Hoekom ek doen wat ek doen – solank ek nog staande is

DONDERDAG 4 SEPTEMBER 2008

11:17

Hoekom ek doen wat ek doen: ’n gesprek met myself op pad na die 7-Eleven toe laat gisteraand

Rede een: Wantroue, vandat ek 14 jaar oud was, in ’n volwasse lewe van kry ʼn werk, trou, koop ʼn huis op skuld, koop ʼn kar op skuld, kry kinders … dan draai die ekonomie of daar’s een of ander fokop wat beteken jy’t skielik nie meer ʼn werk nie, jy raak desperaat, jy maak nog skuld, jy trek na ’n ander stad toe, jy ruil die kar in vir ’n skedonk, jy verduidelik jou situasie aan vriende en familie en vreemdelinge, jy raak nog meer desperaat tot jy op ʼn punt kom waar jy bereid is om enige iemand “baas” te noem of enige iets te doen, net sodat jy nie nog ʼn maand sonder ʼn inkomste hoef te sit nie.

Rede twee: Selfs toe ek moes voorberei vir ʼn beroep, het belangstellings in geskiedenis en godsdiens swaarder geweeg as vakke soos personeelbestuur of bemarking.

Rede drie: Aan my, soos aan miljoene ander, is ’n geskenk gegee, en ek sal verdoem wees as ek nie my lewe aanwend tot iets beter as ’n middelmatige bestaan nie.

MAANDAG 22 SEPTEMBER 2008

18:29

Ons hoor gereeld onsself en ander mense dinge sê soos, “My lewe behoort beter te wees,” “X moet eintlik Y wees,” “A moet eerder B wees.” Mens herinner jouself ook gereeld daaraan dat die lewe nooit heeltemal werk soos jy dit wil hê nie. Jy doen jou bes, en jy probeer tevrede wees met wat jy het. Tog streef jy elke dag vir ’n beter lewe, om dinge te verbeter.

Meeste van ons weet die lewe is ’n stryd – vir ’n hoër bestaansvlak. Soms slaag jy in hierdie stryd, en jou lewe is beter van daai dag af. Soms sukkel jy vir wat voel soos ’n ewigheid, en jy bly skaars staande. Maar – en ek weet ek het hierdie beeld meer as ’n paar keer al gebruik, maar hier kom dit weer – as jy nie op die grond lê nie, beteken dit jy staan nog. En solank jy nog staande is, stry jy voort.

______________________