Stellings en vrae – vier doelwitte

SONDAG 17 JULIE 2005

Uit die nuutste Sarie: “[Vroue] werk met tradisionele rolomskrywings wat dikwels godsdienstig gesanksioneer word.” En, “Min mense is ‘van nature’ self-opofferend. Vroue is so omdat hulle dink dis hul enigste bestaansreg.” Ook, “Jy kry positiewe reaksie as jy die ‘tipiese’ rol vervul. Jy weet klaar wat jou rol eendag gaan wees en daarom ontwikkel jy nooit sekere eienskappe nie – wee jou as jy buite daardie spore beweeg.” (UNISA teoloog, Christina Landman)

MAANDAG 18 JULIE 2005

Naderende storm maak my angstig. Tydens die storm self is ek kalm.

DINSDAG 19 JULIE 2005

Die Ideale Self is nie ’n vreemde entiteit wat jy ontmoet aan die einde van ’n lang reis waarmee jy dan plegtig saam smelt nie. Die Ideale Self is reeds binne jou.

MAANDAG 25 JULIE 2005

10:25

Uiteindelik kom alle vrae oor eie identiteit, geloof, oortuigings, geïntegreerde beskouing van bestaan en lewensfilosofie neer op ’n praktiese aangeleentheid: Hoe moet ek funksioneer? Hoe moet ek leef van slaap tot slaap? Wat moet ek doen met die bestaan wat ek nie anders kan as om te erken nie?

15:45

Al daai vrae van die 10:25 teks kom neer op meer as net funksionering. Dit kom ook neer op die resultate wat jy sal agterlaat van jou bestaan.

* * *

Ek maak ’n stelling: My gunsteling kleur is groen. ’n Ander persoon hoor dit en dink, “Wat is my gunsteling kleur?”

Ek sê, “As ek NT$100,000 het, sal ek vir drie maande lank China toe gaan.”

Die ander persoon sê, “O. Wat sal ek doen as ek NT$100,000 het?”

Ek sê, “Die doel van my lewe is om ___________.”

Die ander persoon hoor dit, en dink na oor sy of haar eie lewe. “Wat is die doel van mý bestaan?” sal die persoon vra.

Die punt is dus nie om net vrae te vra nie, maar om ook te sê wat jy glo, wat jy doen, en hoe jy dinge sien. ’n Ander persoon hoor wat jy sê, of lees wat jy geskryf het, en ’n innerlike stem skop ook in by daai persoon, wat dan van dieselfde vrae vra wat jy oor die jare gekontempleer het.

18:50

Vraag: Waaroor gaan die lewe? (Een van verskeie moontlike formulerings van wat in beginsel dieselfde vraag is.)

Antwoord: Funksionering + Eindresultate

SATERDAG 30 JULIE 2005

My vier doelwitte in die lewe is as volg:

1. Om gelukkig te wees, en as ek gelukkig kan wees saam met iemand, sal dit uitermatig goed wees.

2. Kreatiewe onafhanklikheid – om te kan skep, om te kan produseer wat ek goedvind, en nie soos dit gedikteer word deur ander nie.

3. Finansiële onafhanklikheid – om nooit in enige iemand se oë hoef te kyk vir geld nie; om oor voldoende kapitaal te beskik om die volgende moontlik te maak: kreatiewe onafhanklikheid, in werklikheid en nie net as ’n ideaal nie; om dinge te kan doen wat my gelukkig maak; om ’n huislike omgewing te kan skep, of om mede-skepper te wees van ’n tuiste, waar ek gemaklik kan werk, kuier en rus; om ’n lewenstyl te kan bekostig wat ek al vir jare lank nastreef.

4. Om ander mense by te staan in húlle stryd om oorlewing, en/of om van waarde te wees in hul eie pogings om ’n begrip te ontwikkel van hul bestaan wat hulle in staat sal stel om gelukkige en produktiewe lewens te kan lei; ook om by te dra tot ’n gesonder habitat vir mens en dier.

______________________

Geïntegreerde beskouing van bestaan – iets gebreek – spirituele dimensie

DINSDAG 12 JULIE 2005

14:10

Wat is ’n geïntegreerde beskouing van bestaan?

Vir my bring dit Freud en Christus bymekaar, samelewing en bloedselle, mense en diere en bome, die verlede, die hede en die toekoms. Dit bring bymekaar wat in die mens se psige aangaan, wat tussen twee individue plaasvind in uiteenlopende situasies, en hoe een gemeenskap voortbestaan in harmonie met ’n ander. Dit bring wetenskap, chemie, sielkunde, religie, filosofie, geskiedenis, antropologie, sosiologie en biologie bymekaar.

Dit stel jou in staat om te kyk na jouself, na alles om jou, na alles wat volgens geloofwaardige bronne op ander plekke gebeur, en op ander tye gebeur het, en na ander mense wat soortgelyke ervarings van die werklikheid het as jyself, of totaal verskillende ervarings, en te verklaar dat “dinge” sin maak – of ten minste op so ’n wyse dat jy kan funksioneer in die tyd en omgewing waarin jy jouself bevind.

17:41

Ek kry vanoggend die gevoel dat iets gebreek is, of iets wat voorheen gewerk het, nie meer werk nie. Ek oorweeg dit toe, siende dat dit klink soos ’n ernstige aangeleentheid. Na ’n paar minute reken ek: Freud het gepraat oor die mens se strewe na konstante energievlakke; ek kan beslis sê dat my interne stabiliteit versteur was die afgelope drie weke. Daar was die afwesigheid van die persoon aan wie se intieme teenwoordigheid ek gewoond geraak het die afgelope paar maande. Daar was die pyn en ongemak van die laaste twee weke in my gesig – ongemaklik naby aan ’n mens se sentrale punt van bewussyn, en derhalwe moeilik om te ignoreer. Laastens was daar my rekenaar – my primêre instrument van uitdrukking, die belangrikste instrument in die realisasie van literêre projekte en ander kommersiële projekte, en oor die algemeen my herberg in tye waar TV, movies, of mense nie my gemoed kan verlig nie. Hierdie was alles dinge wat ’n besliste uitwerking gehad het op my energievlakke, en op my algemene bewussyn. Iets wat gebreek is? Iets wat nie meer werk nie? Ek moet bogenoemde oorweeg voor ek enige iets uitmekaar begin haal.

20:18

Kennis bring kalmte, en ondermyn irrasionele angs. As ek byvoorbeeld geweet het alles gaan uitwerk oor die volgende paar maande – skryfprojekte, besigheidsprojekte, my en [N.] se verhouding, geld, skedules, vakansies, familie, en so meer, sou ek dan kalmer gewees het?

Gepraat van kennis: Wat sou ek dink daarvan as ek toegang moes kry tot verifieerbare, onweerlegbare bewyse dat daar ’n “spirituele” dimensie is – en dat hierdie dimensie gevul is met beide goeie en slegte “geeste” (of entiteite), en dat wat jy doen met jou lewe in die “aardse” dimensie ’n effek sal hê op watter kant van die lyn jy sal eindig na jy jou laaste asem uitblaas? Dat die Christelike konsep van “hemel” en “hel” ’n simplistiese weergawe is van wat gebeur met jou “gees”. Dat dit inderdaad ’n komplekse proses is van suiwering, moontlik selfs hergeboorte, lesse leer, keuses maak, ontvanklik wees vir rigtingwysers wat jou in staat sal stel om voort te gaan op jou spirituele reis. Dat dinge wel gebeur met ’n doel. Dat sekere mense oor jou pad kom, of “gelei” word deur komplekse manipulasie deur goeie “geeste”, om jou te help – of selfs ’n geval van wedersydse konstruktiewe invloed in iets soos ’n verhouding, maar dat daar nie ’n sentrale figuur is wat toutjies trek en die een red van ’n ongeluk en toelaat dat ’n ander een gewelddadig vermoor word nie. Wat sou ek sê, of wat sou my posisie wees, as ek moet wéét dit is die waarheid?

______________________

Opinie – Stem van die Anderkant – geloof

MAANDAG 11 JULIE 2005

11:35

Ons almal het opinies van mekaar. Sommige mense sal moontlik effens geskok wees as hulle moet weet wat ek regtig van hulle dink, en so sal ek dalk geskok en ietwat verontwaardig wees as ek moet weet watse lae opinie party mense van my het.

Voordat ek vir mense sê met hoeveel erns ek hul opinie bejeën, sal ek graag vir hulle wil vra om vir my die skaal te wys waarmee hulle mense weeg. My vermoede is dat vele mense se skale primitiewe, saamgeflanste instrumente is wat net sowel uit die Middeleeue kan kom.

As jy jou saak stel en my kan oortuig dat jou maatstawwe redelik is, sal ek jou bedank vir jou eerlike en konstruktiewe opinie. Indien ek egter nie beïndruk is met hoe jou opinie gevorm is nie, sal ek duidelik wees in myne. Dankie dat jy die moeite gedoen het om ’n opinie oor my uit te dink, sal ek sê, maar jou opinie is belaglik, en hoef derhalwe nie met erns bejeën te word nie.

(Tensy … die persoon se opinie van jou dreig om oor te gaan in aksie teen jou wat jou kanse op oorlewing, of jou optimale funksionering, sal ondermyn. Die persoon se opinie hoef dus nie soseer dan met meer erns bejeën te word nie, maar die persoon moet wél behandel word as ’n ongesofistikeerde barbaar, of ’n wilde dier wat jou skade kan berokken.)

12:34

Ek weet dit nou: jy stap nie weg van tien dae se amper onophoudelike pyn en ongemak in jou gesig sonder ten minste ’n kraak in jou moraal nie.

12:51

Laaste paar dae se notas maak dit duidelik dat ’n gedagte aan die broei was. Ek is kwaad vir myself, en dit het te make met een ding: my lewe – en met lewe bedoel ek die ure wat ek wakker is elke dag – is gevul met take, doelwitte, projekte wat afgehandel moet word sodat ek meer take kan uitdink, en meer projekte kan begin, en meer doelwitte kan nastreef. En dan tref ’n bus my, en waaroor sal ek die spytste wees? Geluk. Daar’s so fokken min geluk in my lewe dat dit my naar maak. En ek het so ongelooflik baie geleentheid vir geluk.

Die afgelope twee weke was bevorderlik vir hierdie insig – my mondpyn, [N.] se afwesigheid, al die take wat ek afgehandel het, my nuwe rekenaar, die hersieningswerk aan “Persoonlike Agenda”, en tog … daar’s altyd nog take, nog projekte, nog doelwitte! Daar’s geen einde daaraan nie! Ek werk my fokken gat af! Ek bekommer myself vrek oor geld en wanneer ek weer Suid-Afrika toe gaan en hoe ek verskyn! Staan op, werk, dink, skryf, eet (bekommer my daaroor om nie vetter te raak nie!), kyk bietjie TV (nie te veel nie want daar’s werk en take wat wag), en dan gaan slaap ek weer. En dan staan ek weer op en stort en werk, en eet en streef doelwitte na en dan tref ’n bus my. En dis alles oor. En die vrou by die teestalletjie maak steeds tee elke dag, en kinders gaan nog steeds Engelse klasse toe, en nuwe TV-programme word gemaak, en hierdie Sondagaand is daar ’n nuwe feature movie op HBO.

En aan die ander kant van die Groot Rivier staan ek, en ek besef: take is belangrik; doelwitte is belangrik; projekte lewer resultate van ’n betekenisvolle lewe op. Maar as dit jou nie geluk gebring het nie, nie net in jou “lewe” nie, maar in jou ure elke dag, was dit dan werklik ’n lewe wat die moeite, die swaarkry, die vernederings, die verleenthede, en die tandpyn werd was?

14:50

Die tyd het aangebreek om ’n nuwe stem te kultiveer: Die Stem van die Anderkant.

Die Stem van Rede sal byvoorbeeld sê: X=2. Die Stem van die Anderkant sal sê hoeveel dit saak maak – van die ander kant af.

22:57

Dat enige iets bestaan of ooit bestaan het buite wat jy nou ervaar of kan waarneem met jou sintuie, is geloof – of dalk eerder, dit kan voorgestel word op ’n skaal van waarskynlikheid. Alle historiese “feite” is saamgestelde weergawes van gebeure in die verlede wat ons glo gebeur het, en soos dit aan ons vertel word. Ons kan slegs glo dat dit waar is (of was) omdat ons bewussyn, en enige eerstehandse ervaringe wat ons stoor as herinneringe, nie verder strek as ons eie lewe en die plek of plekke waar ons hierdie lewe geleef het nie.

Dit gaan dus nie soseer oor geloof nie, maar waar ons die grense van geloofwaardigheid trek, en spesifiek waarin ons glo.

Feit is, ons kan nie funksioneer sonder geloof nie – dat môre byvoorbeeld soos verlede Dinsdag moet wees in terme van werkskedule en ander aktiwiteite, is geloof. Ons kan slegs glo dat Napoleon of Julius Caesar of Aristoteles bestaan het; hulle kan nie ons sintuie oortuig dat hulle ooit bestaan het nie. Ons glo dat hulle bestaan het, omdat ons lees van hulle, of lees wat hulle geskryf het.

Laastens, ’n handige intellektuele oefening mag dalk die beantwoording wees van die volgende vraag: Wat is die verskil tussen geloof in die bestaan van enige god, en geloof dat Julius Caesar werklik bestaan het?

[Waarskynlikheid dat ’n persoon soos Julius Caesar werklik kon bestaan het versus waarskynlikheid dat enige godheid werklik kan bestaan, is heel waarskynlik ’n goeie begin.]

______________________

Vrye uitdrukking – beddegoed wat pas – filosofie

SONDAG 3 JULIE 2005

09:32

“Convinced that his journey of self-discovery was far from over […] broke free from artistic convention […] became both sculptor and subject […] abandoned the […] style that he had become famous for […]” ~ oor Ju-ming, a Taiwannese beeldhouer

Hy het New York toe gegaan, was blootgestel aan ’n nuwe wêreld van kleur, medium, tekstuur en vorm. Hy het teruggekeer Taiwan toe vry om te eksperimenteer, vry om te skep, vry van die beperkinge wat aan hom gestel is deur die konserwatiewe meesters.

Hy het begin as ’n tempel houtkerwer.

Hy’t twee reekse geproduseer: “Tai Qi” en “Living World”.

“[…] taking risks […] creating their own fortune […] seeing the big picture.”

11:01

Ek dink terug aan somer 2000: omdat ek nie besig was op ’n daaglikse basis om my Ideale Self te word – of selfs beter, te wees – nie, was ek vir alle praktiese doeleindes, in verskyning aan ander en aan myself, ’n sprekende voorbeeld van iemand wat haat wat hy doen om aan die lewe te bly en wat deurlopend misluk daarin om belangrike emosionele en fisiese behoeftes te bevredig. Ek het in desperaatheid gegryp na enige noodmaatreël wat my uit die situasie kon red. Die “musikant” visie is gevolglik nagejaag met koorsagtige entoesiasme. Natuurlik het ek ook gedink, “As ek net ’n miljoen rand gehad het …”

Deur hierdie nota te maak, is ek my Ideale Self: iemand wat dink, en wat skryf oor dit waaraan hy dink. Hierdie nota is ’n manifestasie van my Ideale Self. Dis ritueel, soveel as wat dit vrye uitdrukking van my werklikheidservaring is.

13:44

“… balancing confidence and credibility.” (China Post, 1 Julie 2005)

* * *

Wat het die Nederlandse regering gedoen in 1945 toe hul lyding onder Nazi heerskappy verby was? Hulle het hul troepe bymekaar geskaar en terug gehaas Indonesië toe om hul onderdrukkende heerskappy oor die Indonesiese bevolking voort te sit wat versteur was deur die Japannese.

Onderdrukkers die een dag; onderdruktes die volgende dag; onderdrukkers die oomblik toe hulle weer die geleentheid kry.

Geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog moet gelees word op dieselfde bladsy as post-Tweede Wêreldoorlog pogings om voormalige kolonies weer onder Europese beheer te kry. Dit geld vir al die Europese koloniale moondhede van die tyd – Brittanje in Suidoos Asië en Afrika, Frankryk in Suidoos Asië en Afrika, Nederland in Suidoos Asië, en Portugal in Angola en Mosambiek.

22:13

Ek het vanmiddag vir my ’n hele nuwe stel beddegoed gekoop – paslaken, duvet, en twee bypassende kussingslope. Die skuldgevoel oor wat in werklikheid ’n uiters redelike prys was wat ek moes betaal, en die onsekerheid oor hoe die verandering in beddegoed my siening van myself gaan beïnvloed het ingeskop nog voor ek die hysbak van die afdelingswinkel bereik het.

’n Paar maande gelede was ek nog onversetlik oor my blou duvet, my ander duvet met die groot varkoor op, en die kussingslope wat by niks pas nie. Ek het vir [N.] gesê die dag as ek beddegoed aanskaf waar alles bymekaar pas, is die dag wat ek die estetiese uitdrukking van my selfbeskouing, en daarmee saam alles waarvan dit ’n simbool is, onder my voete vertrap. Sy het saamgestem dat die waarde van bypassende beddegoed totaal en al oorskat word, dat dit inderdaad heeltemal onnodig is. My beddegoed, so het sy gereken, is heeltemal orraait. Weke later het sy steeds gedink daar is niks verkeerd daarmee nie. Ek, aan die ander kant, was skielik van mening dat dit “common” lyk. (In my verdediging moet ek noem dat die paslaken valletjies gehad het. Dit was nie my styl nie. Die enigste rede hoekom ek daai spesifieke laken begin gebruik het, was omdat ek ’n dikker matras op die bed gesit het, en die enigste laken wat groot genoeg was, was een wat my vriendin, J. twee en half jaar gelede aan my geskenk het toe sy Taiwan verlaat het.)

Toe, vanmiddag, toe [N.] nog op vakansie in Suid-Afrika is, gaan koop ek natuurlik daai hele stel nuwe beddegoed – stylvol, pas by die kleurmotief van die slaapkamer, geen valletjies nie.

“Was ek veronderstel om my hele lewe lank te slaap op ou beddegoed waar niks bymekaar pas nie, net omdat ek myself verbeel ek is ’n anti-bourgeois intellektueel?” het ek in my kop aan myself geskree op pad huis toe. “Moet ek my kop in skaamte laat sak omdat ek Reël # 17 van die Vrydenkende Intellektueel se Handboek oor Huisware en Beddegoed oortree het? Het ek vergeet dat geen selfrespekterende kritikus van alles wat middelklas is ooit so laag moet daal om twee kussings op ’n bed te lê met bypassende oortreksels nie?”

Toe dink ek: wat is die waarde van vrye denke, selfdefinisie as dit kom by wie en wat jy wil wees, en vrye keuse, as ek vir die res van my lewe moet leef onder die diktaat van my eie karikatuur van ’n linksgesinde kritikus? As ek nie kan kies om geld te blaas op stylvolle, bypassende beddegoed nie, watse ander keuses is daar waar my sogenaamde vryheid ingeperk word deur my eie idee van hoe my lewe veronderstel is om te lyk, siende dat ek myself geëtiketteer het as ’n skrywer met anti-middelklas opinies? Wie is my meester as dit kom by hierdie sake? Het Marx of Lenin se lakens en kopkussings bymekaar gepas? Koop Michael Moore sy beddegoed by drie verskillende garage sales om te verhoed dat ’n laken by ’n duvet pas, en Great Revolutionaries forbid, dat dit dalk nuut moet wees? Ek dog ek dien my eie agenda! Ek dog ek maak my eie vrye keuses! Ek dog wat ek doen met my lewe, waar, met wie, en hoe ek my huis versier as ’n uitdrukking van my selfbeskouing en persoonlike oortuigings, is selfgedefinieerd!

Dit is mos dan een honderd persent in lyn met my oortuigings en met my geïntegreerde filosofie en begrip van die lewe as ek sê dis oukei: jy kan in alle geloofwaardigheid progressief wees in jou denke en opinies, en kritiseer hoe ander mense hul lewens leef, en aan die einde van ’n produktiewe dag jou moeë lyf werp op ’n bed waar die laken pas by die duvetoortreksel, en waar die kussingoortreksels nie te gewelddadig in kontras is met die kleurmotief van jou slaapkamer nie.

DINSDAG 5 JULIE 2005

Snaaks watse positiewe bewussyn gestimuleer word in die diepste punte van jou wese as iemand wat saak maak vir jou die voornaamwoord “ons” gebruik.

WOENSDAG 6 JULIE 2005

Ek lees Ayn Rand se For The New Intellectual en ek word weer herinner aan die feit dat, omdat ek nooit formeel filosofie bestudeer het nie, ek nie bewustelik enige denkstroom volg nie. Daar is wel voorbeelde van meer direkte invloed: Jean Paul Sartre se “exist, appear, confront, define”; Nietzsche se “will a self and thou shalt become a self”; Wittgenstein se teorie van taal as ’n faktor in hoe waarheid gesien word; en Karl Marx se “in an ideal world a man can tend sheep in the morning without ever becoming shepherd …”

______________________

Die tipe volwassenes wat ons word

SATERDAG 2 JULIE 2005

11:35

Ek is besig om ’n Kevin Bacon movie te kyk, en ’n spesifieke storielyn vang my onkant vir die soveelste keer in my volwasse lewe. Nou, ek weet dis net ’n movie, maar dis nie wetenskapfiksie nie, dis ’n gedramatiseerde weergawe van ’n lewe waarmee ek seker is meeste kykers, wat sekerlik in die miljoene tel, kan assosieer.

Die storie verloop soos volg: ’n jong man wat ambisies het om ’n skrywer te wees en ’n beskouing het van homself as iemand wat nie net dieselfde wil doen as die spreekwoordelike almal nie, trou met ’n jong vrou wie se karakter nie so duidelik ontwikkel is as haar eggenoot s’n nie, maar wat mens kan veronderstel ambisies het van ’n meer konvensionele lewe. Hulle koop ’n huis in ’n middelklasbuurt. Hy kry werk by ’n advertensie maatskappy, en probeer skryf in die aande, maar kry nie veel uitgerig nie. Hy weet nie regtig wat hy wil hê uit die lewe nie, maar werk nietemin om die “huis” wat sy lewe is, te handhaaf – ’n lewe wat hy nie soseer gekies het nie as dit net gebeur het as ’n standaard opsie waarvoor hy die regte aksies geneem het op die regte tye, soos om op te daag vir ’n werksonderhoud en om op te daag by die bank om vorms in te vul vir ’n huislening. Hy wonder hoekom hy homself nie net kan aanvaar soos hy is nie, en tevrede kan wees met die plek waar hy is nie.

Soos verwag kon word, vat dit nie lank voor swangerskap en kinders deel word van die storie nie. Die man kla dat sy lewe sonder betekenis is, en dit word toenemend gesuggereer dat “fatherhood” die groot verskil gaan maak.

Die storie verloop dus soos volg:

– Man en vrou trou.

– Man en vrou is onseker oor die werklike waarde van hul lewens in die Groter Beskouing van Dinge (en hoewel dit al genoem is dat ons nie altyd leef in die Groter Beskouing van Dinge nie, leef ons ook nie net in die wêreld van vrot melk en vals musiek en kinders wat skree nie – al hierdie dinge is deel van iets groters, en dit weet meeste van ons). Hulle glo moontlik selfs dat hulle hul bestaan moet regverdig. Hulle moet aan die wêreld kan wys dat ook hulle iets werd is, en ’n waardige aanspraak kan maak op die suurstof wat hulle inasem, en die son wat hul wange warm bak.

– Hulle kry êrens werk, koop ’n huis, en probeer die gate vul wat onsekerheid oor die waarde van hul bestaan brand op hulle bewussyn soos ’n oop vlam gate sal brand deur delikate ryspapier.

– Hulle kry kinders – die blydskap, die groot aanpassing wat hulle moet maak in hul daaglikse lewens, die geluk en die gelukwensings onderstreep dat hulle ’n goeie punt bereik het. Hulle is nou ouers, wat beteken nuwe rolle om te speel asook die addisionele waarde wat dit aan hul lewens gee in die Groter Beskouing van Dinge. Die kind of kinders word grootgemaak om aanvanklik soos hulle ouers te wees (taal, sport voorkeure, religieuse waardes en ander lojaliteite), en na ’n paar dekades dalk soortgelyke lewens te leef. Die hele siklus word voortgesit: kry kinders, volwassenheid, kry kinders, volwassenheid, kry kinders …

Wat is my probleem hiermee? Ek hou van kinders! My eie susters het pragtige kinders en ek is gelukkig vir hulle! Ek wil dalk self eendag kinders hê! Wat is my probleem met hierdie mees primitiewe, mees wydverspreide verskynsel? My probleem is die tipe volwassenes wat vele mense word. En ek glo die tipe volwassenes wat mense word, word sterk beïnvloed deur die rede of redes hoekom hulle in die eerste plek ontstaan het. [Dink byvoorbeeld aan Prins William van Brittanje: rede vir ontstaan: om eendag koning te word (of koningin as die dobbelsteen anders geval het).] As ek kyk na my eie geval, het my ouers my dalk gehad omdat hulle meer kinders wou hê om hul eie selfsugtige redes. Ek het oukei uitgedraai. As volwassene lewer ek pittige dog effens siniese kommentaar oor ander volwassenes se lewens, ek betaal my rekeninge (laat, maar darem), en ek glo ek maak my bydrae, hoe beskeie ook al, tot die vooruitgang van beskawing, of ten minste tot die behoud van wat goed is.

Is dit nie aan die einde goed genoeg nie?

Ek dink dis tyd dat ek een van die naarste waarhede ooit in die gesig staar en dit erken: Nie almal se lewens is ewe belangrik in die Groter Beskouing van Dinge nie. Om een lewe te hê met waarde wat die primêre behoeftige-organisme-gedrag-tot-behoefte-vervulling-model oortref, is moontlik dosyne primêre modelle nodig. Dis ’n aaklige waarheid hierdie: dat my lewe in die Groter Beskouing van Dinge meer werd is as iemand anders s’n, en dat iemand anders se lewe weer meer waarde het as myne – dat ek inderdaad wegdoenbaar is ter wille van ’n ander wie se lewe meer kosbaar is, meer waardevol as my eie. (En ek verwys nie na waarde van my lewe in die sin dat my lewe waarde het vir my ma, en Piet X se lewe het waarde vir Moeder X nie, ek praat van waarde waar verhoudings nie ter sprake is nie.)

Wat dit sal beteken is dat dalk soveel as nege uit elke tien volwasse mense kinders moet produseer om waarde te gee aan hulle lewens, en om hul deel by te dra tot die bevrediging van die behoeftes van die gemeenskap in die dekades wat kom (kinders word onderwysers, en dokters, en padbouers, en so meer). Een uit elke tien, of dalk net een uit elke honderd mense, doen meer – iets wat hul waarde transendeer bo hulle intieme binnesirkel en die arbeidswaarde wat hulle het vir die plaaslike ekonomie. Ten einde hierdie een-uit-tien of een-uit-honderd mense te produseer, MOET MEESTE VOLWASSE MENSE KINDERS KRY. Dis hoe dit is. Dis tyd dat ek dit aanvaar.

(Terloops, die movie se naam is, She’s having a baby.)

23:40

Weereens kom dit hierop neer: daar is geen universele menslike waarde nie. Elke persoon moet sy of haar eie waarde uitwerk in die Groter Beskouing van Dinge. As hy of sy nie tevrede is met die voorlopige uitslag nie, moet hy of sy self aksies neem om ’n gewenste waarde te bereik – sover dit binne sy of haar vermoë is.

Wat is jou waarde as jy dit nie self uitwerk nie, en as jy nie tel onder die groep mense wat gepla is met hulle waarde in die Groter Beskouing van Dinge nie? Dan is jou waarde die resultaat van noodlot – plek en tyd van geboorte, geslag, familie, sosio-ekonomiese status, ras, ensovoorts, behoeftes van die gemeenskap – x-hoeveelheid onderwysers benodig, x-hoeveelheid rommelverwyderaars, ensovoorts, en keuses en aksies wat jy neem, of geneem het om jou behoeftes te bevredig tot op die huidige oomblik.

Great. (Moontlike titel of subtitel vir ’n opstel: Aanvanklik oor ’n movie.)

[Sê jy werk jou eie waarde uit – wat dit ook al beteken, en jy reken jy kan ook getel word onder die groep mense wat gepla is met hul waarde in die Groter Beskouing van Dinge, is dit nie uiteindelik ook 100% deel van jou proses om jou eie behoeftes te bevredig nie? Een uit 100 mense wat dan uitstyg bo die spreekwoordelike massas, doen dan so vir dieselfde rede hoekom ’n bestaansboer ’n aartappel plant en oes: om eie behoeftes te bevredig.]

______________________