DIE KRITERIA VIR OORLEWING (RAAK STRENGER BY DIE DAG)
Die kriteria vir oorlewing raak strenger by die dag. Soos gewoonlik is persepsie van my persoon een van die grootste probleemareas – maar nie noodwendig hoe ander my sien nie; ek oordeel myself. As ek myself te lig bevind, dra ek dit soos ‘n advertensiebord om my nek. Dan’s ek een groot moraal-en selfbeeldkrisis wat net die regte situasie soek om in ‘n onskuldige omstander se gesig te ontplof.
Vat my vriend L. as voorbeeld. Toe ek vyf jaar gelede vanaf Korea teruggegaan het Suid-Afrika toe, het hy saam met ‘n groep ander werkende twenty-somethings ‘n huis gedeel in ‘n goeierige woonbuurt in Johannesburg. Hy was op daai stadium die publishing editor van ‘n tydskrif wat hy grootliks op sy eie begin het (daar was ander mense wat ‘n bydrae gelewer het, maar dit was hoofsaaklik sy idee, en sy verantwoordelikheid).
Dit was die situasie toe ek teen Julie van daai jaar as glorified sekretaresse by sy onderneming aangesluit het. Teen die Oktober van daai jaar was L. ‘n huiseienaar, in ‘n ander relatief goeie deel van die stad. Die kantoor het geskuif na die nuwe huis toe; en siende dat dit effens te ver was vir my om te bereik per fiets elke dag, het ek sy uitnodiging aanvaar om die buitekamer in sy agterplaas my tydelike hoofkwartier gemaak.
Bietjie meer as ‘n jaar later (ek was toe al elf maande lank in Taiwan) was L. op die punt om die lewe van ‘n getroude man te betree. Ek was terug in die Verre Ooste, ek het ‘n hele woonstel vir myself gehad, ek het voltyds gewerk, en ek het genoeg geld verdien om redelik goed te leef. (Vae veronderstellings oor presies wat ek doen het my altyd goed gepas, want dan hoef ek vir niemand te verduidelik het dat ek vir kleuters die alfabet leer terwyl ek my hande ritmies klap, en myself derhalwe aan die slaap sus nie.)
Nou’s dit amper vier jaar later. My vriend het intussen sy tydskrif verkoop aan ‘n groot maatskappy, wat terselfdertyd vir hom ‘n posisie aangebied het wat hy “nie kon weier nie”. Hy en sy vrou woon deesdae in ‘n groter, luukser huis, en soos ek reeds genoem het in die vorige stuk, het hy onlangs die pa geword van ‘n babaseun. Hy is dus volgens die gemeenskap se kriteria suksesvol in alle opsigte – hy’s ‘n huiseienaar, hy’s ‘n getroude man, pa van ‘n kind, en hy’t ‘n werk wat baie van hom vra, maar die monetêre beloning maak dit die moeite werd.
Ek, aan die ander kant, huur steeds dieselfde woonstel by ‘n vriendin van my een werkgewer (hoewel net tot die einde van hierdie maand). Ek ry deesdae (weer) fiets want ek wil nie die bromponie wat op my stoep staan en olie drup vervang met ‘n nuwe een nie (en omdat die fietsryery in elk geval beter is vir my gesondheid). Ek gee nog steeds ‘n paar Engelse klasse elke dag. Ek werk ook aan ‘n paar projekte wat hopelik eendag ‘n langtermyninkomste sal genereer. En ek skryf. En studeer Chinees. Solank ek dus hier bly kan ek een keer per jaar ‘n draai by my vriend gaan maak, in sy kar ry na ‘n Italiaanse restaurant, en selfs bekostig om R200 of so uit te vurk om die rekening te delg.
Maar waar gaan ek staan as ek terug is in Suid-Afrika? Die dae is verby wat ek ‘n kamer kan huur by ‘n vriendin van universiteitsdae. Die dae is verby wat ek op ‘n stuk spons kan slaap in ‘n vriend se buitekamer. Die dae is verby wat dit vir my goed genoeg sal wees om in ‘n “administratiewe kapasiteit” in ‘n kantoor te werk. Die dae is ook verby wat dit OK is om vir my pêl te sê ek sal saam met hom ‘n dop gaan drink, solank hy my kan kom optel (en moontlik nog vir my drankie kan betaal ook). Dit is dus ooglopend dat die kriteria vir oorlewing – ten minste vir myself – strenger raak by die dag.
Impliseer ek dat ‘n mens jou lewe moet vergelyk met dié van ou vriende? Nee. Maar ek onderskryf ‘n sekere stel kriteria vir ‘n goeie bestaan, en ek is bewus van hoe ek, op hierdie stadium, sou gevaar het in ‘n soortgelyke wêreld as my vriende in Suid-Afrika.
My identiteit as ‘n skrywer wat alleen woon in ‘n vensterlose woonstel êrens in die Verre Ooste, wat Chinees leer praat, en geleer het hoe om ‘n paar vrae te vra oor die lewe, is stewig geanker in die realiteit waarin ek myself bevind het die afgelope vyf jaar. Die visie van myself as ‘n entrepreneur wat hoop om “volgende jaar” geld te maak in Suid-Afrika, terwyl ek van tyd tot tyd my Chinese boeke sal afstof om te kyk of ek nog iets daarvan verstaan, is geanker in geloof. Ek weet nie of dit sal uitwerk nie. Ek mag dalk faal. En as ek misluk, voel ek ellendig.
Ek kan sekerlik sê dat ek nie myself met enige iemand hoef te vergelyk nie. Ek kan sê dat ek nie na ses maande of ‘n jaar ‘n huiseienaar hoef te wees nie. Ek kan sê dat ek nie na ‘n jaar of agtien maande getroud hoef te wees nie. En ek kan byvoeg dat ek nie hoef te werk volgens ‘n skedule nie; dat my lewe immers nie ‘n reeks tonele uit ‘n voorafuitgewerkte draaiboek is nie.
Die probleem is dat ek voorafopgestelde idees het van hoe sukses lyk. In die wêreld van die konvensionele middelklas lyk sukses soos my vriend, L., se lewe. Wat betref die wêreld van die vrydenkende alleenloper-skrywer, voldoen my huidige lewe aan die veel meer beskeie kriteria. Maar is dit genoeg?
Ek voel soms lus om te vlug – Mainland China toe. Om my rugsak te pak vol woordeboeke, onderbroeke en T-shirts, en die res van my besittings te laat stof opgaar in my woonstel. Ek is lus en gaan bly in Beijing vir drie maande, en om elke dag op foto-uitstappies te gaan. Ek is lus om Chinees te gaan studeer in parke en tea shops, en dit te oefen in klein eetplekkies in historiese agterstrate, en by eertyds verbode paleise. Ek is lus en vergeet van Bronkhorstspruit, besigheid, betekenis-van-die-lewe, trou-en-kinders-kry, sukses-voor-35, plek-in-die-wêreld, en my-plek-op-die-rand-van-die-sosio-ekonomiese-middelklas. Ek is lus om my baard te laat groei en te werk aan ‘n foto-projek getiteld, “Lotusblomme van Rooi China”. En ek is lus om op te hou om stukke te skryf soos “Die Kriteria Vir Oorlewing Raak Strenger By Die Dag”.
Ek is ook lus om op te hou om te probeer. Want maak nie saak hoe hard ons daaraan werk nie, dinge werk nie altyd uit nie. En partykeer mis ons die punt, omdat ons te hard probeer om dit uit te sorteer.
(16 September 2003)
___________
