’n Desperate versoek

SONDAG 15 MEI 2016

Ek het dit al voorheen genoem, maar ek doen dit nou weer, plegtig, in die openbaar: Ek vra myself, mooi asseblief, dat ek tog net nie ’n “oom” moet word nie.

Uit die aard van die saak is dit meestal mans wat hierdie versoek sal verstaan, en dan veral as hulle reeds hul sogenaamde middeljare getref het.

“Ooms” is gewoonlik konserwatief, en blyk in vele gevalle ’n by in hulle enjins te hê en ’n chip op hulle skouers. Hulle voel ook gereeld asof hulle manlikheid uitgedaag word. Een van die jonger geslag mans moet net dink daaraan om iets verkeerd te doen, soos om op die verkeerde plek te parkeer, te hard op sy selfoon te praat, of om voor die ou toppie in die ry in te druk by IKEA se restaurant in Kaohsiung (terwyl hy eintlik net weer aansluit by sy vriend), dan stu die “oom” op in die man wat enkele oomblikke tevore net ’n gewone mens was. Hy word rooi in die gesig, sy hare kry ’n gryser skakering van pure ontstokenheid, hy wil net vir iemand die leviete voorlees, en hy sê dinge soos, “Kom net by … ASSEBLIEF!”

Dat almal net hulle koppe vir hom skud, en sy vrou haarself voetjie vir voetjie van hom distansieer, maak aan hom niks saak nie.

Ten spyte daarvan dat daar nog plekke is waar “ooms” nog regeer – Saoedi-Arabië is een goeie voorbeeld, wil dit blyk asof “ooms” ’n bedreigde spesie is – rooi in die gesig van amper permanente ontsteltenis omdat iemand durf waag het om iets te doen waarmee die “oom” nie saamstem nie, en ’n gevoel dat indien die wêreld ooit aan hom behoort het, dit beslis nie meer die geval is nie.

Nou moet ek net myself sover kry om interne weerstand op te bou teen die “oom” binne my wat elke nou en dan dreig om sy ontstoke gesig te wys en sy vinger vir vreemdelinge te swaai.

______________________

Hoekom ek nie geduldig wou werk aan ’n langtermyn kommersiële projek in 2006 nie

DONDERDAG 12 MEI 2016

Ek het sopas ’n insig gehad in my doen en late in 2006. Lesende deur die notas van daai jaar is dit tot my groot verleentheid baie duidelik dat ek vinnig wou geld maak. Dit is duidelik dat ek geval het vir die opinie van inligtingverkopers dat dit maklik is vir enige iemand om te begin om geld te verdien met een of ander skema op die internet sonder dat dit maande of jare se geduld en harde werk sou vereis.

Sekerlik moes ek geweet het wat die algemene indruk was van skemas om vinnig geld te maak. Hoekom het ek dan geval daarvoor? Hoekom – en dit het ek baie oor die laaste tien jaar gewonder – het ek nie ’n onderwerp of ’n belangstelling of ’n behoefte gekies met ’n mark wat bereid was om te betaal vir iets, en stadig en geduldig gebou aan ’n aanlyn bate nie?

Op 27 November 2006 skryf ek: “Ek kom toenemend onder die indruk dat ek my werklike sterkpunte ignoreer omdat ek tot nou toe geglo het dat dit ‘te lank’ sal vat om wins te maak daarmee.” En later ’n waarskuwing: “Waak daarteen om oor te hel na die teenoorstaande pool – om vir die volgende paar weke verlore te raak in kreatiewe werk wat ek meer sal geniet, maar wat nie noodwendig enige geld gaan inbring nie.”

Hoekom het ek nie stadig begin bou aan ’n aanlyn besigheid nie? Hoekom het ek nie geduldig gewerk aan ’n kommersiële webwerf wat binne ses maande of ’n jaar vir my sou begin geld maak het nie?

Die rede, soos wat ek ontdek het, is eenvoudig: As ek wou werk aan iets wat ses maande of ’n jaar sou vat om geld te maak, het ek gewerk aan my eie projekte. Ek het juis die skryfwerk opgegee omdat ek gedink het – of wou glo – dat ek vinnig geld kon maak op ander maniere, om dan terug te keer na my skryfwerk, dié keer met genoeg geld om onder andere iemand te kan betaal om my materiaal te proeflees, en dalk selfs ’n paar klasse te kan kanselleer en sodoende meer van my eie tyd te besit.

______________________

Die persoonlike aard van familiegeskiedenis

DONDERDAG 7 APRIL 2016

’n Paar onlangse ontdekkings:

1. My ouer oupa, Johannes Jurgens Bornman, is gebore in die Vredefort-distrik van die destydse onafhanklike Boererepubliek van die Oranje-Vrystaat, op 16 Februarie 1900 – minder as ’n maand voor die Union Jack in Bloemfontein gehys is.

2. My jonger oupa, Barend Jakobus Lodewikus Smit, is gebore op 25 Mei 1913. Sy eersgebore suster, Martha Helena Smit, is gebore op 6 Mei 1900, en is oorlede op 11 Oktober 1901, gedurende die donkerste dae van die Anglo-Boere-oorlog.

3. My oupagrootjie Bernardus Gerhardus Smit is gebore op 20 Oktober 1874. Sy vrou, my oumagrootjie Martha Helena Coetsee, is gebore op 19 Junie 1880. Dit is heel waarskynlik te danke aan haar dat my oupa, my pa en ek Coetsee familiename het.

VRYDAG 6 MEI 2016

Ek vind familiegeskiedenis interessant om drie redes:

1. In die eerste plek is familiegeskiedenis ’n versameling stories – van mense, plekke, en tye anders as die tyd waarin ons tans leef.

2. Dit is ’n goeie ding om die name te herroep van mense wat dekades, en soms eeue al oorlede is, asof mens oor die tyd wil strek, hulle aan die skouer wil tik en wil sê: Dekades of eeue van nou af sal julle name steeds van tyd tot tyd genoem word – julle sal nie vergeet word nie.

3. Dit is interessant om die bronne van my genetiese samestelling, my biologiese self, na te speur – nie om te kan sê “wie ek is” nie, net om te kan sê: O, so dis hoe die lyn loop.

MAANDAG 9 MEI 2016

Familiegeskiedenis is persoonlik op wyses wat jy dalk nooit kon raai nie. ’n Deeltjie van die persoon wat jy sou word, was teenwoordig in al daai geslagte oor die eeue heen. Het een persoon nie met ’n sekere ander persoon afgehaak nie, het jy nooit bestaan nie. Selfde storie as een persoon nie ontydig gesterf en ’n weduwee of wewenaar agtergelaat het wat toe met ’n ander persoon getrou het nie.

Voorbeeld: Anna Margaretha Roos se eggenoot is vermoor saam met Piet Retief in 1838. Haar pa, haar broer en haar broer se twee kinders (of twee van sy kinders) is vermoor by Bloukrans kort daarna. Nou, as kind het ek geleer van Bloedrivier en Piet Retief en Bloukrans. Wat ek nooit besef het nie, was dat ’n deel van wat my genetiese samestelling sou word, teenwoordig was by van daai plekke. Het Anna Roos byvoorbeeld ook gesterf saam met haar pa en haar broer by Bloukrans, sou ’n deel van wat later my genetiese legkaart sou word, verlore gewees het, en sou ek derhalwe nie bestaan het nie. (Enkele jare later het sy weer getrou, dié keer met my oor-oor-oupagrootjie)

Vir die unieke samestelling selle wat ek sou word om gebore te word in Pretoria in Junie 1971, was dit van kardinale belang dat ’n lang lys van mense nie moes sterf vroeër as wat hulle wel uiteindelik gesterf het nie, en dat hulle moes trou en kinders moes verwek met presies die regte mense.

Belangrik om te noem: Indien hulle nie met daai mense getrou en kinders verwek het nie, sou hulle heel waarskynlik met ander mense ander kinders verwek het, wat sou gelei het tot die geboorte van ander unieke samestellings selle in 1971, of 1972, of 1973 … maar dit sou nie gelei het tot my eie geboorte, en my gevolglike bestaan die afgelope 45 jaar nie.

Vir my wese om te kon word, was dit dus belangrik dat mense wat draers was van spesifieke genetiese deeltjies, die dood op spesifieke tye en plekke moes vryspring – onder ander stelle omstandighede, die slagvelde van Natal in die 1830’s en dié van die Boererepublieke met die draai van die eeu.

My oupa aan moederskant Johannes Jurgens Bornman en ouma Maria Christina Magdalena Gertruida Cloete (getroud in 1924)
My oupagrootjie aan vaderskant Bernardus Gerhardus Smit en oumagrootjie Martha Helena Coetsee (getroud in 1897)

______________________