BALLINGSKAP [1]
[Aanvanklik was “Ballingskap” net 'n handige titel vir 'n stuk skryfwerk met 'n baie spesifieke inhoud. Hierdie essay het uiteindelik geblyk die eerste te wees van ‘n reeks van vyftien wat geskryf is oor die onderwerp, en hoe die betekenis van die woord oor die jare vir my verander het.]
———————
Ek het op my 25ste verjaarsdag die eerste keer in selfopgelegde ballingskap gegaan. In Februarie van daai jaar het ek ‘n werk gekry in Suid-Korea, en na maande se onsekerheid en afwagting het ek uiteindelik op die 29ste Junie 1996 op ‘n Cathay Pacific vlug vertrek na Hong Kong, en vandaar na Seoul. Ek het nie die vaagste benul gehad waarin ek myself begewe nie. Ek het nie die vaagste benul gehad hoe om Engels te leer aan Koreaanse kinders nie. Ek het nie geweet vir wie ek gaan werk of waar ek gaan slaap binne die volgende 24 uur nie. Ek het geen idee gehad hoe Korea lyk, watse kultuurverskille ek gaan teëkom, of hoe die stad lyk waar ek gaan woon en werk vir die volgende wie-weet-hoeveel maande nie. Al wat ek geweet het was dat ek nodig gehad het om weg te kom – van wát sou ek later eers behoorlik formuleer. En in retrospek het hierdie begeerte swaarder geweeg as enige vrees vir die onbekende.
Twee-en-twintig maande later het ek weer my goed gepak, vir oulaas deur die nou stegies van my woonbuurt gestap, en die volgende oggend was ek op pad terug Suid-Afrika toe. Ek het steeds nie geweet presies hoe ek ‘n inkomste gaan verdien op “eie terme” nie, maar ek was vol idees oor wat ek met my lewe wou doen.
Dit het my nie lank geneem om te besef dat die realiteit, terug in Suid-Afrika, nie meer genade vir my gaan hê net omdat ek amper twee jaar in my eie vorm van ballingskap was nie. Ses weke later was ek in Johannesburg – om ‘n deeltydse administratiewe betrekking te vul by ‘n omgewingstydskrif van ‘n goeie vriend van my.
‘n Week voordat ek Johannesburg toe vertrek het, het ek ‘n oproep gekry van ‘n vriendin wat ook in Johannesburg woon. In ‘n kort gesprek het sy my ingelig sy’t ‘n huis gekoop wat ‘n spaarkamer het, so in geval ek blyblek soek, sal dit vir haar ook goed werk as ek by haar die kamer wil huur vir so drie maande.
So, ek het ‘n dak oor my kop gehad, en ‘n office job. En ‘n salaris wat nie eers my belangrikste finansiële verpligtinge sou dek nie. Maar ek was terug by die huis. Terug in Suid-Afrika.
Een van die dinge waarvan ek wou wegkom in my eerste ballingskap was my studieskuld. Ek was veronderstel om in Januarie 1996 te begin terugbetaal aan lenings by die universiteit en die bank. Teen Junie ’96 het my skuldeisers nie ‘n rekord gehad van wat ek doen, of waar ek was nie. Ek het, soos ek dit later sou stel, “tussen die krake verdwyn”. Die oomblik toe die vliegtuig op die 29ste Junie hoogte begin kry het oor Kempton Park, het ek liggies die lug gepomp, en teruggesit. Ek het gevoel soos ‘n bandiet wat uit die tronk ontsnap het, en op pad was na ‘n plek waar die owerhede my nie sou opspoor nie. Of soos ‘n politieke aktivis wat die sekuriteitsmagte ontglip het, en op pad was na ‘n veilige lewe in die buiteland vanwaar ek die stryd sou voortsit.
Binne drie dae na my terugkeer in Mei 1998 was ek by Standard Bank, en het ek eerstehands ervaar dat ballingskap nie noodwendig probleme oplos nie. Een of ander tyd moet jy terugkeer en die stryd kom stry waar dit saak maak. Toe ek dus in Johannesburg aankom teen die einde van Junie (ironies genoeg weer op my verjaarsdag), het ek die onaangename verpligting gehad om elke maand R2000 van my kosbare kontant wat ek in Korea gespaar het, oor te betaal aan die einste skuldeisers vir wie ek so gelag het uit die lug bo Johannesburg twee jaar tevore.
Teen einde September ’98 het ek geweet ek is in die moeilikheid. My spaargeld was op, en ek het nog steeds net meer as R1500 per maand by die tydskrif verdien. My vriendin/landlady se kêrel het my ook begin aangluur wanneer hy Vrydagaande daar aangekom het, en ek myself nie skaars wou maak vir die aand nie. (Hy’t gewerk as ‘n ingenieur in Middelburg. Vriendelike ou die res van die tyd – kon vir ‘n mens ‘n paar biere koop en jou elke keer laat voel asof dit vir ‘n slag sy rondte was.)
Vir die oomblik egter was daar weer uitkoms. My vriend van die tydskrif het ‘n huislening gekry, en die kantoor sou aan die einde van September verskuif na sy nuwe huis in Auckland Park. Daar was ‘n klein buitekamer wat ek kon beset tot ek iets anders kry. Ek het myself voorgeneem om tot ten minste die einde van die jaar aan te bly in Johannesburg.
Vroeg in Oktober het nog ‘n gelukkie my getref. My baas/vriend het besluit daar’s genoeg werk om my vir agt ure lank elke dag besig te hou, en derhalwe kon ek ‘n R1000 per maand meer verdien. Siende dat ek nie vir my huisvesting hoef te betaal het nie, het ek myself skielik weer in ‘n posisie bevind waar ek so nou en dan vir my eie bier kon betaal.
***
Die gevoel van naderende krisis het egter nie gaan lê nie. Ek het geweet my vriend wou vroeg in die nuwe jaar die agterkamer ‘n bietjie opdoen, en dan uitverhuur. En ek het geweet ek sou nêrens kom as ek voortgaan om teen R2500 per maand die telefoon te beantwoord by ‘n klein maatskappy nie; om nie te praat van die feit dat ek nie geld gehad het vir ‘n ander blyplek of ‘n kar nie. Gedagtes van ballingskap het weer sterk vorm begin aanneem.
Om eerlik te wees het ek alreeds voorbereidings begin tref vir ‘n tweede ballingskap vroeg in Julie, in die huis van my vriendin in Norwood. Ek het toe nog net halfdag gewerk, so ek het genoeg tyd gehad om elke middag in haar sitkamer te sit en te dink hoe miserabel my lewe is. Ek het weer gedink aan hoekom ek teruggekeer het na my eie land toe, en ek kon nie foutvind met die motiewe nie: Ek wou êrens behoort, en ek wou myself verbind tot iets, of iemand.
Die dubbelmotief van “Belonging and Commitment” het my getref in weke van groot helderheid êrens tussen Januarie en Maart 1998, toe nog in Chonju in Suid-Korea. Ek kan onthou ek het die aand ‘n hamburger en chips gaan koop by die Atom Plaza naby die treinstasie, en terwyl ek gewag het vir my kos (of was dit net toe ek uitstap?), het dié twee woorde so duidelik soos ‘n neonbord voor my geflits: BELONGING and COMMITMENT. (Ek kan ook onthou hoe ek eers gaan sit het op die trap van ‘n kafee in een van die nou systraatjies om ‘n sigaret te rook.)
Tussen Januarie en April ’98 het my planne dus vorm aangeneem wat sou lei tot die opheffing van my eerste selfopgelegde ballingskap. “Belonging and commitment,” het ek al die pad terug Suid-Afrika toe vir myself gefluister.
Teen Julie het ek egter reeds begin wonder wat ek gemis het in my maande van helderheid. Iets was beslis nie reg nie. Ek het in iemand anders se huis gewoon, ‘n geleende fiets was my enigste middel van vervoer, en my inkomste was nie opgewasse teen die aanslae van my finansiële verpligtinge nie.
Vir die rekord moet ek noem dat ek ook maande tevore begin rondspeel het met die gedagte van mag. Die vraag, “Wie het dit, en wie nie?” kan gevra word met politieke betekenis in gedagte, in ekonomiese terme, en selfs in persoonlike verhoudings. Ter wille van die argument het ek mag gedefinieer as “die vermoë om keuses te kan maak, en keuses te kan uitoefen”. Ek, het ek besluit reeds vroeg in Julie, het feitlik geen mag nie. In my geval het dit te make gehad met een ding, en een ding alleen: geld. Omdat ek nie geld gehad het nie, was my keuses oor alles van werk tot verblyf tot wat ek eet, beperk.
Ek was, per definisie, op die rand van magteloosheid.
Mag en magteloosheid het my obsessies geword oor die volgende paar maande. Teen November was die persepsie van my magteloosheid onuitstaanbaar. Dit het my persoonlikheid begin beïnvloed. Ek was pynlik bewus van my beperkte opsies, en ook die onvermoë om te kon oorgaan tot aksie met opsies wat ek graag wou uitoefen. Ek het besluit dat daar slegs een uitweg was: hernude selfopgelegde ballingskap. Binne die groter ekonomiese realiteite van Suid-Afrika was my realiteit dat ek nie veel formele beroepsopsies gehad het nie, kruideniersware – en selfs teen die einde van Oktober, sigarette – het so te sê vir my onbekostigbaar geword, ek kon nie ‘n behoorlike blyplek bekostig nie, en ek het gereeld aan waarskuwings gedink dat as ek nie my ooreenkoms met die skuldeisers nakom nie, ek vir die volgende dertig jaar ‘n persona non grata sal wees.
Ek het inligting begin bymekaarmaak oor ‘n program in Japan wat Engelse onderwysers werf. Dié program sou egter eers teen die volgende Julie weer mense nodig hê, en die nood was besig om daagliks stywer om my strot te trek.
Dít was hoe my situasie gelyk het toe ek een dag, laat in Oktober, by die kantoor my e-mail lees. Ek het net ‘n roetine update verwag toe ek die pos oopmaak van ‘n vriend van my wat ek in Korea ontmoet het. Hy’t ‘n jaar voor my teruggegaan Suid-Afrika toe, maar het na maande van sukkel in Kaapstad al sy besittings verkoop vir ‘n vliegtuigkaartjie, en teruggekeer Asië toe, dié keer Taiwan. Hy was vol lof vir die plek, en het selfs aangebied om vir my geld te leen vir ‘n vliegkaartjie, as ek sou belangstel. Ek het sy aanbod beleefd van die hand gewys. Binne ‘n week het ek hom egter gekontak en hom gevra of die aanbod nog staan. Ek het vir myself nog ‘n week of drie gegee waarin ek my moontlikhede oorweeg het, en teen die einde van November het ek hom laat weet om maar die geld te stuur – my plek is bespreek.
***
So, ballingskap sou dit dan weer wees, na ‘n onsuksesvolle poging tot “belonging and commitment” in die land van my geboorte. Ek het drie weke oor Desember en die eerste week van Januarie by my ouers in Natal spandeer, en toe weer my rugsak gepak met klere, boeke, musiek, en ‘n paar ander items vir ‘n nuwe periode van ballingskap. Ek het nog ‘n week in Johannesburg gespandeer, en toe op 16 Januarie 1999 het ek vertrek – sonder veel emosie.
Dit was vreemd, hierdie afwesigheid van emosie. Anders as in Junie ’96 toe ek amper oorstelp geraak het van vreugde toe die vliegtuig die grond verlaat het, het ek hierdie keer nie veel gevoel nie. Dit was maar net hoe dit was. Die Ooste, ‘n vreemde, amper surrealistiese wêreld waar ek binne ‘n week my eie woonstel sou hê, binne twee weke ‘n scooter, en waar ek soms meer as ‘n R100 per uur sou verdien om speletjies te speel met kleuters in ‘n poging om hulle ‘n paar Engelse woorde te leer.
***
Nou sit ek hier, alleen in ‘n drie slaapkamer woonstel, om 3:30 in die oggend van 20 Junie 1999, en ek tik hierdie opstel op my rekenaar. Agter my flits die beelde van een of ander movie op TV. Ek het ‘n telefoon, ‘n videomasjien, ‘n CD speler, en ‘n paar goeie CD’s wat ek hier, en in Hong Kong gekoop het toe ek daar was vir ‘n langnaweek in April. Ek het nuwe beddegoed, en heelwat nuwe klere. Ek het selfs ‘n nuwe paar skoene. En ek het ‘n paar weke gelede vir my ‘n horlosie gekoop vir omtrent R500. Ballingskap is nie te sleg dié keer in tasbare kwantiteite nie.
Maar nou die dag toe dink ek, wat sou ek verkies, ‘n goeie lewe in die buiteland met al dié luukshede, of ‘n lewe in my eie land, sonder baie van die luukshede en die sekuriteit van ‘n goeie inkomste wat ek tans geniet, maar waar ek kan voel ek behoort en waar ek myself kan verbind tot iets of iemand?
Ten spyte van die enorme voordele van lidmaatskap en verbintenis, is dit sekerlik ook belangrik om te spekuleer oor die materiële kwaliteit van die lewe wat ek sal geniet in Suid-Afrika. Wat het ek hier, waarsonder ek nie in Suid-Afrika wil wees nie?
Nog ‘n paar dae van kontemplasie bring toe ‘n voorlopige antwoord: ‘n huis, ‘n TV, en ‘n rekenaar. En as Telkom my wil vergewe vir ‘n onbetaalde telefoonrekening van ‘n paar jaar gelede, miskien ‘n telefoonlyn, en toegang tot die Internet. Sodat ek, as dit nodig sou wees, weer inligting kan soek oor daai program in Japan.
20 Junie 1999
___________
