Dis net ’n spel, en die reëls is ontsyferbaar

SONDAG 20 JUNIE 2004

Ek dink ek is gereed om te verklaar dat die lewe tot ’n groot mate ’n spel is.

Dit werk soos volg: jy definieer vir jouself ’n karakter uit die mens-karakter materiaal wat jy waarneem in jou omgewing en ook waaraan jy blootgestel word uit ander bronne (of jy wees hoofsaaklik ’n karakter wat jou omgewing op jou afdwing of van jou vereis), en jy speel dan ’n rol wat jy vir jouself definieer of kies uit die moontlikhede (of jy speel hoofsaaklik ’n rol wat jou omgewing op jou afdwing of van jou vereis).

Verskille tussen VERLIGTE INDIVIDUE en ANDER INDIVIDUE kan gevind word in bogenoemde uiteensetting: Eersgenoemde definieer tot ’n groot mate hul eie karakters asook die rolle wat hulle wil speel, terwyl laasgenoemde hoofsaaklik die rolle vervul van die karakters wat die gemeenskap op hulle afdwing of van hulle vereis. VERLIGTE INDIVIDUE weet wie en wat hulle is, omdat hulle in praktiese uitdrukking van vrye wil onder talle moontlikhede die rolle en karakters gekies het wat hulle goedvind vir hulself. Hulle kan ook verduidelik hoekom hulle daai spesifieke rolle en karakters gekies het, en nie iets of iemand anders nie.

Hoe goed hierdie twee tipes individue funksioneer in die wêreld hang af van hoe goed hulle die Reëls Van Die Spel Van Die Lewe ken, en hulle bereidwilligheid om daarvolgens te speel.

Dit is dan ook so dat vele sogenaamde VERLIGTES nie ’n hoë dunk het van die Reëls nie. Nietemin, slegs ’n redelike graad van intelligensie word vereis om die reëls van die Hoofspel, asook van die verskeie sekondêre spele waaraan beide VERLIGTES en ANDER soms verplig is om deel te neem, te ontsyfer. Daar is dus altyd hoop.

———–

[Ekstra nota: Die rol en karakter wat gekies word deur die tipe persoon wat ek die “verligte” noem, is nie noodwendig beter – in ’n morele sin – as die rol en karakter wat van ’n ander individu vereis word deur sy of haar gemeenskap, of wat hulle gedring voel om te kies ten koste van ander ambisies wat hulle moontlik mag gekoester het nie. Die rol in laasgenoemde geval mag dalk een wees van leierskap in ’n uitsonderlike moeilike tyd vir die gemeenskap, terwyl die gekose rol en karakter van die sogenaamde verligte in ’n soortgelyke tyd een mag wees wat gekenmerk word deur nie-betrokkenheid. Ek noem hierdie moontlikhede omdat, ten spyte van die feit dat die “verligte individu” my gekose heldefiguur is, ek nie blind is vir heldedade van sogenaamde ander individue nie.]

———————

[Nog ’n ekstra nota: Net omdat ’n persoon nie sy of haar eie karakter en rol kies of definieer nie, is nie te sê dat hulle nie “verlig” is nie. So ’n persoon mag dalk ten volle bewus wees van alternatiewe karakters wat hulle kon wees of word, en alternatiewe, selfs meer genotvolle rolle wat hulle heeltemal bekwaam is om te speel. As gevolg van die beste van redes aanvaar hulle dalk hul voorgeskrewe rol en karakter (of dan die rol en karakter wat die gemeenskap van hulle verwag), ter wille van diens aan die gemeenskap, en ter wille daarvan om positiewe resultate van hul bestaan agter te laat.]

______________________