As die gewaarwording versteur word

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Ek het ’n teorie: Wanneer ’n persoon se gewaarwording van waar hy hoort versteur word, aktiveer die onderbewuste onmiddellik ’n proses om die steurnis te neutraliseer. Hierdie proses manifesteer in sekere aksies wat onderneem word om die persoon se identiteit, en daarmee saam sy gewaarwording van waar hy hoort, te bevestig.

My situasie die afgelope paar weke dien as voorbeeld. Ek was skielik gedwing om my goed te vat en te loop nadat ek vir amper vyf jaar in ’n spesifieke woonstel gewoon het. Hierdie ervaring – wat ingesluit het die verpakking van al my besittings in bokse, mure wat gestroop is van prente en ander parafernalia van my bestaan, en ek wat tussen die bokse en die kaal mure geleef het vir omtrent ’n week – het my gewaarwording van my plek in die wêreld, van waar ek inpas, effens versteur. Ek het instinktief – sonder om bewustelik te dink daaraan om stappe te neem om hierdie steurnis te verlig – begin om te skryf met ’n ongekende dringendheid elke keer as ek ’n breuk gevat het van die pakkery, en daardeur aktief die deel van my identiteit te bevestig wat ek as fundamenteel beskou vir my bestaan. (Belangrik om te noem dat ek verwag om terug te keer na die gewone trant die oomblik as my gewaarwording van waar ek behoort, herstel is.)

Indien hierdie teorie korrek is, mag dit moontlik impliseer dat ’n meer ideale bestaanstoestand – ter wille van die argument kan dit gedefinieer word as ’n toestand waar meeste van my behoeftes bevredig word op ’n redelik gereelde basis – nie bevorderlik sal wees daarvoor om ’n driftige tempo in my skryfwerk te handhaaf nie. Dit kan moontlik ook toegepas word op ander mense, en die kreatiewe werk wat húlle doen. (Natuurlik is wat geldig is vir een persoon nie noodwendig geldig vir ’n ander nie. Dit hang sekerlik ook af van die tipe kreatiewe werk waarmee jy jouself besig hou.)

Die vraag kan ook gevra word wat die belangrikste is: gereelde bevrediging van al my behoeftes – en die noodwendig gelukkige resultaat van ’n meer ideale bestaanstoestand, of ’n sekere drif in die produksie van kreatiewe werke? Mens mag selfs wonder watse verskil gereelde bevrediging van al jou behoeftes op die kwaliteit en inspirasie van jou kreatiewe werke sal hê.

Hoe belangrik is dit aan die einde om kreatief te wees? En as dit daarop neerkom, is dit belangriker as om “gelukkig” te wees? Al die vrae in hierdie verband is duidelik nog nie gevra nie.

______________________