(Onder Andere) Die Woonstel

Deur 13 - 10 - 1999

Ek reken dit sal my R111,296.29 kos om terug te gaan Suid-Afrika toe, te settle, ‘n kar te koop, geen uitstaande skuld te hê nie en die heeldag in die kroeg te lê (of nee, dan sal ek moontlik met die verkeerde vrou opeindig). Aan die ander kant kan ek vir my ‘n yskas en ‘n wasmasjien koop en vir ewig hier bly. Dis op die oomblik hoe my planne staan.

Ek kan nie slaap in die aande nie, of eerder, ek raak al hoe meer onwillig om bed toe te gaan. Ek kry nagmerries, dan staan ek 5:00 in die oggend op, en dan verslaap ek.

My TV het nou net in fokus gekom… op ‘n Koreaanse movie. Ek wil volgende jaar weer ‘n bietjie Korea toe gaan. Ek mis die kos en die winters daar. Ek wil ook volgende jaar New York toe gaan, en Europa, en miskien vir so drie weke deur Suidoos-Asië toer. Maar eers moet ek vir my ‘n yskas en ‘n wasmasjien koop.

Het jy geweet meeste Koreaanse en Taiwanese kinders het ook Engelse name? Kan jy jouself voorstel ‘n Afrikaanse kind met ‘n Chinese naam, of Suid-Afrikaanse kinders wat, as ‘n alledaagsheid, ‘n Oosterse taal aanleer?

Dit sneeu in hierdie movie. Ek mis dit – die sneeu, die koue. In Taiwan is dit warm die hele jaar deur, en jy weet hoe haat ek hitte. En my woonstel het nie vensters nie. En jy weet hoe lief is ek vir baie vensters, en groot vensters, sodat die vars lug en miskien so ‘n ligte laat-herfs briesie kan inwaai… dan gaan sit jy in die hoek van die balkon op ‘n rottangstoel, en jy sluimer in.

Net so voor die lug grys begin raak, met ‘n kouer wind wat wil optel, stap jy binne toe. Jy trek jou trui aan, drentel kombuis toe oor die donker houtvloer, en gaan deur die afgemete ritueel om ‘n vars pot koffie te maak. Dan gaan sit jy op ‘n groot rusbank, jy slaan jou notaboek oop, en kyk vlugtig oor iets wat jy vroeër begin skryf het. Nog besig om te oorweeg waarheen jy op pad is met die storie, strek jy oor na die CD-rak en trek iets soos ‘n later Beatles album uit. Jy hoor ‘n klop aan die deur.

Sy’s jammer om te pla, sê sy, sy wou net die boek terugbring wat sy die ander dag geleen het. Sy aarsel vir ‘n oomblik. Die aroma van koffie perkoleer deur jou woonstel. Jy sê dankie vir die boek, en maak ‘n opmerking oor pannekoek en koffie en “aande soos dié”.

Sy glimlag. “Hoekom nie?” antwoord sy.

~ Uit ‘n e-pos aan A. (13 Oktober 1999)

Hierdie inskrywing dateer: 13 - 10 - 1999 om 01:51 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.