Vonke en ware liefde, in ’n neutedop

MAANDAG 10 NOVEMBER 2008

Daar is ware liefde, en daar is seksuele aantrekking. Daar is liefde wat ’n leeftyd duur, en daar is vonke van seksuele begeerte.

Soms voel jy seksueel aangetrokke tot ’n persoon, jy vat ’n kans, en jy geniet dit vir solank dit hou. Bly julle bymekaar, sal die seksuele aantrekking egter op een of ander stadium aangevul moet word met iets meer substansieel, naamlik liefde, die soort wat ’n leeftyd kan duur, tot lank nadat die vonke minder vurig geraak het en jy jouself vang dat jy soms wonder hoe dit met iemand anders sal wees.

Ek kom nou die dag af op ’n storie van ’n man wat halsoorkop is oor ’n vrou. Die vrou dink die man is ’n aangename ou: hy is gaaf, kan lekker gesels oor interessante dinge, maar dis waar dit stop vir haar. Sy wonder of ’n mens ’n hart wat nie vinniger wil klop nie, kan forseer. Sy dink byvoorbeeld wat ’n mens doen met seksuele begeerte, wat immers ’n eerlike fisiese reaksie is op iemand se teenwoordigheid.

Dit wil blyk asof die vrou in die betrokke verhaal haarself ’n baie spesifieke lewe voorstel saam met die man, sou sy kies om saam met hom te wees, ’n lewe waar dinge altyd sal wees soos dit nou is: hy is mal oor haar, sy trek terug. Vyf jaar later: hy is steeds mal oor haar, sy bly afsydig. Twintig jaar later: hy is nog steeds lief vir haar; sy gee om vir hom, maar sy is nie warm teenoor hom nie, en sy dink elke nou en dan terug aan die affair wat sy soveel jare gelede gehad het met die ou wat soos ’n filmster gelyk het.

In my opinie lyk die werklikheid in vele gevalle ietwat anders: die skaflike man is tans by X+20, en die vrou is by X+2; na twee jaar is hy by X+15, en sy is by X+7; na 10 jaar kan sy haarself nie ’n lewe sonder hom voorstel nie; hy is steeds baie lief vir die vrou – hy bring nog steeds op Sondae vir haar ontbyt in die bed, maar vonke steek nie meer van sy kant af die muurpapier aan die brand nie. Dit is hoe die lewe soms is, in ’n neutedop.

Natuurlik kan dinge heeltemal skeefloop tussen die vrou en die man wat nie soos ’n filmster lyk nie. Sy fakkel begin dalk dowwer te brand na ’n paar jaar, en hy begin dalk rondkyk na ander vrouens net soos die vrou in sy lewe al hoe nader aan hom wil wees. Dit is ook hoe die lewe soms uitdraai, in ’n ander neutedop.

______________________

Vreemde bestanddele, en die invloed daarvan op kultuur

DONDERDAG 6 NOVEMBER 2008

Ek het afgekom op die onderstaande teks toe ek vlugtig deur die boek, Die Prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging gelees het (eerste publikasie, 1922). Mens kry soms die idee onder Afrikaanse mense dat hulle dink progressiewe idees oor Afrikaanse kultuur en literatuur het nie daglig gesien in Suid-Afrika voor die sestigs of selfs so laat as die laat-tagtigs nie. Dat hierdie teks dateer uit die vroeë twintigs, sal derhalwe as ʼn verassing kom vir sommige mense (ek weet ekself was aangenaam verras).

“Ook onder ons kunstenaars is daar [dié] wat met bangerige angsvalligheid alle buitelandse invloede van ons wil weer, wat hul krag soek in ’n benoude, stikagtige isolement. Hul hoop om op dié wyse ’n suiwer Afrikaanse kuns te kan opbou, vry van alle basterdelemente. Ons moet maar aansukkel op ons eie doringpaadjie, omdat ons toestande so glad anders is as in die ouere kultuur-lande. Dat hierdie rigting totaal verkeerd is, word al dadelik bewys deur die feit dat ons beste kunstenaars juis onder die inwerking van buitelandse invloede hul skoonste werk geskep het. Die egte kunstenaar laat hom nie verbaster deur ’n vreemde kultuur nie. Hy ontleen daaraan wat vir die volle ontplooiing van sy gees diensbaar is, en vervorm en verwerk die vreemde bestanddele dan tot ’n suiwer nasionale kunswerk. ’n Volk wat nie sy man kan staan teenoor vreemde invloede nie, gaan te gronde en so ook die kunstenaar. Maar met reg kan ons van hom eis, dat hy ons blik sal verruim en ons in intieme aanraking bring met die kuns ook van ander lande. Isolering op letterkundige gebied sou beteken opdroging, sou aanleiding gee tot ’n eindelose herkouery. Laat ons kunstenaars dus gerus van alle oorde hul gees verryk. As hul mans genoeg is, sal hul selfstandigheid niks daaronder ly nie en ons kuns sy nasionale stempel behou. In elk geval geen Chinese muur rondom Suid-Afrika nie!”

Bron: Die Prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging, deur Pieter Cornelis Schoonees (1922)

Goed, daar is ’n paar verwysings wat dit duidelik maak dis nie geskryf in die laaste dekade nie, maar die oproep daartoe om nie bang te wees vir “vreemde invloede” nie maar dit te gebruik om jou eie kuns en literatuur beter te maak, ten volle te ontplooi, soos die teks sê, is duidelik genoeg.

______________________