Geld, die arbeidsmark, en hoe jy funksioneer

WOENSDAG 30 JUNIE 2004

As ek die afgelope tien jaar geld gehad het, of meer gereeld geld gehad het, en groter hoeveelhede daarvan … as ek myself gedurende die laaste dekade van my lewe in ’n posisie bevind het waar ’n gereelde inkomste onnodig sou wees, sou dit my proses van selfontdekking en selfdefiniëring radikaal beïnvloed het.

Een moontlikheid: As my familie welgesteld was, en my ouers het dit duidelik gemaak reeds in my tienerjare dat ek elke jaar, vanaf my agtiende verjaarsdag, ’n aantreklike bedrag geld sal ontvang net omdat ek so gelukkig was om gebore te word as hulle seun, sou ek heel moontlik vanaf my laat tienerjare myself minder toegespits het daarop om binne die volgende vyf tot sewe jaar vir myself ’n posisie te bewerkstellig op die arbeidsmark. Ek sê nie ek sou noodwendig ’n onproduktiewe suurstofdief gewees het nie, maar indien ek nie nodig gehad het om my persoon voor te berei vir die arbeidsmark of vir die besigheidswêreld nie, sou ek nie die persoon gewees het wat nou hierdie woorde tik nie.

Nog ’n moontlikheid: As ek as seun van werkende middelklasouers op agtien ’n massale fortuin gewen het in ’n lotery, met ’n versekerde maandelikse dividend wat sou bly uitbetaal tot die einde van my fisiese bestaan, sou my gevolglike proses van selfdefiniëring ook, onder andere, nie die lastigheid ingesluit het om tot ’n bevredigende mate te moet verskyn aan ’n arbeidsmark ten einde in my eie daaglikse behoeftes te kan voorsien nie.

’n Derde moontlikheid sou wees as ek in my laat twintigs ’n produk ontwerp het wat my sedertdien miljoene besorg het in tantieme. In so ’n geval sou die karakter wat aan die ander kant van die proses-tonnel sou uitkruip, een gewees het wat – vanweë aanvanklike ervarings in my volwasse lewe – weet hoe dit voel om persoonlike verskynings aan te pas vir inkomstedoeleindes, en ook weet hoe dit voel om dit nié meer te doen nie.

Eenvoudige konklusie: As jy toegang het tot voldoende kapitaal om dit onnodig te maak om ’n inkomste te verdien om jouself aan die lewe te hou, hoef jy nie te funksioneer op dieselfde wyse as mense wat daagliks moet arbei om te sorg vir kos, en ’n dak oor hulle koppe nie. En siende dat jy minder nodig het om op ’n wyse te funksioneer wat tot ’n groot mate voorgeskryf of sterk aanbeveel word, het jy meer ruimte om ander moontlikhede te ontdek vir jou persoonlike ontwikkeling, en om jou persoon op ander wyses te definieer.

______________________

Wat GEGEE word, en wat jy KIES

DINSDAG 29 JUNIE 2004

Dis my verjaarsdag vir nog 29 minute, so ek glo dis toelaatbaar om ’n handige, dog onverifieerbare statistiek die lug in te stuur: 99% van die wêreldbevolking funksioneer omdat hulle hul Gegewe Selwe meestal onkrities aanvaar, en slegs onderskeidende identiteit ontwikkel uit die gegewe moontlikhede, en volgens keuses wat direk verband hou met ’n spesifieke tyd en plek. Aan die ander kant, konfronteer 1% van die wêreldbevolking hulle Gegewe Selwe, aanvaar dit wat hulle nie kan verander nie (soos dat die persoon gebore was in Pretoria, in die Republiek van Suid-Afrika op Dinsdag 29 Junie 1971) ongeag of hulle dit anders sou verkies het of nie, en fokus verder op ’n proses van selfdefiniëring, wat altyd binne ’n partikulêre raamwerk sal bly (ek kan nie ’n hond word nie, selfs al wil ek), maar wat nietemin die resultaat tot gevolg sal hê dat die persoon kan verklaar dat hulle hul “eie” mens geword het – ’n poëtiese konsep meer as wat dit tegnies waar is.

Wat is ek dus?

Die begin: Ek is ’n man, gebore in Suid-Afrika, seun van Afrikaanssprekende ouers wat die afstammelinge is van meestal Europese kleinboere, soldate, diensknegte en ambagsmanne wat in Suid-Afrika gearriveer het ’n paar eeue gelede; ek het grootgeword binne ’n partikulêre kulturele omgewing, met partikulêre opvattings oor goed en sleg, en met partikulêre idees oor wat mens behoort te doen met jou lewe, hoe mens behoort te leef, waar, en met wie. Dit is my GEGEWE Self.

Die storie gaan voort: Op 33-jarige ouderdom is ek hierdie Gegewe Self wat myself tuis gemaak het in Kaohsiung, ’n stad op die suidwestelike kus van Taiwan, en wat ’n inkomste verdien en myself derhalwe aan die lewe hou deur Engelse klasse aan te bied by ’n paar plaaslike skole. Ek woon alleen in ’n drie slaapkamer woonstel, in ’n buurt vol Chinese burgeroorlog veterane en hulle afstammelinge. Ek praat soms op enige dag ewe veel Chinees as Afrikaans; ek gebruik ’n fiets as my primêre vervoermedium; en ek spandeer meeste van my tyd deur te skryf. Hierdie dinge is alles verteenwoordigend van my GEKOSE Self – gebou op die fondasie van my Gegewe Self, en binne die beperkte moontlikhede van tyd en plek.

Dit is ek, om 23:47 op die aand van Dinsdag 29 Junie 2004.

WOENSDAG 30 JUNIE 2004

(00:11)

Hierdie aangeleentheid van GEKOSE versus GEGEWE self sal belangstelling prikkel by die 1% wat reeds deur ’n bewustelike en aktiewe proses van selfkonfrontasie en selfdefiniëring gegaan het, en by nog ’n fraksie van mense wat “dink oor hierdie dinge” maar by wie die proses nog in ’n elementêre fase is.

(Hierdie proses van selfkonfrontasie en selfdefiniëring vind plaas op meer as een vlak. Die verskil in my eie geval is dat ék konstant notas maak daaroor; derhalwe is ek baie bewus van die proses; ek kan ook die spore wat ek getrap het, terugvolg, en sodoende vir ander wys hoe een persoon – ek – by ’n sekere punt gearriveer het.)

(11:05)

As Absolute Gegewe Self – kom ons definieer dit as iemand wat onkrities die bron van sy of haar self, naamlik die omgewing waarin hulle gebore en gevorm is, huldig as voortrefliker as enige ander bron – aan die een uiterste van die spektrum is, wat is op die ander ent? Is dit om uit jou gegewenheid te groei en sover as moontlik die produk te word van jou eie proses van selfdefiniëring? Is dit waarna ons almal moet streef?

Belangrik soos dit mag wees, glo ek nie dit behoort die hoogste strewe te wees vir enige mens nie. Wat belangriker is – en ek het vroeër ook hierdie opinie uitgespreek, is die resultate van jou lewe. Beide (Hoofsaaklik) Gegewe Self en (Tot ’n Groot Mate) Gekose Self is middels tot hierdie doel.

In sommige gevalle is die persoonsmodel wat aan ’n individu “gegee” word, voldoende om positiewe resultate te kan bewerkstellig. In ander gevalle moet die persoon verder gaan as die gegewe model. Hoekom so? Moontlik vir geen ander rede nie as dat die persoon NIE GELUKKIG OF TEVREDE IS (OF WAS) MET SY GEGEWE SELF NIE!

Beide selfmodelle het egter ten doel om die persoon in staat te stel om in die eerste plek te kan funksioneer, en in die tweede plek (hopelik positiewe) resultate van hulle lewens te bewerkstellig.

* * *

VRAAG: Wat is die verskil tussen dié wat onseker is oor hulleself, en dié wat (oënskynlik) nie met hierdie tipe persoonlike dilemma opgeskeep sit nie?

ANTWOORD: In albei gevalle kyk die persoon na wie hulle is as gegewe – geslag, voorkoms, sosio-ekonomiese agtergrond, aanlegte, intelligensie en ander genetiese faktore, asook partikulêre verhoudings wat bepaal wie en wat hulle is sonder dat hulle ’n keuse daaroor gehad het; dit wil sê al die faktore wat deur die noodlot aan hulle gegee is sonder dat hulle ’n keuse gehad het daaroor. Keuses oor die jare dra wel, uit die aard van die saak, by tot die wie-en-wat waarmee die persoon gekonfronteer word in hul Groot Eksistensiële Oomblik, maar ook dit is altyd relatief tot die gegewe faktore. (Dit is belangrik om te noteer dat positiewe keuses in ’n konteks waar negatiewe keuses ook maklik genoeg gemaak kan word, tot die krediet is van die persoon wat dit gemaak het, ongeag gunstige gegewe faktore wat bevorderlik was tot die positiewe keuse.)

’n Persoon wat haarself bevind in die “seker oor haarself” kategorie, is tot ’n betekenisvolle graad tevrede met wie en wat sy is, en wil heel moontlik voortgaan om te wees wie en wat sy is. Hierdie persoon se konfrontasie met haarself was, en is steeds, ’n oorwegend positiewe ervaring. Hierdie persoon kan voortgaan om te funksioneer as ’n relatief tevrede wie-en-wat.

Iemand in die “onseker oor homself” kategorie, gaan deur ’n periode wat gekenmerk word deur ’n sogenaamde identiteitskrisis – onsekerheid oor wie en wat hy is, onsekerheid oor sy plek in die wêreld, en onsekerheid oor die waarde van sy partikulêre lewe. Gevoelens van vervreemding van sy omgewing, onvergenoegdheid en selfminagting is in vele gevalle ineengestrengel met hierdie onsekerheid oor homself. Hierdie persoon konfronteer sy “gegewe self” en ag dit as NIE GOED GENOEG NIE.

In beter gevalle is hierdie tipe selfkonfrontasie die begin van ’n soektog na ’n meer bevredigende identiteit, vir wat uiteindelik ’n meer bevredigende bewussyn van die self sal bewerkstellig. Vele ervaar egter dié tipe selfkonfrontasie as pynlik en traumaties. Hierdie individue begryp nie altyd die redes vir hulle gevoelens van vervreemding nie. Hulle diagnoseer te maklik hul onvergenoegdheid verkeerdelik as die resultaat van persoonlikheidsgebreke: “Ek weet nie hoekom ek altyd so negatief is oor alles nie. Daar moet iets verkeerd wees met my.” Uiteindelik intensiveer selfminagting onvergenoegdheid net soveel as wat dit ’n resultaat is daarvan. Verdere vervreemding tussen die individu en betekenisvolle ander – familie, selfs vriende – is ’n byna onvermydelike resultaat.

Duisende, selfs miljoene lewens word elke dag versuur deur wanbegrip aangaande hierdie verskynsels. Talle lewens word ook veels te vroeg, en onnodiglik beëindig deur negatiewe emosies wat die persoon tot so ’n mate oorweldig dat hy of sy voel dit nie langer uitstaanbaar is nie.

EKSTRA NOTAS:

1. ’n Verdere moontlikheid is dat jy dalk relatief tevrede is met jou gegewe self, en tevrede is met jou gegewe omgewing, maar méér wil hê van die goeie waaroor jy reeds beskik. Die redes hiervoor kan te make hê met persoonlike ervarings wat jou steeds, ten spyte van jou relatiewe tevredenheid, honger laat vir bevestiging van jou eiewaarde, of dit kan doodgewoon aangevuur word deur avontuurlus.

2. Daar is sekerlik ook die moontlikheid dat jy nie eens oortuig is van jou gegewe self nie, waar selfs die data wat aan jou ’n aanduiding behoort te gee, so gefragmenteerd en teenstrydig is, dat selfs ’n soeke na wie jy veronderstel is om te wees, jare mag vat.

* * *

Oorwegend Gegewe Self en Tot ’n Groot Mate Gekose Self is albei selfmodelle wat die persoon in staat stel om te funksioneer as ’n Individuele Entiteit. Albei selfmodelle stel die persoon in staat om keuses te maak en oor te gaan tot sekere aksies wat uiteindelik lei tot sekere resultate. ’n Verskil kan gevind word tussen individuele manifestasies van hierdie twee tipes in die graad van tevredenheid met betrekking tot selffunksionering, asook in die kwaliteit van die resultate wat bewerkstellig word.

Enkele dae gelede het ek myself geag as ’n “1” en iemand wat funksioneer as oorwegend gegewe self, steeds ’n “0”. Nou verklaar ek egter dat ek uiteindelik ook weer ’n “1” is – dieselfde as die persoon wat as oorwegend gegewe self funksioneer.

Wat was ek dan voorheen – of dan in wisselende grade vandat ek hoërskool verlaat het tot op ’n punt in die onlangse verlede? Ek was meestal ’n “0”, vir die eenvoudige rede dat ek soveel van my gegewe self verwerp het, dat ek dit moeilik gevind het om te funksioneer in die tyd en wêreld waarin ek gebore was.

Ek kan dus weer my plek inneem in die “ordinary current of life” [soos Dostoevsky skryf in Crime and Punishment],  omdat my GEKOSE SELF (die resultaat van aanvaarding van gegewe aspekte wat nie verander kan word nie, plus selfdefiniëring, plus keuses) ’n werkbare alternatief is vir wat goed genoeg is vir ’n groot persentasie van die wêreldbevolking (naamlik OORWEGEND GEGEWE SELF).

Ek weet nou wie ek is, omdat ek dit self gedefinieer het. Ek weet wát ek is, omdat ek dit self uitgesorteer het. En ek weet waar my plek in die wêreld is, want ek het dit besluit.

(Is daar ’n kwalitatiewe verskil tussen my “1” en die gemiddelde “1”? Moontlik, en moontlik nie. Wat belangrik is, is dat ek my klassifikasie verander het van “problematiese funksionering” na “bevredigende funksionering”, nie noodwendig van “funksioneel” na “beter” nie.

Was die hele proses die moeite werd as ek nie beter is as die gemiddelde nie? Natuurlik, want ek leef.)

* * *

[Hoogs tevrede met hierdie nuwe insig het ek voortgegaan met die toepassing daarvan op my eie lewe. Verskoon dus asseblief enige herhaling.]

Beginnende plus-minus 1994 het ek nie ’n funksionerende self gehad nie; of, ek het ’n funksionerende self gehad, maar ek was so gevul met onsekerheid (en angs as resultaat daarvan) dat ek nie ’n volhoubare funksionerende self gehad het nie. Die verskil, in my geval, tussen wie-en-wat-1994 en wie-en-wat-2004 is dus tussen “funksionerende self, maar gevul met angs en onsekerheid wat beteken voortgesette funksionering kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie” en “funksionerende self met oortuiging wat beteken voortgesette funksionering is hoogs waarskynlik”.

Is my aantekeninge oor hierdie proses werklik relevant vir enige iemand anders – in ag genome die noue verband met my eie partikulêre lewe, en die faktore wat dit gemaak het wat dit is?

Deels omdat niemand daarvan hou om tyd te mors nie, sal ek noodwendig positief wil antwoord. Maar ek kan verder gaan en sê dat ek nie die enigste individu is wat sekere aspekte van my gegewe self nie wou (of wil) aanvaar nie. Ek glo dus dat my noukeurige aantekeninge, oor ’n proses wat my jare geneem het om te identifiseer, waarde het vir meer mense as net myself. Plus, as ek eendag my kop stamp en ek van vooraf moet begin om myself te leer ken, sal dit uit die aard van die saak weereens vir myself ook van waarde wees.

______________________

Brousel vol gedagtes

MAANDAG 28 JUNIE 2004

(00:02)

Kinders is die maklikste “resultaat van ’n lewe” om te produseer. Die moeilike deel kom daarna.

(00:09)

Ouers laat – in die ideale ouer-kind scenario – kinders agter as ’n resultaat. Besigheidsmense laat profyt en besighede agter. Entrepreneurs en uitvinders laat produkte agter. Kunstenaars laat kuns agter. Skrywers laat boeke agter. Argitekte laat geboue agter. Siviele ingenieurs laat infrastruktuur agter. Rewolusionêre laat ’n nuwe politieke bestel agter.

En dan is daar die rewolusionêr wat ook kinders agterlaat, die uitvinder wat kinders én profyt agterlaat, die skrywer wat ook ’n suksesvolle onderneming opbou waarby ander kan baat tot lank nadat hy aanbeweeg het …

______________________

Bewys die SELF – formule en resultaat

SONDAG 27 JUNIE 2004

Bewys jou … nee, bewys die SELF

Twee dosyn uitlanders sit om tafels vol bier en kos, oë gefokus op ’n groot skerm met lewendige rugby-aksie. Die uwe sit so te sê met sy neus teen die skerm, sy mond vol vars pizza toe hy reken: “Dis goed om weer tussen mense te wees. The proof of the pudding is, after all … nee wag, the proof of self is, after all, in the eating … ook nie, the proof of self is in appearing!”

Die formule wat lei tot resultaat

Wat is die verskil tussen my en Josef Stalin, of tussen my en Bill Gates? Die verskil is resultate van ons lewens.

Ek, Josef Stalin, en Bill Gates was al drie gebore in partikulêre plekke, op partikulêre tye, in gemeenskappe met partikulêre behoeftes. As Stalin in 1979 gebore was in plaas van 1879, in dieselfde dorp in Georgië, met ’n relatief soortgelyke huislike agtergrond (aangepas vir 1979 werklikheid), sou sy lewe ander resultate opgelewer het. Dieselfde kan gesê word as ek in 1771 gebore was, en nie in 1971 nie. Die belangrikheid van noodlotsdata – waar jy gebore is, wanneer, en as wie se kind, asook gebeure later in jou lewe waaroor jy geen beheer het, of gehad het nie – asook die behoeftes van die gemeenskap kan NOOIT onderskat word as bydraende faktore tot die eindresultate van ’n partikulêre mens se lewe nie.

Die enigste ander faktor wat ’n betekenisvolle rol speel, is keuses. Stalin het gekies teen die pad wat sou gelei het daartoe dat hy ’n priester sou word, en gekies ten gunste van aansluiting by Lenin en die Bolsjewiste. So ook het ek byvoorbeeld gekies teen watse betrekking ek ook al in Suid-Afrika kon losslaan, en gekies ten gunste van English teaching in Taiwan om myself aan die lewe te hou. Die keuses wat Josef Stalin gemaak het, het ’n dramatiese invloed gehad op wie en wat hy geword het, en op die resultate wat hy bewerkstellig het van sy bestaan. Die keuses wat ek sover in my lewe gemaak het, het ook ’n dramatiese invloed gehad op wie ek is op die huidige oomblik, en op die resultate wat ek sover bewerkstellig het van my bestaan.

Die volgende formule kan dus voorgestel word: RESULTAAT VAN JOU LEWE = NOODLOT + BEHOEFTES VAN DIE GEMEENSKAP + PERSOONLIKE KEUSES.

______________________

Oor wedergeboorte, en ’n “nuwe” SELF

[’n Term het teen hierdie tyd my bewussyn binnegedring wat my so opgewonde gehad het dat ek amper een middag vriendelik was met ’n taxibestuurder. Voor ek egter voortgaan om dit te gebruik, laat my toe om weereens die betekenis toe te lig.

Die “gegewe self” is ’n handige term om die betekenisvolle invloed te beskryf van sekere faktore – soos genetika, kulturele agtergrond, taal, en tyd en plek van geboorte – op wie en wat ’n individu is, lank voor hy of sy groot woorde leer soos “identiteit”, “selfbewussyn”, of “doel van my bestaan”. Die “gegewe self” is dus ’n persoonlike realiteit jare voor die individu kritiese vrae begin vra soos “Wie is ek?” en “Wie wil ek wees?”]

VRYDAG 25 JUNIE 2004

Om ’n vlak van persoonlike ontwikkeling te bereik wat ek noem VERLIGTING, moet die gegewe aspekte van wie en wat jy is eers gekonfronteer en tot ’n groot mate aanvaar word. Die GEGEWE SELF kan egter nooit ten volle vervang word met die VERLIGTE SELF, of enige ander vorm van die self wat beskou kan word as meer “eie” en derhalwe meer “eg” nie. Die GEGEWE SELF – of dan aspekte daarvan – bestaan tot die oomblik van fisiese dood.

* * *

Die Gegewe Self – die produk van onder andere noodlotsfaktore soos geslag en tyd en plek van geboorte, en sterk beïnvloed deur die persoonsmodel wat voorgehou word as die mees toepaslike in ag genome noodlotsfaktore en kulturele waardes en behoeftes van die gemeenskap – kan gemanipuleer word volgens alternatiewe persoonsmodelle.

Een voorbeeld wat genoem kan word is die jong vrou van ’n konserwatiewe familie, wat in haar vroeë twintigs haar huis op ’n klein plattelandse dorpie verlaat vir die groot stad waar sy haarself na ’n paar jare transformeer in ’n flambojante aktrise. ’n Meer radikale voorbeeld sal wees die persoon wat gebore is as ’n man, ’n geslagsoperasie ondergaan, trou, en die res van sy/haar lewe slyt as ’n vrou. ’n Minder dramatiese voorbeeld is die geval van ’n man, afkomstig uit ’n Calvinistiese familie, wat op ’n stadium gereken is as iemand wat die spirituele behoeftes van sy gemeenskap sal dien as ’n prediker, wat as ’n volwassene sy geboortegrond verlaat om heil (en verbeterde identiteit) te vind op ’n ander kontinent, met beelde van ou filosowe en afgestorwe skrywers wat dien as sy alternatiewe selfmodelle.

Wat gebeur is dat die individu die gegewenheid van wie en wat sy is, konfronteer. As hierdie eksistensiële oomblik bereik word, kan die persoon weereens kyk na die wêreld om haar, en haarself (weereens) twee vrae vra, “Wie is ek?” en “Wie wil ek wees?” Fisiese beperkinge van die Oorspronklike, of dan Gegewe Self wat nie verander kan word nie, asook partikulariteit van ontstaan (tyd en plek van geboorte, asook sosio-ekonomiese agtergrond, ensomeer), moet noodwendig aanvaar word.

Die oomblik wat die persoon die punt bereik wanneer sy verklaar dat sy haar gegewenheid sien, wanneer sy aanvaar waaroor sy nooit ’n keuse gehad het nie en wat sy (werklik) nie kan verander nie (ongeag of sy wil of nie), kom sy te staan voor ’n nuwe waardering van haarself in haar partikulêre omgewing – MITS sy glo aan die potensiaal om haarself te kan transformeer, al is dit steeds binne die raamwerk van werklike gegewe beperkinge.

* * *

Om gegewenheid te konfronteer, te erken, en te glo aan die asemrowende moontlikhede wat binne die bereik is van ’n redelik intelligente persoon, is onontbeerlike bestanddele van die Proses van Wedergeboorte – en moontlik, maar nie noodwendig nie, die geboorte van die VERLIGTE SELF.

* * *

Terloops, wat beteken dit as iemand sê hy’s ’n “wedergebore Christen”? Dit beteken dat hy sy “ou self” “gekruisig” het, met ’n “nuwe self” wat die plek van die oue inneem. Dit word uit die aard van die saak veronderstel dat die “nuwe self” beter is, skoon van die “sonde” van die “ou self”. Die geloofsgemeenskap verwag ook dat hierdie persoon – die nuwe bekeerde – sy “nuwe self” moet wéés, om geloofwaardigheid te verleen aan sy aanspraak op “wedergeboorte”. Filosofies, en literêr, is dit briljant, en kleurvol …

______________________