Opsies vir die ongelowige

DONDERDAG 25 DESEMBER 2014

Is dit nie ietwat simpel om jouself ’n ateïs te noem nie? Is dit nie soortgelyk daaraan om jouself “nie ’n WP-ondersteuner” te noem nie? Hoekom dan nie eerder jouself identifiseer wat jy wel is nie – ’n Blou Bul-ondersteuner, ’n Goue Leeus-ondersteuner, ensovoorts?

Die ander probleem daarmee om jouself te identifiseer as ateïs, is dat die onus dan op jou rus om te definieer waarin jy nié glo nie. Wát of wié is die god waarin jy geen geloof het nie?

* * *

’n Paar minute se navorsing oor die onderwerp het my geleer dat daar sterk ateïsme en swak ateïsme is. Die Sterk Ateïs (ook Positiewe Ateïs) neem die standpunt in dat daar rede is om te glo dat daar geen god bestaan nie, dat dit selfs logies onmoontlik is dat daar ’n god of gode bestaan. Die sogenaamde Swak Ateïs (of Negatiewe Ateïs) reken dat daar geen rede is om te glo dat daar wél enige god bestaan nie.

Dan is daar die ignostici – mense wat die posisie inneem dat elke godsdienstige oortuiging te veel veronderstel oor die konsep van “God”. Die ignostikus sê derhalwe dat beide die “gelowige” en die “ongelowige” te veel veronderstellings maak oor waaraan hulle glo, of nie glo nie.

Nog ’n alternatief is om jouself aan die kant te skaar van mense wat gekant is teen enige geloof in die bestaan van ’n god, naamlik die anti-teïs. Christopher Hitchens het in sy boek, Letters to a Young Contrarian geskryf dat hy nie net glo dat alle religieë weergawes van dieselfde onwaarheid is nie, maar ook dat die invloed van kerke en die effek van godsdienstige oortuiging meer skade doen aan mens en samelewing as goed.

______________________