INFAME LEUENS, KOMPROMIE, VERANDERING EN NOG ‘n KLOMP ANDER GOED

Deur 06 - 02 - 2004

Dis ‘n infame leuen om te beweer ek het gesê ek gaan einde Februarie huis toe. Ek het dit wel Juliemaand verlede jaar plegtig aangekondig as my plan, maar toe ek my werk by die kleuterskool bedank einde Augustus, was die uitdruklike implikasie daarvan dat ek moontlik nie die plan sal kan uitvoer nie. Dit was die ooreenkoms met myself, en ek het dit so aanvaar.

Ek het wel laas Desember soortgelyke voorstelle begin maak – en halfgeweefde baniere met potlood-propaganda begin rondswaai in die nag, as niemand kyk nie.

Ek pleit ook skuldig daaraan dat ek spesifiek einde verlede jaar aan my vriendin N.S. genoem het dat ek ‘n vliegtuigkaartjie bespreek het vir die 4e Maart, en dat ek effens lus is om “droog te maak”. In Januarie het ek egter aan haar begin toegee dat dit nié gaan werk nie. Dit sal dus te verstane wees as sý my geloofwaardigheid bevraagteken omdat ek hierdie week skielik weer na die Maart-plan as ‘n moontlikheid begin verwys het.

Verder kan dit genoem word dat dit effens onrealisties is om einde Februarie terug te gaan Suid-Afrika toe. Ek sal na vyf jaar in Taiwan – waar ander mense binne twee jaar genoeg geld maak om eiendom te koop in Suid-Afrika – teruggaan met R3000. En my finansiële verpligtinge (studieskuld en, glo dit of nie, ‘n lewenspolis) beloop ongeveer R1700 per maand.

Ek is nie bang daarvoor om weer arm te wees nie. Ek stel ook nie belang daarin om ‘n kunsmatige ego op te bou met duur klere en uitspattige haarstyle nie. Maar daar’s ‘n tyd vir propaganda en toesprake, en dan’s daar ‘n tyd om werklike beperkinge te erken.

As finansiële beperkinge een belangrike aangeleentheid is om te konfronteer, is my onvermoë om langer in Taiwan aan te bly nog een. Daar is sekerlik iets soos massa wat ‘n kritieke punt bereik, en wat dan dien as ‘n katalisator vir iets anders. Ek is op alle gebiede gereed om Taiwan te verlaat. Op alle gebiede, behalwe geld.

Ek kán kompromeer. Ek kan Maandag my mediese toets gaan doen (dit word al hoe verder uitgestel) en my visum hernu. Ek kan vir so min as drie of vier maande meer klasse doen, miskien gelukkig raak met ander projekte, en dan met meer as net die huidige drie duisend in Middelburg aankom….

Die aaklige werklikheid wat moontlik nie tussen die lyne uitspring en jou as leser aan die strot gryp nie, is dat ek lanklaas so naby aan opgee was. Vir wat doen ek al hierdie dinge? Ek wil uiteindelik my eie literatuur publiseer? So what? Ek swem stroom-op, op pad waarheen? ‘n “Buitengewone lewe”? Alleen?

Ek het gisteraand woedend geraak vir die sesjarige tweeling vir wie ek elke Donderdagaand en Saterdagoggend klasgee. Ek hou regtig van hierdie twee kinders – hulle is slim, en oulik soos sesjariges maar kan wees. En hulle pa herstel bromponies vir ‘n bestaan, wat die indruk by my tuisbring dat ek nie in diens is van ‘n ryk besigheidsman wat sy kinders grootmaak om met ewe veel arrogansie as hy hulle plekke langs hom in te neem wanneer hulle volwassenes is nie; ek lewer ‘n diens aan ‘n bloukraagwerker wat vir sy twee slim kinders ‘n goeie opvoeding wil gee. Dis ‘n klas wat ek gewoonlik met toewyding benader, wat ek meeste van die tyd geniet, en selfs vervullend vind as ek sien hoe hulle Engels verbeter. Maar toe hulle gisteraand vir twee minute lank nie oplet nie, het my interne alarm begin met sy weeklaag dat ek op daai oomblik besig is om my tyd, en derhalwe my lewe te mors.

En ek praat van méér klasse? Is ek fokken mal?!

(Klaas Flous het ‘n boot gebou uit die oorblyfsels van halfverbrande meubels en kitare, maan toe gevlieg en ‘n organisasie begin met die naam van Al-Qassandra. Hy’t klippe gegooi na besete robotte – wat verbasend baie gelyk het soos Taiwanese taxi-bestuurders – wat hom wou dwing om in proefbuise te pis, maar die klippe het net in die lug bly sweef…)

Ek dink dit sal goed wees om my huidige sit-u-asie te dekonstrueer, die helfte weg te gooi, die ander helfte by die venster uit te bliksem, en wat oor is op my kop te laai en volksliedere te neurie terwyl ek begin werk soek in Mainland China. Ek verlang na my susters. En ek verlang na my ouers. Ek glo almal het my nodig, en almal se lewens sal kleurloos wees as ek nie wilde beloftes maak wat nie eens ‘n ryk advokaat sou kon nakom nie.

Ek het ‘n ondankbare taak wat ek moet verrig: Ek moet myself oortuig dat daar hoop in die wêreld is, en dat mense nie noodwendig hulleself aan die slaap hoef te huil omdat hulle elke oggend 7:00 moet opstaan om ‘n lewe te kan onderhou wat hulle nie wil hê nie. En dit terwyl meeste mense klaar dinge vir hulleself uitgesorteer het en antwoorde uitgedink het waarmee hulle tevrede is, en in die eerste plek nooit nodig gehad het om soveel vrae te vra nie.

Wat beteken dit as iemand ‘n ander een op straat groet?

Ek weet!

Maar wie de fok gee om?!

Mens hoef nie kinders te hê om te voel jou lewe is iets werd nie, want…

“Ons wíl kinders hê.”

O, goed dan, maar wat doen julle met julle vrye tyd?

“Ons kyk TV.”

Presies! En dis die punt wat ek wil maak…

“Ons hou daarvan om TV te kyk. Dit maak ons gelukkig.”

O.

Ek dink ek gaan geld begin steel van die armes, en dit vir ryk mense gee – in die hoop dat hulle dan van my sal hou. Miskien nooi hulle my uit na hulle weelderige strandhuise, om saam met hulle en ‘n paar ander rykes te braai. (“Dit sal net ‘n paar van ons goeie vriende wees,” sal hulle sê.)

Dan, na die aartappelslaai en braaibroodjies en die beste boerewors in die dorp, sal hulle my vra om die aand se vermaak te verskaf. Ek sal stories vertel van jare in vreemde lande, maar ek sal dit so vertel dat dit regtig snaaks sal wees. Ek sal niks byvoeg van emosionele armsaligheid nie, want dit sal niemand laat lag nie.

Ek sal ook, tot hulle groot vermaak, vir hulle vertel van arm mense, en hoe hulle partykeer voel hulle waardigheid word aangetas deur balju’s en polisiemanne wat eersgenoemde geselskap hou terwyl hulle meubels en braaipanne tel wat op skuld gekoop is maar nooit afbetaal was nie omdat iemand iets vir die baas gesê het en toe word hy afgedank. Hulle sal eers lag daaroor, maar dan sal die gasheer skielik opstaan en my beveel om vir almal nog bier te gaan haal.

Dan sal ek wegskarrel, en nie die tamatie voel wat een van die laaitjies in die rigting van my kop gegooi het nie.

Wat is die doel van my lewe? Om aan die lewe te bly. Maar ek pleeg stadig maar seker selfmoord deur te veel te rook, en deur nie myself die basiese vreugdes te gun van intieme gemeenskap met betekenisvolle ander nie.

Is ek gedoem tot mislukking in al die edel ondernemings wat ek die afgelope vyf jaar aangepak het? Is dit die enigste moontlike resultaat, omdat ek nie die durf het om te doen wat ek moet doen as dit sal beteken dat ek die bietjie gemak en sekuriteit moet opgee wat ek aanmekaar getimmer het die afgelope paar jare nie? Is dit omdat ek nie geloof het nie? Is dit omdat ek nie die vaagste fokken clue het wat regtig belangrik is nie? Is dit omdat ek nie volgens die reëls wil speel nie, maar nie omdat ek ‘n rebel is nie, net omdat ek dit nie kan verduur as iemand vir my sê wat ek moet doen nie? Is daar ‘n plek in hierdie wêreld vir ‘n “skrywer” wat weier om kortverhale of artikels te skryf, te trots is om in die straat te slaap, en te hardkoppig is om meer klasse te kry om seker te maak die volgende repatriasie plan werk uit?

Vat ek die polarisasie van ryk-en-arm te ver? Neem ek my eie lewe te ernstig op? Begin dit teen my te tel dat ek ou vrese en onverwerkte woede en wie-weet-wat-nog gebruik vir inspirasie?

Ek glo ek het in ‘n vorige lewe ‘n ontydige en betekenislose dood gesterf, en ek is nou nog kwaad daaroor. “Ek” poog om hierdie lewe van “my” te kaap in ‘n poging om iets terug te wen wat ek verloor het in ‘n vorige lewe. Wat was dit? Loopgraaf-dood in die Eerste Wêreldoorlog? Moord in ‘n stegie in ‘n vorige eeu? Klip teen die kop toe ek fluit-fluit verby ‘n groep betogers gestap het?

Betaal ek vir sondes van ‘n vorige lewe? Gaan dit oor verlossing-en-versoening? Of gaan dit net oor swakhede in my persoonlikheid wat maak dat ek nie die regte dinge kan doen vir die regte resultate nie?

Is die “regte” resultate ‘n “betekenisvolle lewe” of ‘n “buitengewone lewe”? Is ek ‘n mal, gewonde dier wat die wêreld wil verskeur, maar omdat ek bang is die wêreld verskeur mý, skryf ek halfhartige prosa in ‘n poging om weg te kom en in die proses ten minste ‘n bietjie van my waardigheid te behou? Sal een plus een aan die einde twee blyk te wees?

Die prys vir repatriasie – wat dit ook al beteken – was nog nooit laer nie. Maar die prys vir my geluk was nog nooit hoër nie.

Die kaarte is op die tafel, en die dobbelstene gelaai. Die Waarheid bestaan uit vyf triljoen, drie-honderd twee-en-tagtig duisend, sewe-honderd-een-en-negentig miljoen, nege-honderd drie-en twintig duisend, ses-honderd vyf-en-veertig stukkies. Ek het my twee of drie stukkies bygedra. Kan ek maar loop?

___________

Hierdie inskrywing dateer: 06 - 02 - 2004 om 20:13 en sorteer onder Die Februarie-Plan. [...]

Gesluit vir kommentaar.