Ek besluit die doel van my bestaan

DINSDAG 1 MAART 2011

Ek kyk na ’n stortkop, en ek sien iets wat se bestaan ’n doel dien. Ek weet ook dit is iets wat ontwerp is met ’n bepaalde doel in gedagte, en vervaardig is om hierdie doel te dien.

Sommige mense glo dit is logies om af te lei as daar ’n doel aan jou bestaan is, dat jy – jy spesifiek – deur ’n Onsigbare Mag ontwerp en vervaardig is met sekere spesifikasies om hierdie doel te dien.

Dit sal oneerlik van my wees om te laat blyk dat ek ook so glo.

Waar laat dit my? Een moontlikheid is om te aanvaar dat my lewe geen doel dien nie.

Gestel egter ek besluit my lewe moet een of ander doel dien. In so ’n geval kan ek my lewe, selfs my persoon sover dit moontlik is, ontwerp vir hierdie doel. Ek sal moet werk binne beskikbare middele, maar is dit nie wat die mense agter die stortkop ook gedoen het nie? Ek sal dus vir alle praktiese doeleindes ’n lewe vervaardig om ’n sekere doel te dien.

My lewe sal dan uiteindelik hierdie doel dien, omdat ek besluit het dit is die doel van my bestaan.

______________________