En so stap die tyd nogmaals aan

MAANDAG 4 APRIL 2016

Teen die tyd dat jy ’n jong volwassene is, 18 tot vroeë twintigs, is die mense wat die volgende geslag jong volwassenes gaan word, sewe tot 12 jaar agter jou – op daai stadium kinders, of hoogstens tieners aan wie jy jouself min steur.

Teen die tyd dat jy 30 is, is daai volgende groep geboortelinge gereed om jou en jou ouderdomsgroep se pas ontruimde plekke in te neem as “jong volwassenes”.

Teen die tyd dat jy 35 is, is daai groep self al tussen 23 en 28, wat beteken dit is glad nie onvanpas dat jy om dieselfde braaivleisvure staan as ten minste die ouer lede van die volgende geslag nie. Vriendskappe word dalk gesluit, en dis selfs moontlik dat jy romanties betrokke kan raak met iemand uit hierdie geslag.

Tyd stap aan. Jy tref 40. As jy dit nog nie uitgewerk of opgemerk het nie, gaan dit jou weldra tref soos ’n tert wat te lank in die son gestaan het: ’n volgende geslag het intussen hul opwagting gemaak, wat tussen sewe en 12 jaar jonger is as die geslag wat gevolg het op jóú geslag. Hierdie vars lede van volwassenheid is op hierdie stadium enige iets tussen hoërskool ouderdom en middel-twintigs.

En jy weet: As die wêreld behoort aan die mense met die meeste energie en lewenslus en ambisie en selfs naïewe idealisme, behoort die wêreld nou aan hierdie groep jong volwassenes.

Jy slaan 45, en die oudste lede van daai hele tweede geslag wat ná jou volwassenheid bereik het, is al 30 jaar oud. Van hulle is al getroud. Sommige het al kinders. Kans is dat van hulle vir jou werk, maar dit is ook moontlik dat jy vir een van hulle werk, dat ’n lid van hierdie geslag vir jóú instruksies gee oor wat om te doen en wat om eerder nie te doen nie.

Jy is grootliks ’n vreemdeling vir hierdie “tweede” groep nuwe volwassenes, maar jy het ’n idee wat vir húlle belangrik is. Verwysings word gereeld gemaak op TV en in alledaagse gesprekke oor húlle voorkeure en modegiere, en dit is húlle opiniestukke en ongepoetste prosa wat op literêre webwerwe vorentoe gedruk word.

Kans is skraal dat julle sosiale sirkels ooit sal kruis. Julle skuifel ietwat styf verbymekaar in stampvol kuierplekke. Kom julle in ’n situasie waar stilte ongemaklik sal wees, is hulle dalk onwillig om te veel te sê, want hulle verwag dalk dat julle, soos hulle ouers, krities sal wees oor hulle voorkoms, en oor die keuses wat hulle maak. En jy is dalk self nie te spraaksaam nie, want jy wil nie oud klink nie, en die hemel behoed jou as jy die indruk moet skep dat jy probeer “hip” wees.

En so stap die tyd nogmaals aan. Die veertigs, so het iemand opgemerk wat jare gelede al deur die vreemde proses gegaan het, is die bejaarde jare van jou jeug – en jou vyftigs die jeugjare van jou bejaardheid.

Een ding in hierdie vyfde dekade van jou lewe is niks nuuts nie: Indien jy gelukkig genoeg is om tyd te kan afknyp in die gejaag om aan die lewe te bly, vind jy dalk net dat jy weereens probeer uitsorteer wie en wat jy is en wie en wat jy wil wees, min of meer gebaseer op wie en wat jy was 10 en 20 jaar gelede, en in ag genome wie en wat jy hoop om te wees in die toekoms – mits jy oor twee of drie dekades jouself nóg bevind in die land van die lewendes.

______________________