Fokkol om te sê – godsdiens en identiteit

VRYDAG 14 JANUARIE 2005

10:13

Verbeel jouself jou kop word van agter afgekap met ’n vlymskerp swaard, en jy was in die middel van ’n gedagte – en jy’t geen benul gehad dat daar eens ’n moontlikheid was dat dit kon gebeur nie.

11:42

“Private property is the root of all evil! Abolish all private property, and you will have started on the road to a more just, classless society!” was heel moontlik ook ’n “epiphany – a sudden striking understanding of something”.

14:39

Die skrywer staan by die antieke kassie en krap woorde met ’n blou pen in sy notaboek. Hy is bewus daarvan dat sy huidige selfbewussyn die … idee insluit dat hy gereeld by die kassie staan en notas maak.

Hy herken die handskrif waarmee hy nou woorde vorm as soortgelyk, indien nie presies dieselfde nie, as die handskrif waarin vorige aantekeninge ook gemaak is.

Die rede hoekom hy nou hier staan – en as die buurman oorkant die stegie sy kop uit die venster steek en maak asof hy net die wêreld bespied, sou dit ook aan hom voorkom asof die skrywer hier staan en doen wat hy altyd doen – is egter nie om ’n insig te noteer nie. Hel, hy’s skaars bewus van homself as die Groot Noteerder, die selfaangestelde Sekretaris van Insigte! (Al waarvan hy tans, Vrydag 14 Januarie 2005 om 14:39, bewus is, is dat hy ’n mens is, effens koud kry, effens honger is, lus is vir nog ’n sigaret, en nie lus is vir drie ure se klasgeëry later vanaand nie.)

Wat sy hand geforseer het na hierdie notaboek, die primêre motivering om ink te spil oor ’n bladsy onbevlek tot enkele minute gelede, die oorsaak vir hierdie daad nie werklik eerbaar of eens sinvol nie – en sekerlik sal dit interessant wees om later die redes hiervoor uit te sorteer – is die feit dat hy op hierdie oomblik absoluut fokkol het om te sê.

19:11

Die groot probleem met “waarheid” is dat die grootste bron van waarheid, tradisioneel gesproke, religie is – en religie is ook een van die grootste bepalers van identiteit. Hoe kan religie beide ’n draer wees van universele waarheid, en van spesifieke identiteit?! [Is dit hoekom sendelinge glo dat identiteit ook min of meer universeel moet wees? Hoekom, as byvoorbeeld die Hindoe homself bekeer tot die Christelike religie, hy tot ’n groot mate moet verwesters?]

______________________