Dag in die dorp

VRYDAG 20 AUGUSTUS 2004

Middag, tussen vier en vyf, onder ’n boom; ligbruin sokkies, ou vellies, groen kortbroek, geel onderbroek, en rooi kortmouhemp met wit spikkels op.

Nou net teruggestap van die dorp af, laaste deel oor ’n stofpad, tot op die plot. Het in die dorp drie boeke gekoop vir die totale koste van een R5-muntstuk: Toe Witmense Arm Was, ’n Truman Capote boek, en die draaiboek vir ’n Italiaanse toneelstuk met die titel, Six Characters In Search Of An Author. Draaie gemaak by tweedehandse meubelwinkels, banksake gedoen by Standard Bank en Postnet, en toe by die Spur middagete geëet.

By die Spur het ek gesit in die rokersarea. ’n Ouerige dame het alleen by ’n tafel agter my gesit. Ek weet nie wat sy gedrink het nie, maar sy’t vroeg al “Nog een!” in die rigting van die naaste kelner geroep. Ook alleen was ’n aantreklike jong vrou by ’n tafel skuins oorkant my. Sy het die hele tyd op haar selfoon gepraat, yskoffie gedrink, en die een Paul Revere na die ander gerook.

Ek het bestel ’n Spur burger vir R23.95, knoffelsous vir R7.95 en ’n Black Label vir R9.95. Ek het die Streeknuus (R1) gelees, en twee Nat Shermans opgevlam met Lion vuurhoutjies.

In die middel van die dorp het ek ’n paar interessante feite op ’n kennisgewingbord gelees: Pretoria is 50 kilometer van Bronkhorstspruit af, Kaapstad 1 380 kilometer, Johannesburg 100 kilometer, Taipei 11 620 kilometer en Hong Kong 10 800 kilometer. Daarna het ek teruggestap plot toe.

Nou sit ek onder ’n boom, en hoor ’n stem wat onderlangs mompel: Lewe is … duiwe wat koer, karre wat verby ry, die wind wat deur die blare waai, iets tussen my tande, voetstappe in die agtergrond, voëls en insekte wat lawaai in die bome, die reuk van groentesop uit die kombuis, ’n radio wat lounge music uit die sestigs speel, ’n telefoon wat lui …

______________________