Oor die nageslag: Inleiding

[’n Soms vuilbek tirade oor die begeerte om eendag pa te word – of nie.]

SONDAG 5 OKTOBER 2003

Ek behoort nie kinders te hê nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek is te gespanne, te opgewen oor die lewe. Dit het my dan tien jaar gevat net om te kan sê: “Oukei, ek dink ek het dit nou uitgesorteer. Ek hét nou die resep! Nou moet ek net die koek bak en hoop ander vind dit eetbaar. Of ek hoop ék reken darem dit proe oukei, anders moet ek weer probeer.”

Hoe verwag ek om ’n vaderfiguur te wees vir kinders?! ’n Oom vir susterskinders, ja. Ek sal ’n goeie oom wees, die tipe wat dinge weet en verstaan wat my swaers moontlik nie weet en verstaan nie. Maar ek is bevrees ek sal die tipe pa wees waaroor my seun vir sy vriend sal sê: “Ek wens my pa was meer soos joune. My pa is so angstig oor alles. Ek hoop nie ek draai eendag soos hy uit nie.”

My probleem is, na al hierdie jare kyk ek nog steeds na myself in ’n middelklas spieël. Nog steeds! Na al die jare! En in hierdie spieël vind ek myself steeds te lig! “Alreeds 32 … nog nie getroud nie … niks op die horison nie … geen huis of kar nie … skryf steeds dieselfde stukke oor en oor sedert jy 23 was!” Fok almal! Fok die middelklaswêreld wat ek steeds soos ’n brandende buiteband om my nek rondsleep! Kyk vir ’n slag na jouself in jou eie spieël en oordeel jouself volgens jou eie kriteria, en nie wat jy veronderstel ander s’n is nie!

Maar dit val alles plat omdat ek skaam deur middelklashuise skuifel met my plastieksandale, omdat ek nie dink dis my geoorloof om met beter skoene spore oor hulle tapyte te trap nie! En ek voel skaam as ek in hulle kombuise staan omdat ek wens ek het ook ’n mikrogolfoond gehad!

Dink ek dis tyd om keel skoon te maak en aan te kondig, “Dames en here, julle pis teen die verkeerde boom. Ek is nie een van julle nie”?

Of is ek? Ek wil immers tog ook trou en kinders hê, dan nie? Maar hoe kan ek dit versoen met my huidige ambisies, en met my angs oor die lewe en die dood?

Dis tyd dat ek inderdaad uit my klaskas kruip en sê dat ’n paar dinge duidelik gemaak moet word, en fok almal basies, en dis hoe dit is, nog altyd was, en môre en volgende jaar ook gaan wees.

MAANDAG 6 OKTOBER 2003

Beteken wat ek gisteraand gesê het dat ek sal verkies om vir die res van my aardse bestaan op my eie te wees, of dat ek nie tien keer meer geld wil maak as op die oomblik nie? Nee, om iemand in jou lewe te wil hê, is essensieel om te oorleef in hierdie wêreld, en dat groot hoeveelhede kapitaal ’n handige hulpbron kan wees, kan nie geïgnoreer word nie.

Besonder goeie redes kan uitgewys word hoekom ek steeds moet strewe na samesyn met ’n ander persoon en na finansiële onafhanklikheid. Om daarna te strewe sodat ek vir my tydgenote kan sê, “Kyk maatjies, ek is ook nou een van julle!” is egter nie een van die redes waarop ek my vinger sal lê nie. As die maatjies nie wil speel nie, stuur hulle in hul moere in.

DINSDAG 7 OKTOBER 2003

Omdat ek kinders wil hê. Dit is hoekom ek steeds gewig gee aan mense se kritiek en negatiewe opinies oor my wat andersins nie sou saak maak nie. Want na al die linksgesinde politiek, na alles oor kreatiewe en persoonlike vryheid, is daar een ding wat ek nie lekker kan inpas in my huidige leefstyl nie: die ideaal van ’n Goeie Pa wat aan sy kinders die beste gee wat hy kan, en sy eie voorkeure en ambisies soms opoffer vir sy kinders.

Hoekom sal die moontlikheid om self eendag kinders te hê my kwesbaar maak vir kritiek wat betref my keuse van ’n leefstyl? Want, om ’n Goeie Pa te kan wees, het ek geld nodig. Ekself glo onwrikbaar daaraan dat ’n pa wat nie kan bekostig om goed om te sien na sy kinders nie, altyd ’n probleem sal hê om sy kinders, sy vrou, sy bure, sy vriende, familie, ander mense in die gemeenskap met wie hy verskil op talle gebiede, en laastens homself in die oë te kan kyk.

Is ek goed genoeg om ’n vaderfiguur te kan wees vir kinders? Ek het nog altyd geglo ek is, of sal eendag kan wees, want ek reken uit my ervaring van skoolgee verstaan ek kinders tot ’n mate, en ek kom goed genoeg met hulle oor die weg. Ek weet verder uit ervaring dat ek streng kan wees wanneer ek moet, konserwatief wanneer dit nodig is, en verdraagsaam, oopkop en geduldig genoeg om kinders, kinders te laat wees.

Probleem is, ek gaan te veel gebuk onder my eie vrese en onsekerhede. Ek het ook geen rekord om te kan wys dat ek finansieel die verantwoordelikheid sal kan dra van ’n gesin nie – of dan ten minste om ’n redelike bydrae te kan maak saam met ’n salarisverdienende huweliksmaat. Daar is slegs een logiese konklusie: Ek kwalifiseer nie op hierdie tydstip van my lewe om enige iemand se pa te wees nie.

* * *

Dit is tog opvallend: Soveel van die dinge waaroor ek onseker is, het te make met die allerhoogste en noodsaaklikste euwel van ons beskawing: GELD.

As my toekoms wél die basiese vreugdes van ’n vrou en kinders insluit, sal ek slegs my oortuigings van persoonlike vryheid en kreatiewe onafhanklikheid, en my eie begrip van etiek en moraliteit, kan verkondig sonder voorbehoud, as ek genoeg geld het. Hoekom? Want al is jou ideaal van kreatiewe onafhanklikheid hoe noemenswaardig, en jou begrip van etiek en moraliteit hoe edel, sal dit niks meer as woorde wees as jy nie behoorlik na jou gesin kan omsien nie.

* * *

Die pad wat ek gekies het ná universiteit, die pad wat ek geloop het die afgelope tien jaar, is nie bevorderlik daarvoor om ’n Familieman te wees wat voldoen aan my eie hoë vereistes vir die rol nie. Hierdie vereistes is feitlik identies aan wat verwag word van ’n Goeie Pa en Gesinsman van die Sosio-ekonomiese Middelklas. Solank ek dagdrome het daaroor om self eendag ’n familieman te wees, sal my eie hoë vereistes van myself vir so ’n rol veroorsaak dat ek ligvoet trap in middelklasgeselskap terwyl ek hulle kritiseer; sal ek deur hulle geïntimideer word terwyl ek die spot dryf met hulle.

Die lewe wat ek geleef het die afgelope tien jaar, die keuses wat ek gemaak het en die resultate daarvan, is geskik vir die lewe van ’n enkellopende digter, skrywer, en leunstoel filosoof. Dit is geskik vir die ewige student van geskiedenis, godsdiens, filosofie en ’n taal of drie. Tensy ek gelukkig is, is dit ’n lewe van eensaamheid wat heel waarskynlik sal eindig in ’n vroeë dood.

Dit is die lewe wat ek vir alle praktiese doeleindes gekies het vir myself, en wat ek die moeite werd moet maak om te leef op ’n daaglikse basis. Dit is die lewe waarin ek gemaklik voel, wat my emosioneel in staat stel om my vrese en onsekerhede tot ’n mate hanteerbaar te maak, en om selfs kreatief te kan omgaan daarmee.

Dit is ook die lewe wat nie bevorderlik is vir die vervulling van ’n ander ideaal nie, naamlik om eendag die rol te speel van ’n Goeie Pa en Gesinsman.

Ek wou nog altyd in ’n klas van my eie gewees het. Op 32-jarige ouderdom kan ek myself op die skouer klop en sê: “Geluk ou maat. En jammer jy kan nou nie alles wees wat jy wil wees nie.”

Is dit goed genoeg? Dit móét wees, want dít is my lewe.

______________________

Drie insidente

DONDERDAG 2 OKTOBER 2003

Drie onlangse insidente in my lewe het tot interessante insigte gelei.

Die eerste een het plaasgevind op ’n Donderdagmiddag. Op pad terug van die dorp af het ek vir my ’n boksie gebraaide rys gekoop by een van my gunsteling eetplekke. ’n Kwartier later sit ek toe in my nuwe sitkamer en kyk Very Bad Things – met my mengsel van gebraaide rys, groente, garnale en ’n eier wat in tee gekook is, gereed om verorber te word. Dit moet genoem word dat hierdie een van my gunsteling Taiwannese disse is. Siende dat ek honger was van die rondryery die hele oggend, het ek die eerste paar happe met deernis geniet. Al kouend wou ek toe, vir net ’n oomblik, die boksie neersit op die swart skinkbord voor my. Omdat my oë gefokus was op Cameron Diaz – en ek is nie eens ’n fan nie! – het ek nie die riskante posisie van die skinkbord op die rand van die koffietafel opgemerk nie.

Die volgende oomblik gebeur dit. Die skinkbord hel oor, en ek sit skielik met warm, vars gebraaide rys op my plakkies, tussen my tone, en natuurlik, op die vloer. Geskok en verslae het ek my ooglede toegevou, meer in ontkenning van wat gebeur het as vir die gewone kontemplasie.

Vir ’n oomblik het ek myself verbeel dat dit net ’n verwronge nagmerrie was, dat dit nie werklik gebeur het nie, dat ek my oë gaan oopmaak en sal voortgaan om my rys met groente en garnale te geniet soos net ’n honger man kan. Maar ek moes die realiteit in die gesig staar dat my lewe nie ’n fiktiewe verhaal is nie. Ek moes myself forseer om op te staan, die garnale van my plakkies af te skud, en voort te gaan met my lewe.

Na ’n paar minute het ek voldoende herstel van die skok om te besef ek kon myself kompenseer deur by die 7-Eleven ’n boks Garlic Chicken Gratin en ’n halfdosyn vleiskluitjies te gaan koop. Op pad na die kafee het ek probeer om die legkaart van verkeerde aksies inmekaar te pas wat gelei het tot die rampspoedige Gebraaide Rys Episode. Die koffietafel waarop die skinkbord gerus het was oorlaai met gemors, so die skinkbord kon nie behoorlik inpas nie; die tafel was te ver van my stoel af; ek het nie gekyk wat ek doen nie; en die alomteenwoordige waaier was in die stilte besig om op alles te blaas wat kon oorhel.

Twintig minute later was ek terug in my sitkamer met twee pakke kafeekos (’n jammerlike substituut vir vars gebraaide rys), en ’n waardevolle nuwe insig om die hele insident minder onaangenaam te maak. Ek het gereken dat sommige faktore bevorderlik is vir ’n toestand waar iets verkeerd kan loop in jou lewe (in hierdie geval hoofsaaklik die oorvol koffietafel), en aan die ander kant, dat sekere faktore bevorderlik is vir ’n toestand waar dinge reg kan verloop (’n skoon koffietafel sou ’n fantastiese voorbeeld gewees het).

Vir die rekord kan ek ook noem dat ek diep beïndruk was – dalk om akademiese redes – deur my opregte afgryse oor die sig van gebraaide rys op my vloer, in stede van op pad na my leë maag.

* * *

Die tweede insident het plaasgevind ’n paar dae later, met die Gebraaide Rys Episode geklassifiseer en weggepak as ’n oorleefbare gebeurtenis.

Soos ek besig was om my nuwe woonstel te verken, ontdek ek ’n stoorplek in die plafon tussen die sitkamer en die badkamer. Hierdie spasie, het ek gevind na verdere ondersoek, kon bereik word vanaf ’n klein, gedeeltelik versteekte deurtjie in die spaarkamer. Ek trek toe ’n plastiekstoeltjie nader, maak die deurtjie oop, en bespied die donker, bedompige ruimte. Ou klere, ’n hoed met ’n veer in, ’n nuwerige swart aktetas, en verskeie ander bewyse van vorige menslike bewoning van die woonstel het die spasie opgevul. Net toe ek effens teleurgesteld van die stoeltjie wou afklim – behalwe natuurlik vir die aktetas – sien ek ’n liggie wat vaag aan-af, aan-af skyn teen die oorkantse muur. Ek dog toe dit mag dalk ’n juweel wees wat lig weerkaats, en ek steek toe my hand verder die donkerte binne. Die item was egter steeds buite my bereik. Ek trek myself toe halflyf in, en leun op ’n hoop swart sakke om nader te kom. Dié keer kon ek dit net-net raak met die punte van my vingers. Dat ek moontlik op iets van waarde afgekom het was duidelik, en ek besluit toe om myself heeltemal in te trek, met net my voete wat nog by die spasie uithang. Rustend op vele jare se gemors, gryp ek toe na die item.

Die noodlot was egter op my spoor. Soos ek die item – wat teen dié tyd ’n amper demoniese rooi skynsel begin kry het – probeer nader trek, kraak die plafon onder my gewig. Ek onthou dat ek ’n algemene, huishoudelike vloekwoord geuiter het. Ek onthou ’n helder, flitsende lig. Die volgende oomblik trek die swaartekrag my, ’n klomp swart sakke, die aktetas, en ’n portret van twee Chinese minnaars af, na wat ek veronderstel het die kort gang se vloer sal wees.

Ek was steeds aan die skree, met ’n swart sak onder die een arm, en die twee Chinese minnaars onder die ander, toe ek te lande kom op ’n lappie sagte groen gras. ’n Waterval, nie ver van my af nie, het ’n kalm ritme gekabbel oor die rotse. Ek was uit die aard van die saak verbysterd. Vir enkele oomblikke het ek net rondom my gestaar, terwyl ek stof uit my oë probeer knip het. Toe staan ek op, sit die twee minnaars teen ’n boom, en stap af in die rigting van die waterval.

Geen fantasie kon my voorberei vir wat ek die volgende oomblik aanskou het nie. Daar, onder die waterval, met lywe soos mitiese Griekse godinne, was ’n halfdosyn beeldskone jong vrouens! Toe hulle my sien – vanwaar ek agter ’n bos vir hulle gestaan en loer het – wuif hulle vir my terwyl hulle vrolik giggel, sonder om eens vir ’n oomblik hand oor boesem te slaan …

Oukei, nie regtig nie. My tuimeling na benede het geëindig in ’n boom, in wat ek gou genoeg geïdentifiseer het as Hai Feng Gong Yuan (Seewind Park), ’n paar blokke van my nuwe woonstel af. Die binnekant van die boom was gevorm soos ’n tregter, wat ’n baie gelukkige toeval was. Ek sit toe vir ’n oomblik in die middel van die boom op ’n plek wat, snaaks genoeg, amper soos ’n troon gelyk het. Nadat ek my gedagtes agtermekaar gekry het, het ek afgespring grond toe.

Ek het die paar omstanders, meestal ou Chinese oorlogsveterane, met groot waardigheid gegroet – ek het ontdek ek het die hoed met die veer op my kop gehad, so ek het dié so effens gelig. Soos ek toe terugstap na my woonstel toe, kom die vreemdste gedagte by my op: Kon dit wees dat die takke van die boom nie gevul was met blare nie, maar met rolletjies NT$1000-note? ’n Terugblik na die Gebraaide Rys Episode herinner my toe daaraan dat my lewe nie ’n fiktiewe verhaal is nie.

Tog, die moontlikheid was genoeg om my in my spoor te stop. Ek haas myself toe terug na die boom en gryp na die naaste tak. Daar, tot my groot konsternasie, sien ek dit: varsgedrukte NT$1000-note!

Natuurlik stop ek toe my sakke vol “blare”, en gelukkig het ek die aktetas ook daar gehad, wat ek toe ook volstop. ’n Bietjie meer agterdogtig oor die ou Chinese here, het ek so ’n vinnige kyk in hulle rigting gewaag. Besig om stukke uit die Anale van Confucius aan mekaar te resiteer, het hulle hul nie aan my gesteur nie. Meer as dit, niemand in die omgewing het geblyk bewus te wees van die spesiale boom nie!

Met note wat uit my sakke peul, onder by my hemp uitval, en nog ’n paar wat onder my hoed uitloer, stap ek toe weer terug huis toe. Halfpad onthou ek dat ek nie my sleutels by my het nie, siende dat ek in die boom geëindig het op die mees onortodokse wyse. Toe ek by my woonstel aankom, het die deur egter vanself oopgegaan, asof dit geaktiveer was deur my naderende voetstappe. Veilig tuis, trek ek toe oombliklik my hemp uit, en stamp in die proses per ongeluk my hoed af.

Die skouspel van geld wat die hele wêreld rondsweef soos skoenlappers in ’n tropiese tuin, het my skoon bewerig gemaak van geluk. Ek het vinnig ’n paar glasies groen tee weggeslaan, en begin toe die note bymekaarmaak. ’n Halfuur later skryf ek die nommer “87,000” op ’n onoopgemaakte telefoonrekening. “Ek moet teruggaan,” sê ek toe hardop, en soek rond na my hemp en my hoed.

Teen die tyd wat die son die vuil water begin trek het uit die slote langs die pad, was ek halfweg tussen een en twee miljoen NT dollar. My dag was definitief besig om ongekende vlakke van vooruitstrewendheid te bereik!

Kort na my laaste lopie na die boom het ek egter ’n onaangename sensasie ervaar. Ek het skielik besef ek ken nie my eie naam nie. Ek wou die unieke aard van die dag amptelik maak met ’n klein toesprakie, maar ek kom toe nie verder nie as, “Wel, uhm … Watsenaam …” Terwyl ek so in my sitkamer staan en name uitprobeer, stimuleer hongerpyne toe ’n ander ontstellende gedagte. Ek het nie ’n idee van watse tipe pizza ek hou nie! ’n Vae bewussyn dat ek al voorheen aan sulke onkunde gely het, was geensins bevorderlik vir ’n goeie gemoed nie. Die situasie het nog erger geraak toe ek skielik besef ek het geen idee waar ek vandaan kom nie – Amerika … Egipte … Swede?! Ek het gestaar na die foto’s teen die muur in die hoop dat dit sentiment sal loswikkel, en miskien ’n idee van my identiteit en waar ek hoort, sal inspireer.

Toe, uit die bloute, tref dit my soos ’n ton vrot kool: Ek het ’n byna onuitputlike voorraad finansiële hulpbronne! Ek kon ’n bietjie pret hê! Wat maak dit saak dat ek onseker was oor ’n paar administratiewe sakies?!

Mense sal soms verwys in hulle staaltjies na “van die beste tye van my lewe”. Oor die volgende paar dae het ek ervaar wat hulle bedoel. Ek het vir myself ’n naam uitgedink, en ’n storie gefabriseer oor ’n jeug in lekker plekke soos New York en Parys. Ek het nuwe klere gekoop. Die paar hare wat ek oor het op my kop, het ek laat opdoen in ’n deftige styl. Ek het selfs liefdesballades in ’n karaoke bar probeer sing saam met vriendelike en skraps geklede jong dames. Pizza was in oorvloed genuttig, hoewel ek ’n hele paar moes uitprobeer voor ek besef het ek is ’n Super Deluxe-ou.

Na ’n paar dae van ononderbreekte fuiwery en uitspattigheid het ek begin kalmeer. Ek was egter steeds hoogs tevrede met die verhoogde kwaliteit van my nuwe bestaan.

* * *

Dit was tydens hierdie tyd wat die derde insident plaasgevind het.

Ek was besig om uitdrukkingloos te staar na my televisiestel, met die klank afgedraai om nie my gevoel van tevredenheid te versteur nie. So moes ek al ’n geruime tyd gesit het, want die weeklaag van die gebreekte deurklokkie het my verskrik laat opspring. Ek het ’n wit frokkie oor my kaal bolyf getrek, en die deur oopgemaak.

Die man op my deurmat het ek herken as ’n wese van ’n ander planeet nog voor hy sy orale opening oopgemaak het. Oor sy skouers was gedrapeer ’n groen toga met pragtige goue patrone, en sy voete het gelyk soos ysskaatse uit die negentien-twintigs. Hy’t ’n paar deurmekaar klossies hare gehad op wat beskryf kon word as sy bolip, en ’n soortgelyke hoeveelheid hare op sy kop. Hy’t sy poot uitgesteek – dit het nie gelyk soos ’n menslike hand nie, en ek dit geskud. Toe maak hy ’n gebaar asof hy beleefd toestemming vra om my woning te betree; ek wys toe met ’n soortgelyke gebaar vir hom om in te kom.

Na ons ’n bietjie vars groen tee geniet het (natuurlik van ’n baie hoër gehalte as die soort wat ek altyd by die 7-Eleven gekoop het), het ek hom gevra na die rede vir sy besoek aan ons planeet. In perfekte Afrikaans antwoord hy toe dat hy op ’n sending is. Sy opdrag was om menslike lewe te kom ondersoek op die planeet Aarde: hoe ons leef, hoe ons funksioneer, hoe ons oor die weg kom met mekaar, hoe ons daarin slaag om so geordend te bly, en hoe ons daarin slaag om ons lewens te leef in oënskynlike tevredenheid in ag genome die feite van die kosmos.

Ek het geantwoord dat hy nie bedrieg moet word deur die voorkoms van dinge nie. Baie mense, het ek hom verseker, verkies die lewe minder geordend. Verder het ek hom ingelig dat baie mense nie hulle lewens slyt in tevredenheid nie, maar eerder in angstige verwarring. Dit het my gas ontstel. Ek het vir hom ’n sigaret aangesteek en na hom uitgehou, en toe sy glas opgevul.

Die man het verbasend vinnig klaargespeel met die sigaret, vir ’n paar oomblikke gestaar na die versameling ornamente op my koffietafel, en nadat hy ’n blik gewerp het in die rigting van die foto’s teen my muur, het hy weer begin praat. Hy’t gesê dat hy ’n kursus gedoen het op sy planeet oor Oorlewing in Moderne Aardbeskawings; dat hy selfs ’n handleiding saamgebring het. Hy het ook lesings bygewoon oor meer abstrakte onderwerpe soos “Identiteit”, “Toewyding”, en ’n “Sin vir Plek”.

Hy’t my verder vertel dat die leiers van sy planeet – geleerde wesens het hy my verseker – hom ingelig het dat hy ’n man hier sal ontmoet, kort na hy gearriveer het, wat hom ’n paar instruksies sal gee oor hoe om “in te pas”. Sy tuig het hom blykbaar afgelaai in ’n park nie te ver van hier nie, en ’n paar bejaarde here het in die rigting van my woonstel gewys. Kon ek die akkuraatheid van die dinge bevestig wat hy in sy lesings geleer het, het hy my gevra met diepe erns in sy oë, en kon ek dalk vir hom ’n paar wenke gee.

Ek het nagedink oor my ervaringe van die vorige paar dae, oor die feit dat ek steeds nie geweet het wat my werklike naam is nie, en dat ek steeds nie seker was oor waar ek vandaan kom en waar ek inpas nie. Wat ek wél geweet het, was dat die lewe veel meer genotvol was met ordentlike finansiële hulpbronne! Nie net kon ek al my fisiese behoeftes bevredig op ’n daaglikse basis nie, maar toe ek ’n maagpyn gehad het ’n paar dae vroeër, het ek na die beste hospitaal in die stad gegaan. (Dit is waar dat my vreemde voorkoms aanvanklik die mense effens onrustig gemaak het – ek het op daai stadium vir ’n paar dae al nie geskeer nie, maar nadat ek vir hulle my aktetas vol varsgeplukte geld gewys het, het hulle baie vriendeliker geraak. Om die waarheid te sê, die verpleegsters het gewikkel geraak in wat maklik beskryf kan word as ’n vuisgeveg met die dokters vir die voorreg om my te versorg.) Ek kyk toe na die vreemde wese in my sitkamer, wat op daai stadium skynbaar diep in gedagte was, en let toe op hoe die buitengewone kurwes van sy oorgewig lyf beklemtoon is deur sy styfpassende helder oranje kostuum – sy toga het teen hierdie tyd agter die deur gehang. Die klossies hare op sy bolip, langs die kant van sy gesig, en op sy onderontwikkelde ken, het my herinner aan my eie voorkoms enkele dae vroeër. Om die waarheid te sê, sy hele voorkoms het bygedra tot my deernisvolle gevoel jeens hom.

Toe kyk ek hom reguit in sy effense hartseer oë, haal diep asem en sê, “Meneer die Wese, ek moet jou teleurstel. Ek weet nie veel van die abstrakte konsep van identiteit, of oor mens se plek in die wêreld nie. Wat ek wel weet, is dat as jy reguit terugloop na daai park toe, jy op ’n boom sal afkom wat lyk soos ’n tregter. Jy mag dalk die meer algemene aardse tipe blaar verwag op die takke, maar hierdie boom is uniek. Dit groei geld! Nou, maak ’n paar sakke vol met van hierdie geld – maak seker jy vat genoeg! Gaan dan na die naaste hotel toe, en kry vir jou ’n kamer. Kyk in jou eie handleiding oor waar om kos en ander items te koop.

“Kies ’n naam uit ’n tydskrif,” het ek voortgegaan, “en maak dit jou eie. Dink ’n storie uit oor waar jy vandaan kom … jy kan sê jy’s van die buitenste ruim, maar mense neem dit nie meer ernstig op nie. Sê jy’s van die Balkan,” was my voorstel, “of van Noord-Ierland of Arizona of so ’n plek.

“Die geld, so’t ek onlangs ontdek Meneer die Wese, sal die sukses van jou sending verseker, maak nie saak wie jy is, waar jy vandaan kom, of wat jy vir ander vertel wie jy is of waar jy vandaan kom nie.”

Ek het geskuif tot op die rand van my stoel, en asof die wese die erns verstaan het van wat ek volgende wou sê, doen hy toe dieselfde. “Onthou!” het ek uitgeroep. Die wese se oë het verdubbel in grootte. “Maak seker jy’t altyd voldoende kapitaal!” Om die belangrikheid van my advies te beklemtoon, begin ek toe ’n onsigbare plank te hamer met ’n denkbeeldige stuk gereedskap in my gebalde vuis. “Dis die goue reël wat jy nooit mag ignoreer, vergeet of onderskat nie! Maak seker jou sakke is altyd gelaai!”

Die wese het begin rondskuif in sy stoel, en ek reik toe maar na die bottel tee. Ons drink toe nog ’n glasie in stilte, en ek stap toe na die kombuis om ’n paar vullissakke te gaan haal. Toe ek terugkom in die sitkamer het hy reeds opgestaan. Hy neem toe die sakke, en skud my hand. Ek maak toe weer die deur oop, en hy verdwyn by die trappe af. Enkele minute nadat ek weer op my stoel gaan sit het, het ek in ’n diep slaap verval.

Dit dan, was die derde insident wat my huidige gedagtes beïnvloed het oor sekere aangeleenthede.

Dit moet seker ook genoem word dat ek, wat ek gewéét het my regte naam is, gemompel het die oomblik toe ek wakker word. Niks kon my egter voorberei vir die volgende skok nie. Ek het fluit-fluit afgestap Seewind Park toe, met my leë aktetas swaaiend in die lug, en die hoed met die veer in bo-op my kop. Werklike, organiese, vuilgroen blare op die takke van die magiese tregterboom het my lam in die knieë gemaak. ’n Mens kan amper sê dit het my meer ontstel as die skouspel van vars gebraaide rys op my stowwerige vloer.

______________________

Wie en wat

WOENSDAG 1 OKTOBER 2003

Identiteit is soos ’n eksterne kenteken (of versameling kentekens) wat ons ronddra en vertoon om aan ander te wys wie ons is. Identiteit help ons ook om die verhouding te verstaan tussen ons en ons omgewing en alles en almal wat deel is daarvan. Wát ons is, strek egter veel dieper as wié ons is. Ek glo verder dat identiteit ’n oorlewingsmeganisme is wat ons spesie aangeleer het in die proses van ewolusie, omdat vroeër meganismes wat dieselfde funksies gehad het as identiteit vandag, tot ’n groot mate afgestomp geraak het.

Elkeen van ons kan ’n hele lys dinge aframmel, wat almal wat wou weet sou oortuig dat ek nie Ronald Reagan is nie, en jy heel moontlik nie Napoleon Bonaparte nie. Ons het name, nasionaliteite, moontlik beroepe, telefoonnommers, selfoonnommers, identiteitsnommers, paspoortnommers, kredietkaartnommers, adresse, bloedtipes, alma maters, herinneringe van hoërskool, belangstellings, gunsteling vakansieplekke, ambisies en drome … net om ’n paar te noem. Maar nie een van hierdie dinge, of die hele klomp saamgegooi, is meer as net inligting óór ons nie.

’n Plant, hoe diep sy wortels ook al in die grond is, ís nie die grond nie. Die plant bly ’n plant, en die grond bly grond. Ons identiteite is moontlik iets soortgelyks. Die plant het die grond nodig om te oorleef in die tuin. Ons – vlees-en-bloed, verstandelik aktiewe, lewende organismes – het identiteit nodig om te kan oorleef, in die eerste plek, en dan verder, om behoorlik te kan funksioneer in die omgewing waarbinne ons lewens uitgeleef word. Al die elemente waaruit individuele identiteit saamgestel word, is groter as die individu en sy of haar identiteit: taal, nasionaliteit, voorouers, geskiedenis, en so meer. Die manier hoe ’n individu elemente van identiteit onttrek – by wyse van spreke – uit sy of haar omgewing, is dus, op ’n manier, soortgelyk aan ’n plant wat voedingstowwe onttrek uit die grond ten einde te kan oorleef.

As die formulering van jou ware identiteit nie die einddoelwit is nie, wat is? ’n Aanvanklike antwoord blyk te wees, “plek in die wêreld”. Geen mens kan sy of haar plek in die wêreld vind of definieer sonder om eers uit te sorteer wie hulle is in verhouding met alles om hulle nie. Identiteit is die middel tot hierdie doel.

Hoekom wil ons weet waar ons “plek in die wêreld” is, waar ons “behoort”?

Alle tekens dui daarop dat ’n spanningslose toestand die primêre strewe is van alle organismes – insluitende die mens. Soos ons almal weet, is daar meer dinge wat spanning veroorsaak in ons lewens as wat ons in een leeftyd kan aftel. Daar is dinge wat ons fisiese bestaan bedreig; dinge wat ons sielkundige welstand bedreig; die oervrees om te verdwyn in die nietigheid die dag wanneer ons sterf. Dan is daar die kakofonie van tale, kulture, subkulture en ander verskille tussen ons dat ’n mens amper wil glo dis ’n wonderwerk dat ons mekaar nie uitmoor ter wille van ons eie kanse op oorlewing nie … of eerder, dat dit nie méér gebeur as wat alreeds die geval is nie. Die primêre strewe van ’n spanningslose toestand manifesteer in die begeerte om veilig te voel, in die sterk drang om onsself te beskerm.

Een relatief effektiewe manier om onsself te beskerm, om ietwat veiliger te voel, en ’n bietjie beter te voel oor die moontlikheid van verdwyning, is om te wees tussen ander “soos ons”. Hierdie beginsel is so oud soos die lewe self, en dit manifesteer in nasionalisme, godsdiens, bloed-is-dikker-as-water, vriendskappe, subkulture, die manier hoe wilde diere van dieselfde spesie saam groepeer, en in die geblaf van honde in die nag.

Die behoefte om veilig te voel stimuleer die behoefte daaraan om êrens te behoort. Ten einde lidmaatskap van een of meer groepe te bewerkstellig, benodig ons inligting oor onsself – daarom die soeke na identiteit.

Die probleem is dat hierdie “soeke na identiteit” in baie gevalle ’n uitgerekte proses is, en die drang na veiligheid – soos die redes om te vrees vir ons lewens – kan nie wag tot jy jou regte naam van die dakke kan uitskree nie.

Wat op aarde kan help om hierdie proses minder traumaties te maak, om jou angs te verlig as jy nog nie mooi weet wie jy is, en waar jy inpas nie? Anders gestel, wat kan jou angs verlig terwyl jy nog “soek” na jouself, en na jou plek in die wêreld? Die antwoord so naby soos die naaste beursie vol banknote: GELD.

Hoekom laat geld – of dan, om oor meer as genoeg geld te beskik – jou beter voel as jy nie seker is van jou identiteit nie? Geld verminder die noodsaaklikheid van (’n goed gedefinieerde) identiteit deurdat dit die oorspronklike behoefte aan ’n bewussyn van persoonlike veiligheid en sekuriteit bevredig. Geld koop kos, klere, ’n dak oor die kop en deure en hekke met grendels en slotte; geld koop ook die dienste van ’n tandarts wanneer jou tande pyn, die hulp van dokters as iets anders verkeerd is, en dit koop medisyne in die geval van siekte en ’n bed in ’n goeie hospitaal in ernstiger gevalle; geld koop vermaak, geselskap, en in meer gevalle as wat meeste sal erken, is geld ook direk of indirek bevorderlik vir die ontwikkeling van vriendskappe. Om op die langtermyn toegang te hê tot voldoende kapitaal, is om te weet dat al bogenoemde beskikbaar is wanneer dit benodig word; om te weet dat al bogenoemde beskikbaar is wanneer dit benodig word, is om veilig te voel.

Beteken dit hoe ryker die ou is, hoe minder hoef hy te weet oor homself? Nie heeltemal nie. Hoe ryker die ou is, hoe beter die kans dat hy gaan voel sy bestaan, vir nou, is beter verskans as dié van die boemelaar in die rioolpyp. En hoe beter hy voel oor sy kanse op oorlewing, hoe minder sy dringende behoefte aan alternatiewe maatreëls om ’n bewussyn van sekuriteit te bewerkstellig – naamlik die oortuiging dat hy êrens behoort, saam met iemand of ’n groep mense. Om te verskyn buite die gemak en beskerming van sy veilige tuiste, mag wel die persoon se sin van persoonlike veiligheid verminder, wat die behoefte sal stimuleer om te wys waar en hoe hy behoort – dat hy [X] is in ’n omgewing waar meeste mense verstaan wat [X] beteken. Natuurlik sal geld uiters handig te pas kom in die aanskaffing van toepaslike (en in vele gevalle voorafverpakte) Kentekens van Identiteit – vryelik beskikbaar op die Internet, uit bestel-per-pos katalogusse, of ’n wye keuse van poetsblink inkopiesentrums.

Wat ook al die verskil tussen die kind van geld en die res van die samelewing se kinders wanneer dit kom by identiteit, dit verander niks aan die feit dat, selfs al kan jy ’n boek skryf oor jou eie identiteit en oor jou persoonlike agenda in hierdie wêreld, dit steeds nie die volle waarheid omsluit oor wát jy is nie.

In terme van materie is jy soveel pond vleis, soveel liter bloed en soveel meter vel. En het jy regtig wetenskaplikes nodig om aan jou uit te wys tot watter graad jy dieselfde is as ’n hond of ’n bobbejaan?

Die vraag na WIE jy is, is so prakties soos die regte moersleutel in ’n werkswinkel: Dit dien ’n doel, en die doel is ’n bewussyn van persoonlike sekuriteit.

WAT jy is, is egter moeiliker om vas te vat. As ons net soveel pond vleis en bloed en vel en bene minder of meer is as ons troeteldiere, met (meeste van die tyd) ’n brein wat meer ontwikkeld is, dan moet selfs ék wonder of ek my tyd mors deur te doen wat ek doen. Dan maak dit mos ten volle sin om skaamteloos geld na te jaag vir geen ander rede nie as die sekuriteit, en die vermaak en gemak wat dit kan koop.

Wat daarvan, moet mens uiteindelik vra, as ons net soveel pond vleis en been meer of minder is as ’n wilde dier, en niks meer nie? Of is die feit dat ons breine soveel meer ontwikkeld is, so belangrik dat ooreenkomste in organiese samestelling tussen die mens en ander “minder ontwikkelde” lewensvorme regtig nie eintlik saak maak buite die laboratorium nie?

Nog ’n vraag: Hoe affekteer dit ons ambisies, ons beskouing van gemeenskap, ons drome oor die toekoms, ons hoop vir die volgende geslag, as ons glo dat niks buite ons fisieke bestaan lê nie, as betekenis in die lewe en definisies vir goed en sleg gevind moet word binne dit wat ons kan dink en voel en ervaar – individueel, en as individue in gemeenskap met ander wat soortgelyke ervarings het? En hoe verander dit die onderwerp as dit moet blyk – bo redelike twyfel – dat ons meer ontwikkelde breine ’n aanduiding is dat die mens deel is van iets wat verder strek as dit waarvan kameelperde en kokkerotte en spinnekoppe deel is?

______________________