Aanvaar verantwoordelikheid vir jouself in 2018

DONDERDAG 31 JULIE 2003

Die begeerte om my kreatiewe onafhanklikheid te behou, is wat ek die afgelope paar jaar voortdurend aangevoer het as rede/verskoning hoekom ek in Taiwan moet bly. “In Suid-Afrika,” so resiteer ek altyd die rympie aan myself, “moet ’n mens bereid wees om jou kreatiewe onafhanklikheid prys te gee as jy by ’n instelling of korporasie ’n betrekking aanvaar.” Dit is hoe dit werk meeste van die tyd. En, het ek altyd geglo, hoe dit heel waarskynlik sal werk in my geval, as ek seker wil maak dat ek my hande lê op ’n voldoende maandelikse kwota oorlewingskoepons.

Ek het die afgelope paar weke tot die insig gekom dat dit juis hierdie behoefte aan kreatiewe onafhanklikheid is, en veral ook die ideaal om baas van my eie tyd te wees, wat my nie net in staat sal stel om maandeliks genoeg struggle koepons te verdien nie, maar om inderdaad … dromme rol, swepe klap … ryk te word.

Om ryk te word, is dit in die eerste plek belangrik dat jy regtig ryk wil wees, moet weet hoekom jy ryk wil wees, en moet weet wat die alternatief is tot finansiële welstand. Dan is ’n kreatiewe, skeppende natuur wat jou in staat sal stel om vorendag te kom met idees, en ’n hardkoppige geloof dat jy kán, sál, en móét suksesvol wees, onontbeerlike eienskappe. Laastens, as jy die baas van jou eie tyd is, sewe dae per week, is daar net een ding wat in jou pad staan om finansieel onafhanklik te word – jyself.

As ek oor ’n jaar, of drie jaar, of vyf jaar finansieel onafhanklik is, sal dit die resultaat wees van ’n reeks beelde wat vorm aangeneem het in my kop, besluite wat geneem is oor hoe om die beelde te realiseer, en stappe wat op die regte tye en op die regte wyses deurgevoer is. As ek nie oor een jaar, of drie jaar, of vyf jaar finansieel onafhanklik is nie, sal dit wees omdat ek nie die beelde in my kop opgevolg het met die korrekte besluite en die korrekte aksies nie.

Ek, nou, is verantwoordelik vir my sukses ’n jaar, en drie jaar, en vyf jaar van nou af. Net soos ek een jaar, en drie jaar, en vyf jaar gelede verantwoordelik gehou moet word vir die goeie, en minder goeie resultate van wat ek huidiglik my lewe noem.

The Universe is on my side? Ek glo dit mag dalk net moontlik wees. Die tyd is nóú. Ek is die pa van my kinders drie of vyf jaar van nou af. Ek is die seun van ’n pa en ’n ma wat sal baat by my sukses. Ek is die broer van twee susters wat ook waarde sal trek daaruit. Ek is ’n mens by wie se sukses baie ander mense, wat nou nie eens bewus is van my bestaan nie, sal baat vind.

Ek moet nóú verantwoordelikheid aanvaar vir my sukses een, en drie en vyftien jaar van nou af.

______________________

Donker Dinsdag | Ligter Donderdag

DINSDAG 29 JULIE 2003

Donker Dinsdag

Mens wil nie onnodig op dieselfde snaar bly hamer nie, maar ek reken ek gaan een van die dae in die kak wees. My vermoede is sterk dat ek al vier my vriende op verskillende tye, en om verskillende redes vervreem het. (Is dit beter as om hulle te vervreem om dieselfde rede?) Meer as dit, die suspisie is aan die ontwikkel dat hulle selfs sover gaan om my te vermy. Kan jy dit glo? Ek, onskuldige ou Brand wat altyd aankarring in gesprekke oor “Stryd en Skepping” en vir almal goed bedoelde preke afsteek oor hoe hulle lewens fokkol werd is as hulle nie kan wegstaan van hulle eie skeppings, en soos die God van Genesis kan sê “Dis goed!” nie. (En om te dink ek probeer hulle net help om meer vervullende lewens te lei.)

In alle eerlikheid, ek dink nie my teorieë en preke is die enigste stomp swaarde wat vriende en potensiële kennisse verjaag nie. Ek is, behalwe nou vir my hoogs oorspronklike teorieë en gepaardgaande monoloë, ’n hoogs vervelige individu. Goed, ek kan saampraat as die gesprek om die vuur oor geskiedenis of godsdiens gaan, maar ek mag dalk geneig wees om soms te slim te wees, en miskien net te veel te weet vir die ander mense om ook goed te voel oor húlle algemene kennis. So, tensy die gesprek handel oor sonde, die oorlog in Irak, Hitler, Stalin of die middeleeue is ek in my moer in. Ek het nie ’n motorfiets nie (kan nie eens een bestuur nie), en ek gaan nie oor naweke saam na strandoorde toe nie. Verder vertel ek nooit vuil grappe langs braaivleisvure nie (kan die donderse goed nooit onthou nie), en ek doen nooit iets op my eie wat mense goed sal vind om oor te vertel aan ander, sodat ek ’n gesonde sosiale reputasie kan opbou nie.

Maar kom ons hou op om rondom die netelbos te steier. Die rede hoekom ek hoofsaaklik ’n persona non fokkol is, is omdat ek altyd alleen by plekke inloop, en nooit saam met iemand uitstap nie (hoofsaaklik van die teenoorstaande geslag). Ek is, per definisie dus, ’n alleen-loper. En soos mense van voor die tyd van Johannes die Doper al weet, kak almal in hulle broeke as dit lyk of ’n alleenloper in hulle rigting mik.

Die Alleenloper babbel voort oor dinge wat net hy verstaan en interessant vind. Die Alleenloper is melaats. Die Alleenloper het ’n boggelrug. Die Alleenloper het ’n velsiekte wat maak dat hy op ’n afstand geruik kan word. Die Alleenloper het tering, of AIDS … wat by oop sere op sy hande uitdrup in vuil bloed wat dreig om almal te besmet wat om braaivleisvure staan en vuil grappe vertel.

Die Alleenloper is ’n fokken genius. Dit kan nie anders nie. Ek meen, selfs al het hy nie ’n graad in geskiedenis en godsdienswetenskap nie, selfs al het hy nie ’n boek van ’n paar honderd bladsye oor sy eie lewe geskryf nie, selfs al was hy nie reeds besig met sy tweede digbundel nie (wat, soos die eerste, ’n ongepubliseerde meesterstuk sal wees), selfs al het hy nie sy eie Beginsels van ’n Betekenisvolle Lewe geformuleer nie, moet hy noodwendig uitsonderlik wees: ’n Ongekende profeet wat nie eens in die buiteland erken word nie, wat nog te sê in sy eie agterplaas (as hy ooit so iets sou kon bekostig in die land van sy herkoms).

Hy móét eenvoudig spesiaal wees, iemand wat net nie verstaan en waardeer word deur die plebs wat hy graag sy vriende sou wou noem nie. Hoekom? Want god alleen weet, as hy nie is nie, is hy niks. Dan’s hy ’n verrottende karkas wat selfs deur ander intelligente, gesofistikeerde, verligte mense wat hy voorheen “vriende” genoem het, vermy word. Want instink dryf selfs die mees verligtes onder ons om ons neuse op te trek vir dit wat dood is. Om weg te vlug van dit wat eens geleef het, maar sedertdien eers ’n turn for the worst gevat het, en toe stadig gaan vrek het in die halfskemer stilte van sy privaatkwartiere, êrens in ‘n buurt waar niemand wat sy taal praat, meer gesig kom wys nie.

Ag nou ja. Fok almal.

DONDERDAG 31 JULIE 2003

Ligter Donderdag

Wie’t my stuk oor die snaar gelees?!

Sedert Dinsdagoggend 29 Julie 2003 om 01:32 het my een vriend gebel om te vra wanneer ek tyd het – hy wil graag vir my ’n nuwe fietswinkel in die stad gaan wys.

Later bel ek my een vriendin. Ons gesels toe vir meer as ’n uur lank oor werk, en oor onsekerhede waarmee sy worstel elke dag. Ensovoorts. Sy’s blykbaar werklik baie besig. Sy’t blykbaar werklik meer vriende as net die uwe, en sommige van haar vriende hou haar besig met tot twintig sellulêre teksboodskappe op ’n dag.

Vanoggend net na ontbyt toe bel my ander vriendin. Sy’s jammer sy’s so stil deesdae, maar tot die einde van hierdie week is sy besig van Chinese klas in die oggend tot halftien in die aand by die werk. So, vra sy, hoe lyk dit met koffie vanaand by haar.

Ag nou ja.

______________________

Weer tyd vir wiskunde | Oor aartappels en vrugte

VRYDAG 25 JULIE 2003

Weer tyd vir wiskunde …

Ek het, lief vir somme soos ek is, my vriende in hierdie plek getel: “vier” is die groot getal waarmee ek vorendag gekom het. Van hierdie vier is twee mans, en twee vrouens. Ek het nie tans kontak met enige van hierdie mense nie.

Dis Vrydagaand, reeds vyf na middernag (Saterdagoggend, dus). ’n Verlate vlakte van ’n naweek word in die oë gestaar. Ek reken my gemoed sal reeds teen vroeg môre-aand in sy moer wees. Ek gaan die hele aand video’s wil kyk, terwyl ek deep fried tofu en calamari in my keel afspoel met koue groen tee. Dan sal ek my metabolisme versnel met die een Nat Sherman na die ander in die vals oortuiging dat dit sal verhoed dat ek vet raak van al die olierige kos.

Ek sal moet weggaan. Stryd vir die Siel. Stryd om Oorlewing. Ek weet ek het ander mense nodig, maar soms is jy genoodsaak om ’n ander plan maak.

Die naweek is nog ’n leë skildery, onbevlek met werklike gebeure. Tyd om kreatief te raak, anders raak die werklikheid dalk kreatief met my …

SATERDAG 26 JULIE 2003

Oor aartappels en vrugte

Eet aartappels of vrek – dis my enigste twee keuses.

Ons almal weet hoe ’n gebalanseerde dieet lyk – proteïne, suiwelprodukte, ’n verskeidenheid groente en vrugte, ensovoorts. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie of omgewing bevind waar daar net aartappels is? Gaan sit jy op ’n klip en kerm, “Ek wil neute hê, en vrugte, en groente, en melk en vis en eiers …”?

Dis dan wanneer jy vir jouself skree, “Ons almal wil ’n gebalanseerde dieet volg! Ons almal wéét ons het dit nodig! Maar daar is nie nou vis of vrugte of ander groente nie! Daar’s net aartappels! So eet aartappels of vrek!”

’n Ander gedagte: as jy ’n miljoenêr is, is die waarskynlikheid groot dat dit die gevolg is van dinge wat jy in jou verbeelding opgewek het, en aksies wat jy geneem het. Meeste “gewone” mense is oortuig daarvan dat hulle maar altyd swaar sal kry. As hulle gelukkig is, behou hulle hul werk tot hulle 65 tref, en tree dan af met hulle skete en pyne, en ’n aftree-polissie of twee. Feit is, as jy jouself die regte dinge voorstel, en die regte aksies neem, kan meer as genoeg geld een van die vrugte wees wat jy sal pluk.

______________________

Laaste uitbarsting (voor die einde van my vakansie)

VRYDAG 18 JULIE 2003

[Teen Vrydag 18 Julie 2003 was ek weer terug in wat voorheen bekend was as Johannesburg, maar nou ’n ander naam genoem word wat mens net mag gebruik as jy in (Johannesburg) woon. Snaaks, dié reëls van stamme en plek, en taal, en rituele van lidmaatskap aan ’n groep …

Die Vrydagoggend, vanaf kort voor 06:01 tot en met 06:24, het ek ’n laaste uitbarsting gehad van inspirasie en insig.]

Beginsels van ’n Betekenisvolle Lewe:

STRYD
PLEK
SKEPPING

en ook:

BASIC LEVEL OF EXISTENCE
INTERMEDIATE LEVEL OF EXISTENCE
HIGHER LEVEL OF EXISTENCE

Identiteit is die Sleutel tot Lidmaatskap.

Ek het die afgelope paar weke baie gesê oor die sogenaamde grootmenswêreld en hoe ek myself as onvolwasse beskou in hierdie wêreld (of so gedoen het, tot nou toe). Ek wil dit egter verander na die wêreld van geld. Ek is heeltemal volwasse genoeg om my plek as ’n volwassene vol te staan in die sogenaamde grootmenswêreld.

Die werklike probleem was nog altyd my onkunde oor, en gevolglike vrees vir die wêreld van geld. My lot, tot nou toe, was beklink omdat ek nie die “maklike” uitweg wou kies deur net êrens ’n werk te kry nie – of ten minste te probeer om een te vind. Dit is egter ononderhandelbaar dat mens steeds geld nodig het. Maar hoe nou gemaak as mens nie ’n formele betrekking of beroep wil hê nie, en jy weet ook nie hoe om andersins geld te maak in Suid-Afrika nie? Onkunde, vrees, Korea, toe Taiwan …

Ek het egter die afgelope drie weke agtergekom dat die gevreesde Wêreld van Geld ondersoek, bestudeer en bemeester kan word. Aan die einde is dit soos meeste dinge wat mens angstig maak – as onkunde vervang word met kennis, vlug die vrees.

Twee woorde:

VRYSKUT
ENTREPRENEUR

[En omdat ek dié groot woorde kwytgeraak het in die spaarkamer van ’n huis van ’n vriend van ’n vriend in ’n stad wat nie my eie is nie, het ek gemeen, ter afsluiting:]

MY HUIS IS WAAR MY NOTABOEK IS.

______________________

Woordspele

[Die Irene Craft Market, 40 kilometer noord van Johannesburg, is ’n bedrywige toonbeeld van kreatiwiteit. Elke tweede Saterdag van die maand kom mense van orals in Gauteng (en verder) om hulle skilderye, handgemaakte juweliersware, tuisgemaakte klere, boereworsrolle, pannekoek en limonade te verkwansel. My ouers maak ook van hierdie geleentheid gebruik om hulle produkte – ’n pragtige pottebakkery reeks – te bemark, en hopelik genoeg geld te maak om petrol te kan koop om terug te kom in Middelburg.

Op dié spesifieke Saterdag het ek my jaarlikse verskyning gemaak, om almal se tuisgemaakte artikels te kom inspekteer, soveel as moontlik boereworsrolle vir kwaliteit te toets, koffie te drink teen R5 per koppie, en enige iets anders in my mond te stop wat naastenby eetbaar lyk en wat ek weet ek nie in Taiwan kry nie.

Tussendeur al die harde werk het ek ook foto’s geneem van kamele, en ’n brokkie wetenskaplike waarheid genoteer in my notaboek.]

STRUGGLE – CREATE – COMMIT – BELONG

STRUGGLE – COMMIT – BELONG – CREATE

Struggle precedes creation. Belonging is the result of commitment. But you also struggle whilst you create, and you create whilst belonging. The one feeds the other. But struggle must lead to creation, as commitment should lead to belonging.

______________________