Doel van bestaan, drie stelle opmerkings

SATERDAG 2 OKTOBER 2004

Doel van bestaan, eerste opmerkings

Elke klein dingetjie om ons dien ’n doel – onderdele van ’n masjien, die masjien self, organe en liggaamsdele, diere, insekte, suurstof, ander chemiese elemente, organiese verbindings. Dit sal belaglik wees om voor te stel dat mense, wat letterlik omring is deur doel, nie self een of ander doel dien nie.

* * *

Nie-menslike lewensvorme asook lewelose dinge dien ’n doel sonder om daaroor te “dink”. So ook is daar sommige mense wat uiteindelik ’n doel dien sonder om ooit die onderwerp ernstig te oorweeg, maar vele ander mense moet die doel van hul eie lewens doelbewus kontempleer. Hoekom? Het ons as mense verander op maniere wat dit ’n uitdaging maak om ons doel te ontdek en te vervul?

Doel van bestaan, tweede opmerkings

Twee weke gelede het ek gereken niks is belaglik nie, as jy regtig daaraan dink. Dinge kom eers voor as belaglik, so’t ek genoteer, as mens beskouings en verwagtinge het oor hoe dinge, of mense, veronderstel is om te wees, en die werklikheid stem nie ooreen met ons beskouings of verwagtinge nie. Wat dan van hierdie hele beskouing dat die mens se lewe ’n doel het? Kom die idee van ’n doellose bestaan dan nie totaal belaglik voor bloot omdat ek die beskouing, en selfs die verwagting het dat menslike lewe ’n doel moet dien nie?

Ek reken dis heeltemal redelik om te verwag dat sommige dinge veronderstel is om X, Y of Z te wees of te doen. As ek die aankoms van ’n gas afwag en my deurklokkie lui, gaan ek verwag dat die persoon op normale wyse my woonstel sal betree. Indien hy of sy dan op hulle hande instap, sonder ’n draad klere aan hulle lyf, en voete wat wild skop in die lug, sal min mense my kwalik neem as ek uitbars van die lag. Hoekom? Die persoon se gedrag sal belaglik wees.

Nou, ek is bereid om te erken dat reaksies op die naakte verskyning iets te make het met kulturele beskouings en verwagtinge van “normale gedrag” – wat verskil van plek tot plek, en van een historiese periode na die volgende. Die op-die-hande-loop as daar niks verkeerd is met jou bene en voete nie, aan die ander kant, is doodgewoon nie hoe ’n mens … en die orrelis gaan in ’n hoër oktaaf in, die handeklap raak ritmies … dis doodgewoon nie hoe die mens ontwerp is nie.

Dieselfde kan gesê word as ek een aand by die huis kom en een van die kakkerlakke wat gereeld hulle nagtelike verskynings in my kombuis maak, is besig om aandete te kook, met ’n netjiese klein voorskoot aan. Ek sal lag – of gil van verskrikking. Dit is nie wat die kakkerlak veronderstel is om te doen nie. Hoekom doen nie enige van die kakkerlakke in my kombuis so iets nie? Hoekom sit die spinnekop nie in die sitkamer en TV kyk wanneer ek op die rekenaar besig is nie? Hoekom sit die straatkatte nie buite op die sypaadjie met ’n bottel bier in die een poot, en ’n sigaret in die ander nie? Omdat dit fisies onmoontlik is. Omdat dit nie is wat hulle genetiese kode dikteer nie. Katte se fisiologie maak dit vir hulle maklik en natuurlik om die muisbevolking in toom te hou. Kakkerlakke se fisiologie maak dit vir hulle moontlik om te … doen wat hulle veronderstel is om te doen. Bye se fisiologie stel hulle in staat om rond te vlieg en blomme te bestuif. Blomme doen weer iets anders.

Wil ek impliseer dat alles soos ’n goed geoliede masjien moet funksioneer? Moet alle vorme van lewe hul plekke ken, hul rolle speel, en die verskillende doele van hul bestaan uitleef? Ek gee toe dit is ietwat problematies. Min mense, ek ingesluit, hou immers van die idee dat hulle elke wakker-uur van hul lewens hul rympies moet resiteer en hul arms en bene moet beweeg soos dit vooraf bepaal is.

Dis duidelik nie ’n swart-en-wit saak nie. Maar net omdat dit nie eenvoudig is nie, is nie ’n verskoning om nie te erken wat jy net kan ignoreer as jy belaglik is nie, naamlik dat ons omring word met doel.

Doel van bestaan, derde opmerkings

So te sê alle aasvoëls dien dieselfde doel. Dien die mens as spesie ook ’n spesifieke doel, of word verskillende doele gedien deur individuele lede van die spesie? Indien laasgenoemde, hoekom?

Nog ’n vraag: Hoe argumenteer mens doel sonder ’n “skepper”?

______________________