Moeg, maar kan die volgende transformasie nie stop nie

DONDERDAG 1 JUNIE 2006

Ek voel moeg, my kop pyn, my lyf is seer, en ek is gatvol daarvoor dat om platsak te wees ’n definiërende kenmerk geword het van die lewe van “Brand Smit”. Ek werk hard. Ek werk fokken hard. Ek werk dag en nag en naweek. Ek werk harder as meeste mense wat ek ken, maar ek het minder geld as just about everybody I know.

Dis ook nie ’n geval dat ek verkeerd werk nie. My voorkeur van projekte is … waar die moeilikheid inkom. Ek verkies groot, fantasties ambisieuse projekte wat, wanneer dit klaar is en die spreekwoordelike groen knoppie gedruk word, dit lewensveranderende resultate teweeg sal bring.

Maar tot dan – moet my lyf en my kop maar seer wees, en ek moet maar vrede maak daarmee dat ek wonder waar ek voor die twintigste van die maand NT$7 500 vandaan gaan kry.

WOENSDAG 7 JUNIE 2006

Dit is onmoontlik om 100% “rein van hart” te bly in hierdie wêreld. Of eerder, die enigste manier om ten volle rein te bly, is om ten volle te onttrek van hierdie wêreld. (Wat ek bedoel met “rein”, is vir ’n persoon om alle aksies te vermy wat skade kan berokken aan ’n ander persoon of enige dier.)

Om te onttrek is natuurlik ’n selfsugtige aksie wat geen moontlikheid inhou van bystand aan enige mens of dier in nood nie.

Om betrokke te wees by hierdie wêreld, of om aktief te wees binne hierdie wêreld, sal noodwendig soms lei daartoe dat besluite geneem word en aksies gevolg word wat skade sal berokken, direk of indirek, aan mens, dier, of omgewing. Maar jou teenwoordigheid in hierdie wêreld, of jou betrokkenheid met die wêreld, is dalk juis die noodsaaklike teenwig vir veel groter skade wat iemand anders aanrig.

Hoe moet ʼn mens hierdie werklikheid benader?

DINSDAG 13 JUNIE 2006

18:46

Ek is effens moeg, maar ek is nie net moeg vir die rekenaarwerk nie, ek is ook moeg vir my rusbank. Ek is ook moeg vir my bed, my handdoeke, my badkamer en my wasmasjien. Dit voel asof ek myself leeg tap voor ek my volgende transformasie ondergaan: die wording van ’n man wat rustiger leef, meer lees en uitgaan, meer slaap inkry en niks meer as agt ure per dag werk nie.

Ding is, ek het groot planne vir hierdie mens wat ek eendag gaan wees. En om hierdie planne te realiseer, moet ek myself eenvoudig op hierdie stadium ’n bietjie harder druk.

21:20

Uitstaande kenmerke wat jou lewe op stadium X gedefinieer het wat teen stadium Y “verval” het, en kenmerke wat in stadium Y jou lewe definieer, wat op stadium X geen rol gespeel het nie. Dit impliseer dat jy op een of ander stadium stadig maar seker opgehou om X te wees, en begin het om Y te word.

Dus: stop, en begin om te word.

21:23

Sekerlik is daar vele mense wat nooit bewus is van hierdie proses nie. Die intellektueel verligte persoon is nie net bewus van hierdie proses nie, maar kan berekend wees daaroor.

______________________