Die sirkelbestaan van die geaktiveerde marionet

DONDERDAG 13 APRIL 2006

12:59

Ek voel soms soos ’n marionet wie se verstand lewendig geraak het (die idee kom uit Fritz Leiber se boek, You’re All Alone): intelligent genoeg om te sien wat ek sien, maar intellektueel onbevoeg om die volle waarheid te weet of te verstaan, vasgevang in ’n skemeragtige half-lewe.

Watse advies sou ek gee vir iemand in my posisie?

Ek sal sê, vat wat jy wel weet en verstaan, en poog om resultate van jou bestaan te bewerkstellig wat meer positief is as negatief.

Ek reken dis goed genoeg vir ’n mens vasgevang in die skemer, of hoe?

WOENSDAG 19 APRIL 2006

Ek het gister hierdie gedagte gehad dat as mense met my praat en hulle versoeke of opinies nie redelik is nie, gaan ek bloot alles ignoreer wat hulle sê, ’n tipe van skrap-die-klanke-uit-my-korttermyn-geheue oordeel.

Vanoggend heroorweeg ek dit: Soms het mense net nodig om uitdrukking te gee aan emosie wanneer hulle ’n versoek maak, of ’n opinie uitspreek of ’n stelling maak. Soms is dit nodig dat jy net moet luister.

15:14

Enige behoefte wat die mens het – na kos, slaap, liefde, seks, kreatiewe vervulling of finansiële sukses – het te make daarmee om iets stil te maak. Hierdie “stilte” waarna die mens streef, is spanningloosheid, om ’n bestaanstoestand in te gaan wat in ekstreme vorm geassosieer word met óf voor-geboorte, óf dood.

DONDERDAG 20 APRIL 2006

10:19

Elke mens se “wêreld” kan vergelyk word met ’n sirkel – kompleet en, tot ʼn groot mate, geslote. Binne hierdie sirkel van mense, waardes, begrip, ensovoorts speel sy of haar daaglikse bestaan af.

Ek lees tans ’n boek wat afspeel in 1988 Suid-Afrika, met die hoofkarakter wat uitgebeeld word as ’n goeie ou van die Veiligheidspolisie. Die boek dien as voorbeeld van ’n volledige sirkel waarbinne dinge sin gemaak het en georden was op ’n spesifieke wyse. Dit dien ook as Dokument van ’n Spesifieke Kultuur-Historiese Konteks – op soortgelyke wyse as wat Dostoyevsky se Crime and Punishment ’n dokument is van die spesifieke kultuur-historiese konteks wat St. Petersburg was in die 1860’s.

______________________

ʼn Paar dae weg van Benewelde Lig

WOENSDAG 5 APRIL 2006

15:50

Dag 4 van my vakansie in Suid-Afrika

Van die begin af was hierdie vakansie anders as al die voriges. In die eerste plek het ek nie alleen hier aangekom nie, en ek gaan nie alleen hier weg nie. In die tweede plek woon my ouer suster en haar gesin nou in Johannesburg. Derdens, my ou vriendin en geselsgenoot van Taiwan is nou in Kaapstad.

Twee vrae het van die begin af saamgereis, saamgekuier, en saam met my oor die grasperk gedrentel opsoek na ’n plek om ’n sigaret te rook: “Wie is ek?” en “Hoe het ek verander?”

Die antwoord op die eerste vraag is, na deeglike oordenking, soortgelyk aan die antwoord wat ek gegee het in Februarie 2005, Augustus 2004, en Julie 2003: skrywer, digter, vrydenker, man met ’n self-gedefinieerde agenda, seun, broer, vriend, en entrepreneur in wording.

In antwoord op die tweede vraag kan ek tot dusver net antwoord dat ek rustiger is – of moeg. Dit voel asof ek genoeg gepraat het vir eers, asof ek opinies geformuleer het oor al die belangrike dinge waaroor ek opinies wou formuleer. Natuurlik is daar kwessies waaroor ek nog nie ’n opinie geformuleer het nie, maar hier skop ’n nuwe ding in: Ek is deesdae meer onwillig om ’n opinie uit te spreek as ek nie oor voldoende data beskik nie. Ek is nie meer so gretig om met die opper van ’n vraag op my seepkas te spring en almal te probeer stil praat met ’n haastig geformuleerde opinie nie. Absolute stellings, en selfs voorlopige stellings, moet deesdae voorafgegaan word met goed geformuleerde vrae.

MAANDAG 10 APRIL 2006

08:23

Dag 5 in die Kaap – sover ʼn gelukkiger en interessanter tyd as enige ander tyd wat ek in die Kaap deurgebring het sedert Februarie 1996

Vrydag ry ons op die N1. Soos ons verby Monte Vista ry waar my ouers en my jonger suster vir ’n paar maande gewoon het in 1992 in ’n beknopte huisie langs die spoorlyn, met hulle finansiële situasie uiters benard, gooi ek my wysvinger gemaak ongeërg agtertoe en sê vir Natasja, “My ma-hulle het op ’n stadium in daai tweede huis van die brug af gebly.” Asof dit nooit saakgemaak het nie. Asof ek nie juis daai tyd kan onthou nie.

Gister in Stellenbosch trek my brein ook heel onskuldig die heeltyd dokumente uit stowwerige ou lêers elke keer as ek ’n bekende straat, straathoek, gebou, plein, biblioteek of eetplek sien. Vreemd, en amper gerusstellend, hoe vlak sekere gevoelens en onsekerhede lê.

* * *

Elke mens het ’n omgewing waar hy of sy optimaal funksioneer – waar jy op jou beste is, of waar jy jou beste werk produseer. Die omgewings waar ek tans vakansie hou, vereis van my ’n bepaalde verskyning – om beleefd te wees, om goeie geselskap te wees, om ’n goeie gas te wees, ensovoorts. Hoewel ek reken ek oukei doen daarmee, is ek bewus daarvan dat hierdie nie die omgewings is waarin ek optimaal funksioneer nie. Ek doen geen werk hier nie, ek produseer niks, ek skep niks. En hierdie is dinge waaraan ek waarde heg om myself te definieer en myself te onderskei van ander mense rondom my.

DONDERDAG 13 APRIL 2006

08:52

’n Week in die Kaap, amper twee weke uit Benewelde Lig, sien die volgende gedagte as resultaat:

Religie – ritueel – omgewing met kernpunt – omgewing verander – ritueel word nie geadministreer nie vanweë afstand van kernpunt – religie word ondermyn

Identiteit – aksies wat identiteit bevestig– omgewing met kernpunt – omgewing verander – aksies wat identiteit bevestig kan nie gedoen nie vanweë afstand vanaf kernpunt – identiteit word ondermyn

Resultaat: selfvertroue word ondermyn, spanning verhoog, potensiaal vir interpersoonlike konflik neem toe

Kort-termyn oplossing: geloof

______________________