‘n FUTURISTIESE ONTKENNING
Ek is nie meer in Taiwan nie. Die feit dat Woonbuurt-op-die-Rand in Bronkhorstspruit (wat ek deesdae my huis noem) op ‘n stofspikkel na Benewelde Lig Nuwe Dorp lyk, is ‘n bisarre toeval. Ek het nie vyftien minute gelede Chinees gepraat met die vrou wat tee onder op die straathoek verkoop nie. Die koerant wat ek nou net eenkant toe geslinger het is nie die China Post nie. Ek het nie gist’raand rys en groente met chopsticks geëet nie, en ek het beslis nie vanoggend by ‘n skool vir Taiwanese kinders Engelse rympies geleer nie!
Om die waarheid te sê, die een wat van mening is dat ek ‘n 32-jarige man is wat al vyf jaar in Taiwan vashaak – en sewe jaar altesaam in die Verre Ooste – is ‘n infame leuenaar wat sy kop onmiddelik moet laat lees! So ‘n persoon het ‘n ooraktiewe verbeelding en glo maklik sentimentele stories en verregaande teorieë oor die betekenis van die lewe om verveeldheid met sy eie lewe te verdoesel. Nee, ek is beslis nie hierdie slinkse karakter wat donker strate ná middernag op ‘n krakerige fiets deursoek vir tofu-sosaties en diepgebraaide seekat nie.
Wat ek wel is, is ‘n advokaat. Of ‘n rekenmeester. Ek bly in ‘n huis, op die rand van ‘n groot dorp in Gauteng. Ek het ‘n kar, ‘n kat, ‘n hond, ‘n grassnyer, ‘n swembad en ‘n sleepwa. Ek is getroud met ‘n lieflike dame, en ons het twee lieflike kinders. Ek speel gholf op Saterdagmiddae, en wen so nou en dan ‘n bottel sprankelwyn. Ek glo in Samelewing-en-Beskawing, Orde-en-Sekuriteit. Ek het drie lewenspolisse, en ‘n paar goeie beleggings. Ek het ook etlike kredietkaarte, en betaal getrou my rekeninge elke maand. My vriende dink ek is ‘n bietjie konserwatief, maar ek sê altyd ek glo waarin ek glo.
Ek, soos almal, ken, of weet van mense wat oorsee woon vir jare, “soekend” na hulleself, of waarna ‘n mens ook al soek in die buiteland. Persoonlik glo ek hulle mors hulle tyd; dat daar niks in die buiteland is wat ‘n mens nie in ons eie pragtige land kan beleef, of as jy dan wil, na kan soek nie. Ek glo verder dat baie van hierdie mense nie die durf het om die realiteite van hulle eie land in die gesig te staar nie. En ek praat nie eens nou van die misdaad en geweld nie, ek praat van groot word en aangaan met jou lewe as jy die ouderdom bereik wanneer jy nie meer ‘n kind is nie.
Ek was ook al in Londen, en eenkeer vir vakansie in die Maldives. Ek is dus nie ‘n idioot as dit kom by wat aangaan buite ons landsgrense nie. Ek kyk elke aand nuus, en lees ten minste ‘n paar keer ‘n week koerant. Ek is ook glad nie so konserwatief soos wat my vrou en my vriende my graag spot nie. Ek glo dat almal die reg het om die lewens te kies en na te streef wat hulle goedvind. Ek glo ook dat almal ‘n reg het op hulle eie opinies, en dat almal die reg het om te sê wat hulle wil, solank dit niemand onnodiglik beledig of aanstoot gee nie.
Dit is wel waar dat ek ‘n renons het in mense wat in die buiteland gaan woon, en dan krities is oor die tipe keuses wat ek gemaak het; keuses wat hulle met verwaande minagting “kleinburgerlik” noem. Hierdie mense het nie die vaagste benul waaroor my lewe gaan nie. Hulle het nie die vaagste benul wat vir my belangrik is, of wat die motiverings agter my keuses en aksies is nie.
Ek wens hulle wil huis toe kom. Dán sal ons sien wie die regte wenners is, en wie aan die einde sal verloor. Ja, dan sal ons inderdaad kan sien wie spot aan die einde met wie!
(18 September 2003)
___________
