Identiteit, lewe, kennis, en skroewe

DINSDAG 15 JUNIE 2004

My identiteit, my lewe (I)

Ek weet nou wat my so rigting laat verander het op Sondag 2 Mei/Maandag 3 Mei. Ek het daai Sondagmiddag met my ouer suster en met my ou pêl in Johannesburg – en met albei se babas – gesels op die telefoon. Ek was diep beïndruk met hoe hulle lewens ’n definitiewe karakter vertoon, terwyl ek steeds “op pad is huis toe”. Ek het ’n punt bereik, daai middag, wat ek besef het dat ek ’n intense begeerte het om ook te kan sê: Hierdie is mý lewe, en ook mý lewe is goed.

* * *

Almal het hulle eie spesifieke lewens. Dan draai die kamera in jou rigting, die mikrofoon word in jou bakkies gedruk, en die onvermydelike uitdaging word gerig: Identifiseer jóú lewe.

En die antwoord: “Ek is Piet X wat woon in Stad Y, en ek vul my daaglikse bestaan met …”

Oorgelewerde kennis, en ou skroewe

Baie mense doen die “regte ding” sonder om te veel daaroor te besin. Vir my het dit lank gevat om sekere dinge te leer – die tipe dinge wat, as ek vir mense sal sê, “Hierdie is die gevolgtrekkings waartoe ek gekom het na jare se bepeinsing,” hulle sal reageer met, “Ons weet klaar hierdie dinge. Ons pas dit al vir jare in ons eie lewens toe. Het jy regtig nodig gehad om te sit en dink daaroor?”

Wat is verkeerd met my? Het ’n skroef jare gelede al losgegaan in my kop? Is ek onnosel? Nee (moes ek baie vinnig skryf voor ek die moontlikheid kon oorweeg).

Wat gebeur het was dat ek geloof verloor het in dit wat aangebied was as “die waarheid” en “die manier hoe dinge werk”. Ek het alles bevraagteken, en moes derhalwe van vooraf my eie wêreldbeeld en verwysingsraamwerk konstrueer, met behulp waarvan ek kon funksioneer as ’n volwassene buite die malhuis.

Uiteindelik het ek wel sommige “ou” waarhede opnuut aanvaar – die verskil is dat ek wéét hoekom. En om te verstaan hoekom ek glo waarin ek glo, moet jare se lewe aan die “buitekant” die moeite werd maak.

WOENSDAG 16 JUNIE 2004

My identiteit, my lewe (II)

Ek het moeg geraak om te hoor hoe ander mense praat van hul eiesoortige lewens, maar as ek my mond oopmaak om te praat oor mý lewe, dan’s dit net vae planne en vae beloftes wat daarop neerkom dat ek nie tans ’n lewe het nie, “maar ek is op pad”.

Die waarheid is, ek hét ’n lewe! Dit is nie volmaak nie, maar dis goed! En dis mý lewe!

______________________