Ellendes wat my jaag – besonders donker benadering

WOENSDAG 14 JUNIE 2006

“Hoe op aarde kan ons die volle waarheid weet as ons nie al die data het nie? Hoe op aarde kan ons absolute stellings maak? Ons aanvaar dinge soms in geloof, maar hoe kan ons van ander mense verwag om dieselfde artikels van geloof te aanvaar?” (uit ’n gesprek oor die maan)

VRYDAG 16 JUNIE 2006

Sewe jaar gelede het ek gesê twee ellendes jaag my al vandat ek kan onthou. Alleen is ek nie meer nie, tog is eensaamheid iets wat maar altyd met ’n mens is omdat selfs dié met wie jy intiem betrokke is, nie altyd jou vrese en jou sorge deel nie. Armoede, of dan om platsak te wees, is ’n ellende waarmee ek nog stry dat die bloed spat.

DINSDAG 20 JUNIE 2006

Soos ’n paranoïese diktator in ’n polities onstabiele land, of soos konings in die Middeleeue wat altyd ’n oog moes hou op ander lede van die aristokrasie, so is dit met my: as ek nie my energie voltyds fokus op iets nie, draai my energie op die bron – ekself.

DONDERDAG 29 JUNIE 2006

Onlangse onthullings het die gedagte gebring dat my Internet projekte herinner aan ’n paar ander projekte uit my persoonlike verlede. Ek spring weg met tien keer meer entoesiasme as verstand, en geen behoorlike voorbereiding, beplanning of idee van presies wat dit is wat ek wil doen nie. Ek doen ’n klomp werk, dan kom ek tot stilstand, dan kyk ek wat ek het en waarheen ek op pad is, en dan beweeg ek verder na deeglike oorweging. Ek moet ook erken dat ek onwillig is om die kritiese eerste drie maande of so na ek ’n idee gekry het vir ’n projek, te spandeer op voorbereiding en beplanning.

Die goue lyntjie om hierdie besonders donker wolk: ek is besig om daaraan te werk.

______________________