Neiging tot moedeloosheid – dwaasheid

WOENSDAG 27 APRIL 2005

My neiging tot moedeloosheid, en die toename in frustrasie en verveling, en selfs die sporadiese afname in selfvertroue kan alles teruggelei word na die feit dat ek, “Brand Smit”, nie tans enige noemenswaardige literatuur produseer wat ’n goeie saak dien nie. Soos ek gister genoem het, kom dit daarop neer dat ek eksistensiële angs gaan ervaar wat soortgelyk is aan wat ’n pas bekeerde “Christen” sal ervaar wat nie gereeld die bevestiging van die gemeenskap van medegelowiges kry nie – met die verskil dat ek geen bevestiging van enige gemeenskap nodig het nie. My persoonlike religie en verwante bevestiging is … OM TE WEES WIE EK SÊ EK IS.

VRYDAG 29 APRIL 2005

11:38

Ek dink die een rede hoekom ek nog nie verder kon gaan in my denke oor sekere onderwerpe nie, is omdat ek soos ’n McDonald’s franchise eienaar is wat eintlik gesondheidskos wil bedien. Ek wil verder gaan, aanbeweeg, maar die enigste manier hoe ek dit werklik kan doen, is om die formaat en struktuur van my establishment te verander.

Ek moet begin navorsing doen. Ek moet meer gedissiplineerd raak in my ondersoek.

[Die McDonald’s analogie werk dalk nie so goed nie. Wat belangrik is, is dat ek gereken het my idees oor al die onderwerpe waaroor ek al skryf sedert … 1994 … gaan nie vorentoe nie. Ek het ook gereken my benadering van een paragraaf hier en ’n nota daar moet heroorweeg word. Wat ek gereken het ek moet doen, is navorsing; om ’n onderwerp behoorlik van ’n kant af te benader.]

17:49

[Nota oor projekte waarmee dit redelik goed gaan.]

Ek noem dit want ek haat dit as toue en garings en nate los begin trek, of as tentflappe wapper in die wind.

Wat my bring by ’n verwante sakie: Kry ander mense ook soms die idee dat hulle lewens net twee weke van totale chaos af is? Ek praat van gewone goed soos gesondheid en wasgoed en algemene higiëne; ek praat nie van erger faktore waaroor mens nie beheer het nie.

19:47

Geloof in jou medemens en in die lewe, is dwaasheid. / Dwaasheid is noodsaaklik vir geloof in jou medemens, en vir geloof in die lewe.

______________________