Identiteit, onbekende situasies, en ’n onbewaakte oomblik

SATERDAG 10 MEI 2014

My identiteit funksioneer optimaal binne sekere situasies. Hierdie situasies sluit in

– ’n verhouding met ’n spesifieke persoon;

– om ’n buitelander te wees in Taiwan;

– om in Taiwan te woon spesifiek as Suid-Afrikaner;

– om op my eie te wees; en

– om te werk as Engelse onderwyser.

Sal my spesifieke identiteit goed genoeg werk as ek skielik onderhandelings moet doen met iemand in Meksiko vir twee ton staal? Wat van as ek moet gaan werk op ’n skaapplaas in Australië?

’n Uitdaging soos hierdie sal afhang van hoe aanpasbaar my identiteit is. Dalk is daar aspekte van my identiteit in ’n intieme verhouding wat van toepassing kan wees. Of dalk is daar aspekte van my identiteit as Suid-Afrikaner in Taiwan, of as Engelse onderwyser, of waar ek op my eie aan my eie projekte werk, wat aangepas kan word vir ’n situasie wat betekenisvol verskil van die omgewings en van situasies waar my identiteit optimaal funksioneer.

As ek nie my identiteit kan aanpas by ’n nuwe omgewing nie, of in ’n situasie waarmee ek nie bekend is nie, is ek in die moeilikheid.

Dit volg derhalwe dat ek óf moet bly in omgewings en situasies waar my partikulêre identiteit optimaal kan funksioneer, óf ek sal noodgedwonge my identiteit moet … verbreed. (Hoe verbreed ’n mens jou identiteit? Onder andere deur jouself bloot te stel aan ’n wye verskeidenheid situasies, omgewings, ervarings, en aan ’n wye spektrum van mense.)

Die vraag is ook, hoe goed wil jy hê moet jou identiteit funksioneer in daai onbekende situasie of omgewing? Wil jy ’n goeie indruk maak op álmal wat jy teëkom? Wil jy erken word as gesaghebbend op een of ander gebied? Of wil jy net ’n sekere taak verrig, waar jou unieke identiteit en persoonlikheid vir tyd en wyl tot ’n mate opgehef kan word?

MAANDAG 19 MEI 2014

As jy 23 is, het jy nie veel méér nodig as jou ambisie, jou drome, jou energie, en jou geloof in jou toekoms nie … of eerder, min mense in jou lewe verwag dat jy meer op die tafel moet kan neerlê as dit.

As jy 43 is, is ambisie, drome, energie en praatjies nie meer goed genoeg nie. Vriende, familie, kollegas, selfs vreemdelinge verwag dat jy op 43 ’n huis sal hê, ’n lewensmaat, ’n stabiele werk, ’n goeie inkomste, en heel waarskynlik kinders. As enige van hierdie dinge ontbreek, is sommige mense geneig om te wonder wat verkeerd gegaan het, en wanneer.

En so nou en dan, in ’n onbewaakte oomblik, wonder jyself.

____________________