Op my gelukkigste – keuses en aksies

DONDERDAG 11 AUGUSTUS 2005

14:10

Dit is goed om in harmonie te leef met jou omgewing. Dit is goed om jou lewe te vergelyk met ander mense se lewens en tot die konklusie te kom dat ook jou keuses goed is, en verduidelikbaar; dat dit selfs aangebied kan word aan ander as ’n geldige opsie vir ’n volwassene in die tyd en omgewing waarin jy leef.

Ek wil graag glo dat ek nie die goedkeuring of bevestiging van ander nodig het nie. Wat ek wel wil hê, is om te kan kyk na my eie lewe en met oortuiging te kan verklaar dat ook my lewe goed is, dat die keuses wat ek gemaak het, reg is vir my, dat ook my lewe reg het op muurspasie in die Galery van Volwasse Lewens.

16:37

Vervelige Feit Wat Ek Nou Al Soveel Keer Geresiteer Het Dat Ek Dit In My Slaap Kan Opsê, Nommer 1: Ek is op my gelukkigste as ek besig is met my eie projekte – met vrye, kreatiewe werk onder my eie beheer.

* * *

“Op jou gelukkigste?” sal iemand dalk vra. “Wat van jou verhouding?”

Antwoord: Indien ek nie in ’n goeie verhouding was nie, sou die vervulling wat ek ervaar wanneer ek besig is met my eie werk, gemeng gewees het met ’n hele paar ander emosies. Sonder my kreatiewe werk, sonder my projekte, sou ek nie die helfte van die mens gewees het wat ek tans is in my verhouding nie. Ek sou onder meer voortdurend my eie waarde en aantreklikheid as ’n persoon en ’n lewensmaat bevraagteken het.

SONDAG 14 AUGUSTUS 2005

Ek, myself, en die waarheid oor waansin en leuens: uit ’n droom

SONDAG 21 AUGUSTUS 2005

Elkeen van ons is die resultaat van keuses wat duisende mense oor die eeue gemaak het, en aksies wat hulle geneem het of nie geneem het nie of verkeerd geneem het – van ’n impulsiewe besluit om op ’n boot te klim na ’n ander kontinent toe, of nie op ’n boot te klim wat uiteindelik op die seebodem sou opeindig nie, van swaarde wat net-net ’n belangrike orgaan gemis het tot ’n voorouer wat eeue gelede ontwykende aksie geneem het om te verhoed dat ’n klip wat in sy rigting gegooi is, sy skedel kraak en sy lewe daar en dan beëindig.

MAANDAG 22 AUGUSTUS 2005

01:15

Epistemologie: Hoe wéét mens enige iets?

09:20

Redevoering, eksperiment, “Want dit word gesê …”

Hoe weet jy wat gesê word, is waar?

“Want …”

17:50

Jaag ek steeds agter windeiers aan … oukei, verkeerde vraag. Hardloop ek steeds deur ’n modderige landery agter ’n reënboog aan? Of gaan ek regtig, uiteindelik, arriveer?

______________________