wie is ek … of wie is jy?!” nie. Weet, en verstaan dat selfs al verander jou beeld van jouself met die verloop van tyd, jy moontlik steeds soms as jou “ou self” sal verskyn ter wille van veiligheid, of positiewe reaksie, of positiewe resultaat in ’n spesifieke situasie.

Die ideaal is uit die aard van die saak dat jou huidige, en hopelik geloofwaardige self voldoende vertroue sal opbou sodat jy kan verskyn as wie en wat jy is, op enige spesifieke tydstip van jou lewe.

MAANDAG 2 AUGUSTUS 2004

Om te groei en te ontwikkel en uitdrukking te gee – of om te kies om dit nie te doen nie

Jy ervaar die werklikheid. Dit is moontlik om uitdrukking te gee aan hierdie partikulêre ervaring.

Jy het ook ’n identiteit. Dit is moontlik om jou begrip te verbeter van wie jy is, wat jy is, en wat jy met jou lewe wil doen.

Jou keuse, op hierdie oomblik, is of jy hierdie dinge wil erken, hierdie moontlikhede, en om voort te gaan met die proses van persoonlike groei en ontwikkeling, of nie.

WOENSDAG 4 AUGUSTUS 2004

In “Renaissance Man” verander Danny De Vito se karakter die omgewing waar hy woon en werk van ’n kantoor in die middestad en ’n huis in ’n middelklasvoorstad na ’n militêre opleidingkamp. Hy vind dat hy in werklikheid nie ’n advertising ou is nie maar ’n “teacher”. Hy raak skielik toegewyd aan wat hy doen, en hy voel vir die eerste keer in jare dat hy êrens behoort. En, siende dat die formule altyd reg werk in movies, vind hy natuurlik ook die liefde van sy lewe.

______________________