Argument oor ’n fiets

MAANDAG 15 AUGUSTUS 2011

Die RT-Mart verkoop nou ’n “UK Design” fiets vir NT$2 074 [omtrent R800]. Ek sê nou al vir lank dat ek sal wag tot my fiets heeltemal stukkend is voor ek ’n nuwe fiets koop. Enkele punte hieroor:

1. As dit my standpunt is, moes ek drie maande gelede my fiets vervang het. Die een binneband was pap. Beide die buitebande was voos gery. Die remme het nie meer behoorlik gewerk nie. En die fiets het gekraak soos net ’n stuk metaal kan kraak wat tien jaar gelede al in ’n skrootwerf tot ruste moes kom. Wat ek gedoen het, is ek het alles reggemaak.

2. ’n Fiets raak nie totaal en al beneuk soos ’n rekenaar of ’n rekenaarmonitor nie. ’n Rekenaar kan vandag nog werk, en môre is dit net een’s en zero’s en liggies wat flikker en skerms wat stol. Dan vat jy dit na die rekenaarwinkel toe, en dan sê die tegnikus jy kan net sowel vir jou ’n nuwe rekenaar koop. Selfde met ’n rekenaarskerm: flikker, poef, af. ’n Fiets, aan die ander kant, breek. Dan identifiseer jy die probleem (gewoonlik voor-die-hand-liggend), en jy maak dit óf self reg, óf jy betaal iemand om dit te doen. Dan ry die fiets weer. As jy wag tot ’n fiets geheel en al gedaan is, mag jy dalk lank wag. (Vir die rekord moet ek noem dat my vorige fiets wel daai status bereik het. Sy is toe vervang met die huidige fiets wat omtrent twintig jaar ouer was as die vorige fiets.)

3. Daar’s ook fietse vir NT$3 500 en selfs so hoog as NT$5 000 – voor jy natuurlik die fietsafdeling in die supermark verlaat en by ’n behoorlike fietswinkel tussen vyf en tien keer soveel betaal vir fietse wat tussen tien en twintig keer beter kwaliteit is. Nietemin, hoekom dan nie maar net gaan vir die NT$4 000 fiets eerder as die NT$2 074 “UK Design” nie? Want, reken ek, al die fietse by die supermark is ewe broos. ’n Kabel gaan in elk geval breek binne ’n paar maande. Die saal gaan heel moontlik afval binne ses maande. Die raam sal heel moontlik buig, die remme sal breek, en die ratte sal seker ook net twee weke lank sorgeloos gly van stadig na vinnig voor dit vassteek in tiende rat. So, of dit nou NT$2 074 of NT$4 250 is, dis nie NT$25 000 of NT49 500 nie.

4. Ek kan eerder nou my huidige ouma-fiets aftree, en weet dat ek enige tyd in die toekoms, wanneer omstandighede dit vereis, net die wiele kan opblaas en weer kan ry soos die wind – as die wind erg genoeg waai die dag.

Dis dan dit. Ek koop ’n nuwe fiets voor die einde van die maand.

En teen NT$2 074 kan ek selfs bekostig om die ou Swart Gevaar te beloon vir goeie diens met ’n nuwe saal voor ek haar staanmaak in die agterkamer.

———–

Opvolg: Ek het toe nie die fiets gekoop nie. Ou “kraker” moes nog omtrent ’n jaar wag voor ek haar uiteindelik vervang het met die presiese selfde model fiets, maar ten minste splinternuut – wat my NT$2 500 gekos het.

Die nuwe fiets – ’n paar jaar later

______________________