Snaaks hoe dinge uitwerk

DINSDAG 22 OKTOBER 2013

Net voor ek intrek by een van slegs twee oop parkeerspasies by die supermark (dink spasies breed genoeg vir fietse, bromponies en motorfietse), parkeer ’n vrou en haar seun in die ruimte langsaan. Maar sy parkeer skeef, oor die ruimte waar ek my fiets moet staanmaak. Soos sy wegstap, kyk sy oor haar skouer. Sy sien sy’t skeef geparkeer. Sy sien ek moet by die spasie ingaan waar die voorste ent van haar bromponie staan. Sy draai haar kop weg, en stap by die supermark in.

My beskouing van haar is eenvoudig: Sy’s ’n barbaar.

Hoe anders? Sy verwag heel waarskynlik dat ander mense redelik sal optree teenoor haar in ’n parkeerarea, maar sy doen presies die teenoorgestelde. Ook, as almal moet doen wat sy gedoen het, sal daar chaos en konstante konflik wees. Nie net is sy nie ’n redelike mens nie, sy tree nie rasioneel op nie.

Ek het haar ’n vuil kyk probeer gee by die groente-afdeling, maar sy het weggekyk.

Hoe anders? (Of dink ek te veel?)

In ander nuus, ek het ’n noue ontkoming gehad kort voor my ontmoeting met die barbaarse vrou. Ek was besig om deur die tonnel te ry wat onderdeur die treinspoor gaan naby ons woonstel. Voor my was ’n ander fietsryer. Ek hou altyd regs in die nou tonnel sodat mense op bromponies my kan verbygaan, maar in hierdie geval kon ek sien dat ek die ander fietsryer sou moes verbysteek. Net soos ek toe verby hom skuur, hoor ek ’n helse knal. Ek kyk toe om en sien dat die ander ou oor iets gery het wat sy agterwiel se band laat bars het.

As hy nie daar was nie, het ék oor die skerp voorwerp gery. Wat beteken ek sou nie supermark toe gegaan het nie, en derhalwe nie die barbaar teëgekom het nie. Wat verder beteken dat ek nie rede sou gehad het om hierdie kort stukkie teks te skryf nie, wat beteken dat jy nou iets anders sou gelees het.

Snaaks hoe dinge uitwerk.

______________________

My vyf lewens in Taiwan, sover

DINSDAG 1 OKTOBER 2013

Ek ry oor die treinspoor, kyk in die rigting van Fengshan treinstasie oor die donker, industriële vlakte. Oudergewoonte dink ek iets in die lyn van, “Ek is nog steeds hier, in Taiwan.”

Besef ek toe dis nonsens – dis letterlik nie waar nie.

Die persoon wat hier aangekom het in Januarie 1999, bestaan nie meer nie. Hy’t nie gesterf of weggegaan nie, hy het … gereïnkarneer in ’n ander persoon in. En daai persoon het weer gereïnkarneer in ’n ander persoon in, ensovoorts. Al hierdie mense, as biologiese voortsettings van die persoon, “Barend Smit” (beter bekend as “Brand Smit”), en as “erfgename” van die naam, was wettiglik en moreel verantwoordelik vir enige wandade gepleeg of ooreenkomste aangegaan deur vroeër inkarnasies van “Barend Smit”. Latere inkarnasies is ook steeds geprys vir goeie dinge wat “hy” gedoen het, en is ook steeds intiem gekoppel aan sekere mense – ook op hul eie meer onlangse inkarnasies van vroeër weergawes, almal op hul eie persoonlike reise.

Ek reken ek het al vyf lewens gehad in Taiwan: Brand wat hier gearriveer het in Januarie 1999 – enkellopend, roker, dromer, bietjie kwaad vir die wêreld … wat gereïnkarneer, of getransformeer het in Brand van 2001 – kreatief, ambisieus, effens manies … wat gereïnkarneer of getransformeer het in Brand van 2005 – ernstige romantiese verhouding … wat op sy beurt gereïnkarneer of getransformeer het in Brand van 2006 – desperaat om ’n beter lewe te kan voorsien aan homself en die spesiale vrou in sy lewe, obsessief daaroor om geld van die huis af te maak … wat uiteindelik gereïnkarneer of getransformeer het in die mees onlangse inkarnasie, Brand van 2011 – getroud, nie-roker, weereens toegewyd aan kreatiewe projekte, steeds ernstig oor finansiële welvaart maar ook versigtig om nie sy tyd en geld te mors nie.

______________________