Arbeiders Van Antieke Tye

Deur 07 - 08 - 2001

[Weer tyd vir bietjie politiek.]

———————

In die middeleeue en antieke tye, hoe het die magte van die dag die arbeiders behou wat hulle grond bewerk het, en wat derhalwe eersgenoemde se mag en bevoorregte posisie verseker het? Behalwe slawerny, was daar die feudalistiese verhouding tussen die landeienaar en die grondbewerker waar laasgenoemde verplig was om arbeid te verrig in ruil vir die landheer se beskerming. Later was daar ook die verskynsel van “indentured servitude”. Waarop hierdie verhoudings meestal neergekom het was dat arbeiders gebind was aan die grond waar hulle arbeid vereis is deur wette wat die grondeienaar bevoordeel het, en deur maatreëls soos belasting, wat die grondbewerker altyd arm en afhanklik gemaak van sy Baas.

Hoe word mense vandag gebind aan die “grond” waar hulle arbeid of diens vereis word? Deur goedkoop krediet, en langtermyn-terugbetaal-opsies. X-hoeveelheid inkomste minus Y-hoeveelheid paaiemente op produkte wat reeds gebruik word – soos ‘n nuwe sitkamerstel, of ‘n kar – laat die gemiddelde burger met min genoeg geld om “weg te kom”.

Natuurlik kom baie weg, en baie val nooit in nie. Daar’s ook drop-outs, kriminele, en mense wat vir jare in ander lande gaan werk.

Die belangrike punt is persentasie. Solank ‘n sekere persentasie van die bevolking gebind kan word aan die “grond”, kan die res afgeskryf word (of later benut word, soos die drop-out wat ‘n musikant word en vir die Gebindes vermaak verskaf, of bemoediging).

Dit is verder belangrik om te noem dat hierdie situasie baie vloeibaar is. Vrye keuse is aan die orde van die dag. Dus impliseer ek nie grootskaalse manipulering, of sinister agter-geslote-deure-beplanning nie… nee wag, manipulering wel. Die maksimum persentasie van die bevolking móét bereik, en “gedraai” word…

~ Uit die Pers Notaboek

———————

[Om dinge in 'n wyer lig te sien moet dit ook genoem word dat indien die meerderheid van die bevolking die heeltyd aan die beweeg is, dit gevolge sal hê vir die samelewing as 'n geheel wat op die langtermyn nie voordelig sal wees vir enige iemand nie.]

Hierdie inskrywing dateer: 07 - 08 - 2001 om 22:58 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.