Organe, republieke en ander onderwerpe

SONDAG 11 JULIE 2004

Koma, geheueverlies, en bewussyn van die self – verhouding van die liggaam met die “psige”

My selfbewussyn en my vermoë om kritiese denke óór die self te hê terwyl my eie self geensins ongemaklik raak nie, word direk geaffekteer deur die behoorlike funksionering van my belangrikste organe.

Die details van my partikulêre selfbewussyn – taal, kultuur, etnisiteit – hou direk verband met die opgang van die Hollandse Republiek tot vooraanstaande seemoondheid asook gepaardgaande ekonomiese groei en selfs vooruitstrewendheid op die gebied van kuns gedurende die sewentiende eeu.

* * *

Both “sense of self” and “identity” are essential for something to function. What is this something?

* * *

Familie en vriende is belangrik, selfs noodsaaklik vir ons bestaan, omdat ons reken hulle ken ons. Hulle – “weet wie ek is”.

* * *

Dit voel asof ek in die regte boord op en af hardloop, maar nog nie by die regte boom op blaf nie.

* * *

Johnny Clegg sê, “Spirit is the journey, body is the bus.”

Miskien moet ’n mens meer spesifiek wees en sê: The body is the bus, sense of self and particular identity is the driver, and the “spirit” is the passenger that needs both the body, and the self-identity to get where it needs to go. But, go where?

______________________

Notas – geluk – gevolgtrekkings

DINSDAG 6 JULIE 2004

Kies, en glo

Die doelwit is nie om nié in staat te wees tot euwel nie, maar om nie euwel te doen nie.

Dit beteken om jouself in die oë te kyk en te erken, “Ek ís in staat daartoe om sleg te wees, en sleg te doen,” en dan te kiés om nie sleg te wees nie, en nie sleg te doen nie.

Hierdie keuse, soos meeste weet, is nie altyd maklik nie, maar selfs dít moet dien as motivering, eerder as twyfel in jouself.

Gló dat jy goed kan wees. Gló dat jy goed kan doen. Wéés dit dan, en dóén wat goed is.

Ek, en myself: “Ek praat met myself.” ’n Misleidend eenvoudige stelling? Wie’s die “ek” in daai sin, en wie’s die “self”?

WOENSDAG 7 JULIE 2004

Geluk is ’n sintuiglike aangeleentheid

Om gelukkig te wees, is in die eerste plek ’n sintuiglike aangeleentheid.

Dink vir ’n oomblik daaroor: Waarna kyk jy op die oomblik? Wat ruik jy? Wat proe jy? Wat hoor jy? Waaraan raak jy?

Net so belangrik, en dalk belangriker: Waarna kyk jy nie? Wat ruik jy nie? Wat proe jy nie? Wat hoor jy nie? Waaraan raak jy nie?

En dan, as geluk tot ’n groot mate afhanklik is van hoe jy jou onmiddellike omgewing ervaar: Waarna wíl jy kyk? Wat wíl jy ruik? Wat wíl jy proe? Wat wíl jy hoor? Waaraan wíl jy raak?

Gevolgtrekkings op VRYDAG 9 JULIE 2004

1. Wat op ’n stadium gelyk het na wyse keuses wat aanvanklik gelei het tot positiewe resultate, mag in sommige gevalle met die verloop van tyd uiters negatiewe gevolge produseer.

2. Soms moet ’n mens voorgee wat jy nie is nie, om meer positiewe resultate te bewerkstellig.

3. Die verligte, wyse persoon behoort in staat te wees om die spel beter te speel as die onkundige; hy behoort ook in staat te wees om beter beheer oor sy emosies uit te oefen.

4. Die vraag kan gevra word: Wil jy die spel speel?

______________________