ERKENNING & VERSKYNING

[Die leser mag dalk wonder wat die doel is van die enkele notas oor middagetes en Saterdagaandbraais waar dieselfde misterieuse jong vrou toevallig elke keer teenwoordig is. Behalwe dat ek hoop om die teks bietjie op te kikker met die idee dat ek nie ’n vleeslose skim is wat heeldag agter sy rekenaar of notaboek deurbring nie, is hierdie stukkies teks onlosmaaklik verweef met die meer intellektuele aangeleentheid van … ERKENNING en VERSKYNING.]

———–

DINSDAG 30 NOVEMBER 2004

Nota I: Die SKRYWER se klagte

Ek is in ’n situasie waar ek twee 25-jarige dames bevriend het, met die oog op romantiese avonture met een van die twee. My klagte is dat ek glo ek verskyn nie soos ek graag wil verskyn nie.

As wie en wat sal ek wil verskyn? As … (tromgeroffel) … die Skrywer.

WOENSDAG 1 DESEMBER 2004

Nota II: Die insig tref

02:40

Solank ek “ongepubliseerd” is, kan ek nie erkenning kry vir die belangrikste werk wat ek gedoen het die afgelope tien jaar nie, en kan ek derhalwe nie verskyn aan ander (lees: ’n vrou tot wie ek aangetrokke is) soos ek myself sien nie.

08:32

In ander woorde, ongepubliseerd beteken geen erkenning, beteken onakkurate of gebrekkige verskyning.

DONDERDAG 2 DESEMBER 2004

Nota III: Die insig tref met groter impak

“It’s so simple only a genius could have thought of it,” het Einstein van Jean Piaget gesê. Wat is so eenvoudig in my geval? Die konneksie tussen ERKENNING en VERSKYNING!

Ek kan nie glo ek het dit nie vroeër al opgelet nie! Dit spreek ook boekdele dat erkenning iets was wat ek met suspisie bejeën het, want dit sê “behoefte” en “ander mense” en doen dinge sodat mense X, Y, of Z moet dink van jou.

Tog, as jy nie erkenning kry vir jou belangrikste werk nie, kan jy nie verskyn soos jy jouself sien nie. Dis so eenvoudig dat mens onnosel moet wees om dit nie te begryp nie! (En ek is bekend daarvoor dat ek op die beste van tye ’n bietjie stadig kan wees …)

Die vraag wat noodwendig dan by jou opkom, is waarvoor wil jy erkenning ontvang?

______________________