Om Te Kommunikeer
“Daar’s soveel dinge wat op die oomblik aangaan in my lewe, maar hoe sit ‘n mens dit om in ‘n email? Wat ek bedoel is, daar’s groot dinge wat met ‘n mens gebeur, soos in julle geval, en jy dra dit doodgewoon oor as feite… Wat saak maak is dat dit goed gaan met my. Ek wens soms ons kan langs die see gaan stap, dat ek my lewe kan probeer verduidelik op ‘n manier wat jy sal sê, ‘Ja, ek weet wat jy bedoel.’
Ek gaan moontlik hierdie naweek ‘n trein uit die stad uit vat, en na die ander kant van die eiland toe gaan. Of miskien gaan ek by die huis bly. Miskien gaan ek ‘n date hê hierdie naweek, of dalk nie. Ek weet nie meer hoe om ‘n normale brief te skryf nie. En ek vermoed ek wíl dalk my vermoë verloor om op ‘n normale, verstaanbare wyse te kommunikeer.
Ek dink ek raak toenemend vervreemd van plekke wat aan my bekend is, en tot ‘n mate is dit hoe ek dit wil hê… en ook nie wil hê nie. Ek het altyd gesê ek is gebore as ‘n gewone ou, wat net die gewone sou wou gehad het en tevrede sou wees met minder. Maar my lewe het ander draaie gegooi, en nou sit ek tussen die boom en die bas. Ek wil alles hê, en ek weet ek mag dalk opeindig met niks. Ek moet óf voortgaan met my lewe en die highway waarop ek geklim het, óf ek moet op een of ander stadium ‘n impulsiewe afdraai maak, en hoop dit werk uit.
Dis moontlik nooit te laat om te sê, ‘Dis alles eintlik baie eenvoudig’ nie. ‘Doen net dit en dat, en dan sal alles wees soos wat jy tien jaar gelede gedink het dit sou wees’.
Ek het iemand nodig om vir my ‘n baken te wees, om te dien as iets soos ‘n ligtoring wat die pad kan terugwys na die hawe toe elke keer nadat ek my draaie in die storm gaan maak het. Dit klink dalk asof ek wil hê jy moet iets sê in die rigting van godsdiens, maar dis nie goed genoeg nie.
Ek kan selfs kies om nou hierdie hele teks te delete, en dinge te skryf oor my lewe wat meer verstaanbaar is, en meer volgens die konvensie. Maar jy ken my gelukkig beter. En jy skryf altyd terug! Jy verstaan moontlik meer van my as wat ek vermoed jy doen. En om te dink jy wou eintlik net gehoor het of dit OK gaan met my, en of ek darem gereeld eet…”
~ Uit ‘n e-pos aan A. ( 16 Augustus 2000)
