Eindkontemplasie, deel twee

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Is die issue van “ballingskap” steeds relevant?

Die einde van hierdie literêre projek kom nie net omdat ek genoeg bladsye vol getik en geskryf het vir die totaal om ’n “boek” genoem te kan word nie. Ek glo – miskien omdat ek regtig wíl glo – dat ek nou ’n beter begrip het van hoe dinge werk as wat die geval was tien jaar gelede. Ek het ’n paar beginsels geïdentifiseer wat ek glo geldig is vir alle mense, en oor alle tye heen. Nie een van hierdie insigte of beginsels is oorspronklik nie; dit was nietemin belangrik dat ek dit self, op my eie tyd, moes uitsorteer, en in my eie woorde moes weergee. Ek het ook nou ’n meer gevorderde waardering van my eie naam (by wyse van spreke), en ek het ’n vae idee ontwikkel van hoe ek inpas in die massa lewe buite my woonsteldeur.

Is die issue van ballingskap, so sentraal in die “verhaal” van hierdie projek, egter steeds relevant? Is dit steeds belangrik dat ek moet “huis” toe gaan?

Hierdie projek het ’n ewolusie ondergaan. Ek het nie oorspronklik die skryfproses onderneem met die idee van ’n boek as ’n eindresultaat nie. Al wat ek geweet het, was dat ek onseker was oor sekere dinge in my lewe, en dat dit gehelp het om dinge neer te skryf. Om te skryf is ook ’n goeie manier om lang dae en nagte produktief te spandeer as jy die wêreld buite jou voordeur meestal vermy. Skryfwerk was, en is ook steeds my hoofbron van vermaak, benewens die feit dat dit my vat van punt A na punt B in sielskwessies.

So ook het ek nie hierdie tweede rondte van ballingskap [na die eerste een in Korea] op myself geforseer met die doel om antwoorde te kry op vrae nie. Hierdie projek het begin as ’n gekrap in notaboeke en op weggooipapier, en as briewe aan vriende en familie. My reis na Taiwan het begin as die beste roete uit kantoorwerk en ’n bediendekamer. Maar wat kan jy doen as sekere vrae hulleself aan jou opdring, of nog erger, as ’n boek aan die binnekant van jou skedel klop, en “ballingskap” blyk die enigste manier te wees om aandag te gee daaraan?

Is ek dan, vir die derde keer, steeds in ballingskap? Het ek steeds nodig om huis toe te gaan?

______________________