NASKRIF I

Deur 17 - 05 - 2003

Ek het aan die begin die edel bewering gemaak dat hierdie boek opgedra is aan ‘n paar spesiale mense. Vir die rekord moet ek bylas dat ek hierdie boek ook vir myself geskryf het – sekere administratiewe sake moes noodwendig afgehandel word voordat ek kon aanbeweeg na enige ander plek op hierdie planeet.

Vir jare al griffel ek op lyste dat ek een of ander tyd al die stukke moet bymekaarmaak wat ek geskryf het, asook al die stukke wat ek begin skryf het, maar nooit klaargemaak het nie. Die idee was om opstelle uit te print wat ek op die rekenaar geskryf het, e-posse wat ek geskryf het van die Hotmail-server af te laai, en miskien stukke in notaboeke en joernale oor te tik. Op ‘n basiese vlak het dit dus gegaan oor goeie kantoor-administrasie, om items op ‘n dinge-om-te-doen-lys deur te haal. Dit het ook amper vir my van dogmatiese belang geraak om iets voor myself op die tafel te kan gooi en te sê: “Dáár, dis onder andere wat ek met my tyd gedoen het.”

Ek het ook vermoed ek mag dalk, met die wyer beeld wat so ‘n projek vir ‘n mens gee van jou lewe, op ou insigte afkom waarvan ek vergeet het, of op idees wat dalk bestaande planne deurmekaar kan krap.

Aan die einde het die redigeringsproses tot ‘n mate geslaag in al bogenoemde doelwitte. Dit het selfs ‘n paar ander, onverwagte vrugte afgewerp. Ek het nie verwag om ‘n goue lyn te sien trek deur vier jaar se skrywery nie, maar ek sien tog nou meer redes as ooit hoekom dit nodig was om Taiwan toe te kom, en om vir so lank hier vas te haak soos ek tot nou toe gedoen het.

Wat maak ‘n mens as jy klaar is met so ‘n projek? Jy maak die huis skoon… jy trek vir ‘n slag weer ‘n besem oor die stoep… jy stap uiteindelik weer ‘n bietjie deur ‘n supermark… maar wat doen jy dan? Jy begin natuurlik te werk aan ‘n volgende projek, of jy gaan voort met die projek wat sonder waarskuwing op ys geplaas is ‘n paar maande gelede.

Nietemin, ek hoop dat dit moontlik sal wees om – literêr gesproke – weg te stap van hierdie selfgesentreerde Sake van die Hart. Vrae sál steeds in die lug hang, en ek sal steeds soms in die nag wakker skrik om ‘n voorlopige antwoord te mompel in die rigting van die plafon. Maar daar’s immers ander onderwerpe wat my aandag sal kan aftrek: die pluspunte van Oosterse kos, die voordele van groen tee, en my idee oor hoekom Taiwanese mense so vrot bestuur. En as ek gelukkig is, sal ek net soms wonder wat op aarde al hierdie alternatiewe temas te make het met die vraag of liefde alleen die lewe betekenis gee.

Mei 2003

——————–

[Julie 2004: Daar is natuurlik 'n ander moontlikheid vir wat 'n mens kan doen as jy 'n projek soos hierdie afgehandel het: Jy skryf voort, en noem die resultaat "Boek Twee". Dan stap jy deur 'n paar nagmarkte, jy drink 'n bietjie koffie saam met vriende, jy koop vir jouself nog 'n dosyn notaboeke, en gaan sit dan agter die rekenaar en skryf nóg 'n klomp stukke wat jy dié keer "Boek Drie" noem. Opstelle oor groen tee en Taiwanese bestuurders moet dus wag vir later.]

Hierdie inskrywing dateer: 17 - 05 - 2003 om 00:43 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.