Insigte op Vrydagoggend 17 Desember 2004, soos hulle gearriveer het

1) ’n Vrou stap uit by ’n tempelparafernaliawinkel. Ek sien sy’s swanger. Ek kyk na haar gesig en reken daar en dan sy lyk nie te “akademies” nie. Ek dink: een opsie vir ’n man wat sy eie idees het oor die lewe en wat nie gretig is om sy hoë waardes en beginsels af te water nie, is om af te haak met ’n vrou wat hy nie as sy gelyke beskou nie.

Die voorwaarde vir sukses in so ’n verhouding is dat hy welgesteld moet wees. Hy moet die “baas” wees in die tradisionele sin waar die man aan die hoof van die huishouding staan, en ook in die moderne sin waar die persoon met die geld die grootste sê het in hoe dinge gedoen word. Die vrou in dié geval hoef nie “haar plek te ken” soos die geval was in sommige gemeenskappe vyftig of honderd jaar gelede nie; sy hoef nie kaalvoet in die kombuis rond te staan heeldag nie; en as sy sê sy’t genoeg kinders gebaar, sal hierdie man dit so aanvaar. Maar hy sal die “baas” wees in die sin daarvan dat die huishouding oor die algemeen bestuur sal word volgens sy idees en opinies.

Die ander ekstreem – ter wille daarvan om by ’n meer ideale middel te kom – is presies die teenoorgestelde: ’n vrou wat hierdie man se intellektuele meerdere is, sy leermeester, sy voorsiener …

In die middel is ’n vrou wat hy as sy intellektuele gelyke sal beskou; ’n vrou met wie hy sinvolle redenasies kan voer, wat ewe veel verantwoordelikheid, en ewe veel gesag sal hê in die bestuur van hul huishouding; ’n vrou wie se persoonlike agenda en lewensuitkyk sal strook met sy eie; ’n vrou na wie se emosionele, fisiese en spirituele behoeftes hy kan omsien, net soos die vrou na syne sal omsien.

2) In die klas, ’n paar minute later, is ek besig om die Engelse name van ’n dosyn groente aan ’n groep vyfjariges te leer. Ek vra vir die een kind – ’n nuweling – iets in Chinees, en ek reken dat hy nie te verbaas lyk dat ek as Westerling, nie een van “sy mense” nie, Chinees kan praat nie. Dink ek verder, “[vervolg]”

* * *

Nuwe insig! Is daar iets soos “Tevrede Gegewe Self”? Ek glo dit is ’n kwessie van graad, op ’n spektrum wat strek van “absolute selfminagting, gevaar vir self en gemeenskap” tot “oortuig sy is ’n inkarnasie van een of meer gode”. (Interessant dat in beide gevalle die persoon ’n goeie kans staan om opgesluit te word in ’n inrigting.)

In die middel kry jy … sal ons maar sê, 99% van die volwasse mensdom? Die formule, Konfronteer (aanvaar, verander), Definieer, en Word is dus geldig vir meer as nege uit elke tien mense!

Vraag: Inligting, opsies en moontlikhede spruit steeds uit ’n partikulêre bron. Watter bron? Meestal die Gegewe Bron, en in die geval van ’n minderheid, uit Meer As Net Gegewe Bron.

Nog ’n vraag: Wat is jou Gegewe Bron?

Laaste vraag: Wat is gegewe? (Stel ’n lys op …)

* * *

(Terug na die vorige nota:)

Dink ek toe verder: Hierdie kind verwag heel moontlik dat alle volwassenes (ten minste) Chinees kan praat, want dit is sy gegewe taal, en hy’t sover nog geen rede gehad om die verskynsel van Chinees as Absolute Taal te bevraagteken nie.

Wanneer sal hy die absolute waarde van die Chinese taal bevraagteken? Wanneer hy gekonfronteer word met, of homself bevind in ’n omgewing waar ’n ander taal, soos Engels of Japannees of Spaans, deur meeste lede van die gemeenskap beskou word as dominant.

Dit is op hierdie oomblik, wanneer wat voorheen beskou was as absolute gegewe blootgelê word as nie die enigste moontlikheid nie, wat die vonke begin spat op die skrynwerkerstafel van identiteit.

[’n Ander voorbeeld wat genoem kan word, is dié van ’n jong persoon wat sy of haar vormingsjare in relatiewe isolasie deurgebring het, en wat nie net partikulêre taal nie, maar ook partikulêre religieuse verwysingsraamwerk as absoluut beskou het. Wat gebeur wanneer hierdie jong persoon skielik ’n betekenisvolle periode van tyd spandeer in ’n omgewing waar ’n ander taal, en ander religieuse simbole as standaard beskou word? Natuurlik hang dit af van persoonlikheid en persoonlike situasie, maar die waarskynlikheid is groot dat die persoon vrae sal begin vra aan mense wat hulle sal sien as gesagsfigure, en uiteindelik ’n ander identiteit sal ontwikkel as wat die geval sou wees indien hulle sou voortgaan om in relatiewe isolasie te leef.]

3) Volgende klas dink ek hoe sommige taalkundiges reken kinders moenie te vroeg ’n “vreemde” taal geleer word nie, soos in die geval van Engels in Taiwan.

Reken ek, as Engels van jongs af as ’n gegewe aangebied word veral by die huis – die belangrikste bron van gegewendheid, sal dit nie bevraagteken word nie, maar heelhartig geabsorbeer word saam met al die ander gegewe data.

Wonder ek toe watse data gee ouers – as primêre gewers van data – aan hul kinders, nie net in terme van taal nie, maar in terme van morele waardes, gedrag, en dan veral vir latere toepassing, moontlikhede vir ’n volwasse bestaan. Natuurlik sal ’n duisend stemme in ’n honderd verskillende tale opgaan wat almal verskillende antwoorde gee, of soortgelykes, met verskillende detail. My punt, egter, is dit: verander die gegewe, en jy beïnvloed fundamenteel die eindresultaat. (En weet ouers wat hulle gee?)

Ten einde reken ek, ek het nie al hierdie insiggewende brokkies data ontvang toe ek in die bed gelê het, of toe ek agter die rekenaar gesit het nie. Ek het dit gekry in klaskamers gevul met ’n klomp raserige kinders,  en ook buite in die straat op pad na die klaskamers.

Gevolgtrekking? Verskynings buite my woonstel dien ’n doel, en voorsien in vele gevalle stimulus vir nuwe beskouings en insigte.

____________________