Repatriasie, en ander planne

MAANDAG 30 AUGUSTUS 2004

Ek kan plegtig verklaar dat my maag saamtrek met die gedagte dat ek oor vier dae hierdie realiteit weer moet verruil vir my “werklike” lewe. Ek sien uit daarna om terug te wees by my eie huis, my persoonlike hoofkwartier – maar dis omtrent al waaroor ek op die oomblik positief is.

Wat anders is daar aan my lewe in Taiwan waarna ek moontlik kan uitsien? Deep fried op ’n Saterdagaand? Goedkoop VCD’s? Afsprake by die coffee shop? Lunch boxes met olierige groente? My fiets? Al hierdie dinge kan vervang word met ander, soortgelyke dinge hier.

Waarna ek uitsien, is om weer tyd in my eie hoofkwartier te spandeer. Ek mis die gemak en bekendheid van my eie herberg.

Ek loop nou al vir drie weke rond met die gedagte dat ek hier, in Bronkhorstspruit, geluk kan vind. Wat ek nodig het, is geld, ’n huis, en ’n kameraad wat my saak verstaan. Daar is ook die idee van die “eiland”* en die vraag aan watse vasteland jy verbind is. Ses maande hier, ses maande daar …

———–

* [Die konsep van die “eiland” verwys na die tuiste wat mens vir jouself skep. Hierdie tuiste – huis, woonstel, of enige iets anders – word dan die eiland waarop jy woon. Die “vasteland” is die dorp of stad waarheen jy sal gaan wanneer jy proviand benodig, of bietjie op ’n ander plek as jou eiland wil kuier.

Die idee het by my posgevat toe ek saam met my suster en swaer by iemand op Vryheid ’n draai gemaak het. Die persoon het in ’n nuwerige uitbreiding gewoon – ek is nie regtig ’n nuwe uitbreiding tipe ou nie, en die uitbreiding was net buite Vryheid – en ek was nog nooit te gretig om my hakke vas te trap op dié spesifieke dorp nie.

Tog, die ou se huis was warm, en aangenaam, en ek besef toe mens se tuiste is soos ’n eiland – as jy daar is, tussen al jou eie goed, en onder jou eie palmboom, by wyse van spreke, maak dit nie soveel saak as jy nie van die naaste “vasteland” hou nie.

______________________

Repatriasie (Notas MCCXIII)

DINSDAG 24 AUGUSTUS 2004

11:34

Ek is op die oomblik gelukkig in Taiwan – hoewel ek tans in Bronkhorstspruit is. Ek glo ek kán gelukkig wees in Bronkhorstspruit. Wat belangrik is, is dat al my besittings, en my inkomstegenererende werk, in Taiwan is.

16:31

Dis die sewentiende dag van my vakansie in Suid-Afrika. Ek het nog nege dae oor. Enkele gedagtes is al genoteer oor die “terugkom” issue. Soos gewoonlik is dit ’n ietwat irriterende aangeleentheid, want … vat ek sekere boeke saam, los ek dit hier, siende dat ek dalk binnekort terugkom?

Ek vra myself dus plegtig om ’n bietjie lig op die onderwerp. [Hoekom lyk my notas soms soos gebed? En hoekom kniel ek soms as ek skryf … net ’n grappie.]

Dis Dinsdagmiddag. Ek het nou net onder ’n boom, in die laatwinterson, op ’n plot net buite Bronkhorstspruit, ’n Nat Sherman gerook. Ek is op die oomblik hier, in Suid-Afrika. My ouer suster en haar sesmaand-oue babaseuntjie sit op die bed in die kamer oorkant my. Sy blaai deur ’n tydskrif, en die klein laaitie maak sagte kreungeluidjies. My jonger suster sit aan die ander kant van die huis in die kantoor van my ouers se besigheid. Ekself lê op die bed in die ander spaarkamer, op ’n geel deken, en maak aantekeninge in my notaboek.

Tog woon ek tans in Taiwan. Tog is ek tans in Suid-Afrika. Wat is die probleem?

Die feit dat ek nou hier is, in Bronhorstspruit, saam met my familie, is een honderd persent deel van my lewe in Taiwan!

My belangrikste opmerking oor die vraagstuk is reeds genoteer: ek is tans gelukkig in Taiwan. Ek het ’n goeie woonplek daar. Ek het enkele vriende. Ek doen werk wat my van ’n redelike oukei inkomste voorsien. Ek spandeer heelwat tyd elke week aan my persoonlike literatuur, en ek studeer Chinees (soms meer as ander tye, maar steeds). Dit is ’n goeie lewe, volgens my eie standaarde.

’n Ideale lewe sou insluit dat my ouers reeds finansieel gemaklik op aftrede kon wees; my jonger suster en haar man sou in die dorp woon, soos nou; my ouers suster en haar gesin miskien in Pretoria; en ek sou in ’n aangename huis óf in Pretoria, óf in Bronkhorstspruit gewoon het saam met ’n aangename en aantreklike vrou. Dit is die ideaal – met almal wat natuurlik gesond is, hulle werk geniet, en voldoende kapitaal genereer om ’n goeie lewe te kan bekostig.

Ek is nie een wat graag na die huidige realiteit kyk en uitroep, “That’s life!” nie, maar dis nie so eenvoudig soos ek wat net my goed hiernatoe verskeep en in ’n drie slaapkamer huis in Bronkhorstspruit intrek nie. Dit sal, ironies genoeg, selfsugtig wees om dit te doen, indien my pad wél kruis met ’n vrou met wie ek my dae sal wil slyt op hierdie planeet, en soveel te meer as ons saam kinders moet verwek.

Die lewe wat ek tans my eie noem, en waaruit ek ’n toekoms skep, is die beste kans wat ek het, op hierdie stadium, om te wees wie ek is en te doen wat ek doen; en dan, indien dit op die spreekwoordelike kaarte is, die beste kans om iemand te oorreed om haar lewe met my te deel.

My huidige lewe bevat die saad waaruit ’n goeie toekoms kan spruit – vir myself, en vir enige ander persoon of persone vir wie se welsyn ek moontlik oor vyf jaar ten minste gedeeltelik verantwoordelik sal wees.

Dit is my huidige lewe, in Taiwan. (So spreek ek, op ’n plot net buite Bronkhorstspruit, op Dinsdag 24 Augustus 2004.)

______________________

Identiteit, oorlewing, funksionering

MAANDAG 23 AUGUSTUS 2004

[’n Herhaling van vorige gedagtes, noodsaaklik om die betekenis van sekere begrippe duideliker te maak.]

Identiteit dien ’n DOEL; die doel is OORLEWING.

Om te kan oorleef, moet die persoon kan FUNKSIONEER.

Om te kan funksioneer, het die persoon IDENTITEIT nodig.

Hoekom? Sodat hy onder meer homself kan identifiseer aan ander in die gemeenskap en sodoende die waarskynlikheid kan versterk dat sy behoeftes bevredig sal word.

Identiteit word saamgestel uit inligting wat voorsien word deur ’n partikulêre omgewing, op ’n partikulêre historiese tyd.

______________________

Dag in die dorp

VRYDAG 20 AUGUSTUS 2004

Middag, tussen vier en vyf, onder ’n boom; ligbruin sokkies, ou vellies, groen kortbroek, geel onderbroek, en rooi kortmouhemp met wit spikkels op.

Nou net teruggestap van die dorp af, laaste deel oor ’n stofpad, tot op die plot. Het in die dorp drie boeke gekoop vir die totale koste van een R5-muntstuk: Toe Witmense Arm Was, ’n Truman Capote boek, en die draaiboek vir ’n Italiaanse toneelstuk met die titel, Six Characters In Search Of An Author. Draaie gemaak by tweedehandse meubelwinkels, banksake gedoen by Standard Bank en Postnet, en toe by die Spur middagete geëet.

By die Spur het ek gesit in die rokersarea. ’n Ouerige dame het alleen by ’n tafel agter my gesit. Ek weet nie wat sy gedrink het nie, maar sy’t vroeg al “Nog een!” in die rigting van die naaste kelner geroep. Ook alleen was ’n aantreklike jong vrou by ’n tafel skuins oorkant my. Sy het die hele tyd op haar selfoon gepraat, yskoffie gedrink, en die een Paul Revere na die ander gerook.

Ek het bestel ’n Spur burger vir R23.95, knoffelsous vir R7.95 en ’n Black Label vir R9.95. Ek het die Streeknuus (R1) gelees, en twee Nat Shermans opgevlam met Lion vuurhoutjies.

In die middel van die dorp het ek ’n paar interessante feite op ’n kennisgewingbord gelees: Pretoria is 50 kilometer van Bronkhorstspruit af, Kaapstad 1 380 kilometer, Johannesburg 100 kilometer, Taipei 11 620 kilometer en Hong Kong 10 800 kilometer. Daarna het ek teruggestap plot toe.

Nou sit ek onder ’n boom, en hoor ’n stem wat onderlangs mompel: Lewe is … duiwe wat koer, karre wat verby ry, die wind wat deur die blare waai, iets tussen my tande, voetstappe in die agtergrond, klein voëls en insekte wat lawaai in die bome, die reuk van groentesop uit die kombuis, ’n radio wat lounge music uit die sestigs speel, ’n telefoon wat lui …

______________________

Die kluisenaar en sy geliefdes

VRYDAG 13 AUGUSTUS 2004

Die kluisenaar (en sy geliefdes), notas I

Ek het vandag, Vrydag die dertiende, weereens besef hoekom sommige mense kluisenaars word. Dis die stilte, die afwesigheid van konfrontasie met mense wat jou nie verstaan nie, wat nie begryp wat in jou kop aangaan nie, wat jou verkeerd verstaan; ook die afwesigheid van jou eie stem as jy jouself nogmaals probeer verduidelik.

Die kluisenaar gee dus tot ’n groot mate op in sy poging om verstaan te word en om aanvaar te word binne die gemeenskap, selfs deur dié wat hy liefhet.

SONDAG 15 AUGUSTUS 2004

Die kluisenaar (en sy geliefdes), notas II

Ek is lief vir my familie, soos hulle vir my, maar tussen hierdie liefde en die manifestasie daarvan is baie misverstand, en baie frustrasie.

“Praat met hulle daaroor,” sal iemand sê.

Ek kan nie, want hulle kan nie luister nie. Hulle is vasgevang in hul eie onsekerhede en vrese wat, soos dit blyk, nooit behoorlik gekonfronteer is nie. Ek praat teen ’n muur vas, en daar is altyd onderliggende frustrasie en verbale aggressie in hul reaksie. En soms is hierdie frustrasie en verbale aggressie ook teenwoordig in my eie spraak.

My ouers het my lief, maar ek glo hulle respekteer my nie. Die hoofrede is omdat hulle my beoordeel volgens sekere standaarde.

Hulle respekteer my ouer suster, omdat sy gekwalifiseer het vir ’n sekere beroep, ’n vaste betrekking gekry het by ’n groot maatskappy, en “goeie geld” verdien.

Hulle respekteer my jonger suster omdat sy hard probeer het oor die jare om haar eie lewe op te bou op spore waarmee hulle kan vereenselwig – werk, geld, trou, huis-opsit.

In teenstelling met my twee susters val ek uit die bus uit met “kreatiewe onafhanklikheid”, “intellektuele verligting”, “die Verligte Enkeling”, “om los te kom van die arbeider-baas verhouding”, “taal as identiteitskepper”, en “godsbegrip in ’n mens se soeke na sy of haar eie identiteit”.

Ek glo nie een van die mense wat ek inniglik liefhet, verstaan hierdie dinge nie! En dis nie omdat dit bokant hul intellektuele vermoëns is nie – nie een van my gesinslede is onnosel nie. Maar begrip vir die terme “kreatief” en “onafhanklikheid” beteken nie jy gaan verstaan as iemand nie arbeid wil verrig wat sal vereis dat hy sy kreatiewe onafhanklikheid moet prysgee nie – wat ook al die prys daarvoor.

Reaksies op wat ek te sê het, is daar wel. My ouer suster glo ek dink te veel. My jonger suster stel nie belang in my “denke en opinies” nie. En my ouers is net mense – hulle het hul eie begrip van dinge, en enige iets wat dit deurmekaar krap, of wat hulle nie kan begryp nie, lei tot ’n reaksie van verbale aggressie.

Ek is inniglik lief vir my ouers en my twee susters, en ek voel baie maklik jammer vir hulle. Maar om hulle tot beter begrip te probeer lei met verbale kommunikasie, is feitlik onmoontlik. Ek praat in ’n taal wat hulle nie verstaan nie. My wêreld is nie húlle s’n nie. Ek blameer hulle ook nie; ek gee slegs uitdrukking aan my eie frustrasie.

* * *

Wat is familie? Dis individuele entiteite wat deur die noodlot bymekaar gegooi is, en wat deur duisende dae in noue kontak met mekaar te spandeer, lief geraak het vir mekaar. Maar om te verwag dat hulle jou noodwendig moet verstaan omdat hulle lief is vir jou, is om een en vier bymekaar te gooi en te glo jy gaan twee kry. Ek moet die situasie aanvaar soos dit is.

______________________