Ellendes wat my jaag – besonders donker benadering

WOENSDAG 14 JUNIE 2006

23:05

“Hoe op aarde kan ons die volle waarheid weet as ons nie al die data het nie? Hoe op aarde kan ons absolute stellings maak? Ons aanvaar dinge soms in geloof, maar hoe kan ons van ander verwag om dieselfde artikels van geloof te aanvaar?” (uit ’n gesprek oor die maan)

VRYDAG 16 JUNIE 2006

17:00

Sewe jaar gelede het ek gesê twee ellendes jaag my al vandat ek kan onthou. Alleen is ek nie meer nie, tog is eensaamheid iets wat maar altyd met ’n mens is omdat selfs dié met wie jy intiem betrokke is, nie altyd jou vrese en jou sorge deel nie. Armoede, of dan om platsak te wees, is ’n ellende waarmee ek nog stry dat die bloed spat.

DINSDAG 20 JUNIE 2006

20:45

Soos ’n paranoïese diktator in ’n polities onstabiele land, of soos konings in die Middeleeue wat altyd ’n oog moes hou op ander lede van die aristokrasie, so is dit met my: as ek nie my energie voltyds fokus op iets nie, draai my energie op die bron – ekself.

DONDERDAG 29 JUNIE 2006

17:40

Onlangse onthullings het die gedagte gebring dat my Internet projekte herinner aan ’n paar ander projekte uit my persoonlike verlede. Ek spring weg met tien keer meer entoesiasme as verstand, en geen behoorlike voorbereiding, beplanning of idee van presies wat dit is wat ek wil doen nie. Ek doen ’n klomp werk, dan kom ek tot stilstand, dan kyk ek wat ek het en waarheen ek op pad is, en dan beweeg ek verder na deeglike oorweging. Ek moet ook erken dat ek onwillig is om die kritiese eerste drie maande of so na ek ’n idee gekry het vir ’n projek, te spandeer op voorbereiding en beplanning.

Die goue lyntjie om hierdie besonders donker wolk: ek is besig om daaraan te werk.

______________________

Moeg, maar kan die volgende transformasie nie stop nie

DONDERDAG 1 JUNIE 2006

17:23

Ek voel moeg, my kop pyn, my lyf is seer, en ek is gatvol daarvoor dat om platsak te wees ’n definiërende kenmerk geword het van die lewe van “Brand Smit”. Ek werk hard. Ek werk fokken hard. Ek werk dag en nag en naweek. Ek werk harder as meeste mense wat ek ken, maar ek het minder geld as just about everybody I know.

Dis ook nie ’n geval dat ek verkeerd werk nie. My voorkeur van projekte is … waar die moeilikheid inkom. Ek verkies groot, fantasties ambisieuse projekte wat, wanneer dit klaar is en die spreekwoordelike groen knoppie gedruk word, dit lewensveranderende resultate teweeg sal bring.

Maar tot dan – moet my lyf en my kop maar seer wees, en ek moet maar vrede maak daarmee dat ek wonder waar ek voor die twintigste van die maand NT$7500 vandaan gaan kry.

WOENSDAG 7 JUNIE 2006

10:22

Dit is onmoontlik om 100% “rein van hart” te bly in hierdie wêreld. Of eerder, die enigste manier om ten volle rein te bly, is om ten volle te onttrek van hierdie wêreld. (Wat ek bedoel met “rein”, is vir ’n persoon om alle aksies te vermy wat skade kan berokken aan ’n ander persoon of enige dier.)

Om te onttrek is natuurlik ’n selfsugtige aksie wat geen moontlikheid inhou van bystand aan enige mens of dier in nood nie.

Om betrokke te wees by hierdie wêreld, of om aktief te wees binne hierdie wêreld, sal noodwendig soms lei daartoe dat besluite geneem word en aksies gevolg word wat skade sal berokken, direk of indirek, aan mens, dier, of omgewing. Maar jou teenwoordigheid in hierdie wêreld, of jou betrokkenheid met die wêreld, is dalk juis die noodsaaklike teenwig vir veel groter skade wat iemand anders aanrig.

Hoe moet ʼn mens hierdie werklikheid benader?

DINSDAG 13 JUNIE 2006

18:46

Ek is effens moeg, maar ek is nie net moeg vir die rekenaarwerk nie, ek is ook moeg vir my rusbank. Ek is ook moeg vir my bed, my handdoeke, my badkamer en my wasmasjien. Dit voel asof ek myself leeg tap voor ek my volgende transformasie ondergaan: die wording van ’n man wat rustiger leef, meer lees en uitgaan, meer slaap inkry en niks meer as agt ure per dag werk nie.

Ding is, ek het groot planne vir hierdie mens wat ek eendag gaan wees. En om hierdie planne te realiseer, moet ek myself eenvoudig op hierdie stadium ’n bietjie harder druk.

21:20

Uitstaande kenmerke wat jou lewe op stadium X gedefinieer het wat teen stadium Y “verval” het, en kenmerke wat in stadium Y jou lewe definieer, wat op stadium X glad nie ’n rol gespeel het nie. Dit impliseer dat jy op een of ander stadium stadig maar seker opgehou om X te wees, en begin het om Y te word.

Dus: stop, en begin om te word.

21:23

Sekerlik is daar vele mense wat nooit bewus is van hierdie proses nie. Die intellektueel verligte persoon is nie net bewus van hierdie proses nie, maar kan berekend wees daaroor.

______________________