Godsdiens – roeping – om goed genoeg te funksioneer

SONDAG 1 MEI 2005

Vlugtige gedagtes:

1. Definieer hoe jy jouself sien en wie jy wil wees – asook die gepaardgaande rol wat jy wil speel en eindresultate waarvoor jy jou lewe wil aanwend; die daaglikse proses van Being Who You Are/Who You Defined Yourself To Be as persoonlike religie. Met ander woorde, gevorderde selfkennis en selfdefiniëring lei tot die vervanging van geïnstitusionaliseerde godsdiens, of oorgelewerde of gegewe “waarheid”, as religie – dit is, die meganisme waardeur jy deel vorm van alles wat is, was en moontlik nog gaan wees. Die self as persoonlike god? Nee. Om dit te impliseer sal wees om die punt te mis, of om ’n pampoen ’n tamatie te noem.

2. Godsdiens dien ’n doel – identiteit, om te behoort aan ’n groter werklikheid, ensovoorts. Spesifieke inhoud van godsdiens – oorgelewerde tradisie en beskouing van waarheid, plus rituele, gemeenskap, ensovoorts – aktiveer die frankenstein wat godsdiens in beginsel is [godsdiens, enige godsdiens, is soos die liggaam wat in teorie in staat is om dinge te doen en resultate te bewerkstellig; spesifieke inhoud is soos die “siel”, of lewensenergie, wat die liggaam lewendig maak en selfs persoonlikheid gee]. Wat sê dit dan van spesifieke inhoud – die Christusverhaal, of Mohammed en die Koran, of enige ander spesifieke inhoud?

MAANDAG 2 MEI 2005

10:54

(Onthou Strydbyl Maandag, 3 Mei 2004?)

Ek staan in die kombuis, wat sedert gisteraand effens anders lyk, steeds in Laan 2, nommer 4-2, Benewelde Lig Nuwe Dorp. My bakkie muesli met jogurt, vars piesangstukke en gehalveerde druiwekorrels wag langs my koppie warm groentee vir my om hierdie nota klaar te skryf. Savuka sing Track 5 (“Ibola Lethu”) van my herwinde Aiwa hi-fi se kant af, die son skyn lekker, die waaier waai sy eie ritme uit, die potplante op die vensterbank kom mooi aan, en in die agterste vertrek is [N.] besig op die oefenfiets … Strydbyl Maandag? Twaalf maande, en ’n miljoen myl weg.

20:32

Enkele gedagtes:

Punt 1: Moses het die volk van Israel nie die Beloofde Land binnegelei nie, maar net tot by die grensarea. Om hulle in te vat, was nie sy roeping nie; dit was nie sy doel, rol of funksie nie. Dit was wel sy roeping, sy doel, rol en funksie om hulle deur die woestyn te lei en te bring tot op die rand van die Beloofde Land.

Punt 2: Ek en [my vriendin, E.] staan by Dorex se toonbank en bestel drinkgoed. Ek sien die lang ou met die deurmekaar hare tree na vore – omdat hy Engels kan praat, en sy vroulike kollega tree terug – omdat sy nie Engels kan praat nie. Ek plaas my bestelling, reageer met voldoende maar nie oordrewe beleefdheid nie, haal geld uit my beursie, oorhandig dit, ontvang kleingeld en ’n kwitansie en ’n strokie met ons bestelnommer op, en maneuver tussen die tafels en enkele mense na waar ons gaan sit, wagtende vir ons bestelling.

Twee gedagtes registreer: 1) ek het goed genoeg gefunksioneer in die omgewing waarin ek myself bevind het; ek was inderdaad ’n redelike en beskaafde organiese robot; en 2) presies so ’n situasie en gepaardgaande funksionering kon my waansinnig gemaak het as die regte dinge nie gekliek het op die regte tye nie.

Punt 3: In ’n sogenaamde kommunistiese staat is slegs vyf tot vyftien persent van die bevolking lede van die Kommunistiese Party. Die res vervul hul funksies, maak plekke vol wat min of meer belangrik is, en speel hulle min of meer belangrike rolle. Die lede van die Party het, in beginsel, belangriker ideologiese rolle om te vervul – hulle is inderdaad verantwoordelik, of dan relatief tot die res van die bevolking, méér verantwoordelik, vir die sukses van die rewolusie.

Dit laat my toe daaraan dink dat ek dalk soos ’n idealistiese rewolusionêr die boodskap probeer verkondig dat almal ewe belangrik is, dat almal belangrike rolle het om te vervul, dat almal hul ware doel, rol en funksie moet ontdek of definieer, en dit dan moet vervul om werklik waarde aan hul lewens te gee.

Maar, miskien is sommige mense belangriker as ander – in die Groter Beskouing van Dinge. Miskien is sommige mense se roepings, rolle, funksies en doele wat hulle moet nastreef doodgewoon belangriker as ander mense s’n.

Laastens, in ag genome die gedagte dat om “Brand Smit” te wees my persoonlike religie is, wil ek net weer noem dat ek tans nie voldoende ritualistiese bevestiging ervaar van my spesifieke verbintenis aan die Groter Waarheid nie. Ek maak notas, ek leer Chinees … en ek gee klas en werk aan EFL-materiaal, wat belangrik is om inkomste te verdien wat omgewing en behoeftevervulling bevorderlik sal maak vir my primêre arbeid.

Dit is egter van kardinale belang dat ek so gou as moontlik moet terugkom by HOOFSAAKLIK skryfwerk.

______________________