SONDAG 8 JUNIE 2003
Die Heersende Ekonomiese Stelsel van die Moderne Geïndustrialiseerde Wêreld eis daagliks slagoffers. Talle volwassenes eindig op as mislukkings in ’n omgewing waarin ook húlle hul koppe wou lig en sê: “Neem my ook ernstig op. Ek verdien ook om met respek behandel te word.”
As jy misluk as ’n volwassene in hierdie wêreld, en jy slaag nie daarin om weer op jou voete te kom nie, ly jy vir die res van jou lewe onder finansiële druk, en verduur jy teleurstellings, insidente waarin waardigheid prysgegee moet word, ontberings wat noodwendig jou lot is as jy nie genoeg geld het nie, vernederings, en trots wat gesluk moet word.
Ek het hierdie ding besef – dat die wêreld sommige volwassenes onderkry, dat hulle struggle vir al wat hulle werd is maar as die game teen jou gedraai het, jy moontlik nooit weer aan die wenkant sal wees nie. Ek het dit wysgeraak nie verlede jaar, of in Korea, of toe ek op universiteit was en my bewussyn van die wêreld meer gesofistikeerd geraak het nie. Ek het dit besef lank voor ek oud genoeg was om dit behoorlik te verstaan.
Van toe af het my broek effens gebewe elke keer wat ek gedink het dat my beurt ook gaan aanbreek om teen die groot manne in die kryt te klim. Dieselfde ouens wat hardebaarde plat bliksem, en dan hulle vrouens hardhandig uit die kryt verwyder as hulle wil help. My beurt sou kom, het ek altyd geweet, die dag dat my naam geroep sou word, wanneer die manne sou opkyk om te sien hoe lyk hierdie “Brand Smit” kêrel. En as hulle sien dis ék, sal hulle vir mekaar kyk, hulle wenkbroue lig, en glimlag. Want hulle sal weet: “Hierdie ou behoort nie vir ons te veel probleme te gee nie.”
Ek is die enigste seun onder drie kinders. My ma het altyd gedink ek is ietwat “spesiaal” (in die goeie sin, maar dis ook waar dat my ouers my op ’n stadium wou laat toets het vir verstandelike vertraagdheid), en ek was altyd geïnteresseerd in dinge van ’n spirituele aard. Dalk is dit nie soveel van ’n verrassing dat die idee by my posgevat het dat dit miskien nie “my lot in die lewe” is nie – om na universiteit werk te soek, en te trou en kinders te kry … en dan een fout te maak en dan is alles opgefok vir almal vir die res van hulle lewens.
“Miskien moet ek ’n skrywer word,” het ek gereken. “Ek glo mos ek het ’n spesiale roeping wat ek moet uitvoer!” Meantime is ek net in my moer in omdat niemand vir Boetie vertel het dis nie altyd hoe dit gaan in die Grootmenswêreld nie …
So kruip ek nou al vir veertien jaar lank weg in die Wêreld van Volwassenes – waaraan ek by verstek behoort omdat voldoende tyd al verby gegaan het sedert my geboorte.
Die Bybel sê die sondes van die vaders word besoek aan die kinders. Bruce Springsteen sê, “They ain’t gonna do to me what I watched them do to you.” Wat goed en lekker uitdagend is as jy aan die einde ’n miljoenêr rockster is, maar wat doen jy as jy ’n ongepubliseerde skrywer in selfopgelegde ballingskap is, en jy wil huis toe gaan?
In die naam van die vader
So sal ek die wêreld dan benader
______________________