Die digter leer om slim te wees

SONDAG 29 JUNIE 2003

[Die volgende gedeelte is oorspronklik genoteer in my notaboek op die naweek van Vrydag 27 Junie tot Sondag 29 Junie 2003, in my gunsteling plek in dié geweste, Hong Kong.

Daar was ’n probleem met die bespreking van my vlug tussen Hong Kong en Johannesburg. Ek het die Vrydagoggend elfuur al in Hong Kong gearriveer, maar omdat ek onmiddellik ’n ou vriend op die lughawe moes ontmoet, het ek nie my vlug Johannesburg toe (later die aand) gaan bevestig nie.

Nadat ons brunch in die stad gehad het, moes my vriend homself haas terug na die lughawe. Ek het die res van die dag rondgeloop, en myself behoorlik geniet. So teen nege-uur die aand terug by die lughawe, het ’n dame te vertelle gehad dat hulle ge-“overbook” was. Sy’t verder verduidelik dat ek moes wag vir die volgende vlug – wat eers Sondagaand vertrek.

Ek was eers uit die veld geslaan. Ek het net twee ure geslaap die vorige nag, en ek was uitgeput van al die rondloop die middag en vroeër die aand. Die dame stel my toe gerus dat hulle ’n kamer in ’n goeie hotel vir my beskikbaar sal stel, en ’n limousine sal my direk soontoe neem. En vir as ek miskien gedink het daaraan om kwaai briewe te sit en skryf vir die lugdiens, het hulle ook HK$2500 byderhand waarmee ek myself kan amuseer (’n bedrag geld rofweg gelykstaande aan soveel Suid-Afrikaanse rand).

Ek sê toe, ek is baie kwaad want dis my verjaarsdag Sondag, en wat nou? Maar die pret wat ek gehad het op een dag in Hong Kong weeg toe swaar op my gemoed, en wie’s ek om ongeskik te raak as ’n groot maatskappy my wil betaal om nog twee dae in een van my gunsteling plekke te spandeer? Ek sê toe nee maar goed, kry my tasse en wys my waar ek daai limousine moet kry.

Ek het die volgende nota begin skryf kort na my aanmelding by die toonbank vir wat ek gereken het regtig ’n lang slap kar gaan wees om my persoonlik na die hotel te karwei.]

——————–

Ek bevind my in een van daai belaglike situasies waar ek, die Armblanke Digter, behandel moet word asof ek ryk en belangrik is. Al die partye, ek ingesluit, is effens verward.

“Maar almal kan dan sien daar’s ’n skeur in sy hemp!” fluister die jong dame senuweeagtig.

“Ek weet. Sjuut …” adviseer die ouer man langs haar. Telefoniese bevestigings word gemaak in gedempte gesprekke. Sweet word van ’n voorkop afgevee. Uiteindelik besef almal die onaangenaamheid moet eenvoudig verduur word.

“Please come with me … sir,” word daar huiwerig beveel deur die man met die geswete voorkop.

Die Armblanke Digter huiwer self vir ’n oomblik, mik eers in die verkeerde rigting in, en word dan teruggeroep na ’n ry gemaklike rooi stoele. ’n Oranje plakker word in sy hand gestop. Korrek interpreteer hy die plakker as ’n kenteken van sy nuwe status as iemand wat soos ander mense behandel moet word wat in weelderige hotelle tyd spandeer. Hy plak dit teen sy ligblou “Tokyo III” hemp. Dit bly afval. Die ander beplakkerde individue sit etlike stoele van die digter af. Hy spekuleer dat dit mag wees oor die klein skeurtjie in sy hemp, maar neem nie onmiddellik die moontlikheid in ag dat, na ’n dag se rondlopery in warm, vogtige Hong Kong, hy nie meer ruik na die eau de cologne wat hy die oggend ewe verwaand onder sy arms gespuit het nie.

Die man kom na vyftien minute weer nader gestap. “This way please,” wink hy vriendelik aan die groep wagtendes. Die Armblanke Digter stap dié keer voor. Dan onthou hy van die spuitgoed in sy boeksak, en is skielik vies dat hy gesit en notas maak het eerder as om homself op te fris.

Oor die volgende twee dae kom die digter een belangrike ding agter: mens leer. Feit is, die hele deftige hotel storie, soos die deftige restaurant en sekerlik al die onderdele van ’n weelderige lewe, is ’n spel. Mens kan die reëls en truuks van ’n komplekse video game vir jouself uitwerk, en dit tot ’n mate bemeester na ’n paar oefenlopies. Soveel te meer met weelderigheid.

Dit gaan oor selfvertroue. Hoe meer jy blootgestel word aan situasies waar jy, soos in die video game, sekere “bewegings” moet maak, hoe meer leer jy om dit reg te doen. En hoe meer jy leer, hoe minder foute maak jy. En hoe minder foute jy maak, hoe meer word jou selfvertroue – en hoe minder is jy bewus daarvan dat jy eintlik ’n vreemdeling is in ’n omgewing waar jy nie regtig hoort nie.

——————–

[Die digter bereik na twee dae en drie nagte die dorp waarvan hy al droom vir maande lank – Bronkhorstspruit, 50 kilometer noord van Pretoria. Vergete was die maande van adolessente vernederings en groeipyne (het ek al genoem hy was hier op laerskool?). Die skooltjie waar hy op sy dag prefek was, lyk anders, kleiner. Die Vetkoek Hoekie is nog steeds op die hoek, maar met ’n ander naam. Die dorp lyk oor die algemeen kakkerig, maar daar was tog ’n lekkerte daaraan om terug te wees. En dit was winter, die uwe se gunsteling seisoen. Dooie geel gras, ’n kilheid in die laatmiddagluggie, en die reuk van steenkool het die sintuie oorweldig met ’n skamerige vragie: “Welkom tuis?”]

______________________

Die vraag bly steeds …

WOENSDAG 18 JUNIE 2003

Ek wil teruggaan Suid-Afrika toe. As dit binne die volgende ses maande is, kwaai. As dit eers oor drie jaar is, dan aanvaar ek dit so. Dit is egter belangrik om te weet waarheen jy op pad is. En om dít te weet, en om te weet hoekom jy dáár wil wees, is dit belangrik om te weet waar jy vandaan kom.

Ek ken die antwoorde op hierdie vrae. Ek weet dit nou baie beter as ses, en drie, en twee maande gelede (danksy ’n partikulêre insident van 20 Mei). Ek weet dus waarheen ek op pad is, waar ek wil wees (nie net in terme van geografiese plek nie, maar ook in terme van die Groot Hiërargie), en hoekom ek spesifiek dáár wil wees.

Ek het egter een vraag: Wat doen ’n mens as jy alleen is?

Ek wil impliseer dat dit nie die ideale situasie is nie. Meeste mense wil omring wees deur familie en vriende, en naby aan die persoon wees met wie hulle ’n intieme verhouding het. So is dit ook met my. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie bevind waar jou naaste familie duisende kilometers ver is, jy jouself toenemend vervreem het van mense wat jy op ’n stadium vriende genoem het, en niemand jou by die huis inwag om saam met jou tee te drink en die dag se gebeure te bespreek nie? Miskien is hierdie situasie die resultaat van omstandighede buite jou beheer, of miskien is jyself ten volle verantwoordelik daarvoor. (Indien laasgenoemde die geval is, is dit nie te sê dis nie om goeie redes nie.)

Die vraag bly steeds, wat doen ’n mens as dit net jy is, en jy wil nie hê dit moet uiteindelik jou geestesgesondheid of moraal onherstelbaar vermink nie?

______________________

Realiteit, en ’n paar ander feite

DINSDAG 17 JUNIE 2003

“What I used to think was me/is just a fading memory/I looked it straight in the eye, and said goodbye/I’m up above it …” ~ Nine Inch Nails

Ek het nie veel van ’n keuse anders as om te vernuwe nie, het ek? My troeteldier is dood, en my woonstelmaat en vriendin het haar heil op ’n ander kontinent gaan soek. Sommige mense ignoreer my eers, besluit dan hulle wil net vriende wees, en besluit dan ook dít is te veel. Ander mense speel kat-en-muis om my te wys wie’t wié die meeste nodig. Die res van my kennisse vermy my om ’n verskeidenheid redes – ek gaan nooit op naweek trips nie, godsdiensverskille, en miskien bloot net omdat ek nie genoeg pret is om mee uit te hang nie. My TV is gebreek. My rekenaar is gebreek. My fiets is net die helfte van wat dit verlede jaar was. My scooter staan al vir amper ’n jaar op die stoep en olie drup. Die waterrekeninge is maande laas betaal, en my scooter registrasie is nog nooit betaal nie. Ook my studieskuld is steeds ongedelg. My woonstel ruik soos ’n stroois. Insekte vlieg en loop verwaand die hele plek vol want ek het die enigste roofdier, ’n reuse spinnekop, doodgetrap. Ek geniet nie tans enige vroulike geselskap nie, want meeste Suid-Afrikaanse vrouens hier is streng groepsgeoriënteerd, en ek loop alleen by plekke in en uit. En Taiwannese vrouens dink ek is te eienaardig – selfs vir ’n uitlander. Die oubaas wat die skool besit in die klein dorpie buite Fengshan, dink ek is ’n slegte werker omdat ek sommer ’n klas kanselleer as die trein laat is met ’n halfuur, en ek nie net die klas ’n halfuur later wil begin nie omdat ek dan vir 45 minute moet wag vir ’n trein terug huis toe. En die prinsipaal by die ander skool irriteer my omdat sy nie kan verstaan hoekom ek op Maandae en Vrydae twee minute vroeër wil loop nie, ten spyte daarvan dat die eienaar gesê het dis oukei om vyf minute vroeër te loop. Oor tien dae gaan ek Suid-Afrika toe vir drie weke, maar dit voel al klaar asof ek soos ’n mislukking gaan lyk, voel, klink en optree, tot ek weer op ’n vliegtuig klim terug Taiwan toe. Intussentyd sal die insekte my woonstel oorgeneem het as ’n nuwe ekologiese sisteem, my fiets sal verroes wees, alles sal nat wees buite, en bedompig binne van al die reën, en ek sal niemand hê om te bel en te sê ek is terug, kom ons gaan drink ’n koppie koffie nie. My rekenaar sal nog steeds stukkend wees, en as ek ’n nuwe rekenaar wil koop gaan my spaargeld vinniger opraak, wat sal beteken ek sal heel moontlik, as ek gelukkig is, weer “Twinkle Twinkle Little Star” moet sing vir vierjariges wat óf wil skree, óf wil slaap.

Daar – daar’s die realiteite van my lewe op Dinsdag 17 Junie 2003 om 10:22 in die oggend – by die huis, omdat die trein na Number Nine Crooked Village vertraag was met 35 minute. Tog, my skottelgoed is gewas (vir die eerste keer sedert laat April), en die wasmasjien is besig om my beddegoed ’n laaste spin te gee. ’n Slapie klink dus vir my na ’n uitstekende plan.

(Klaar geslaap, 12:05)

Dis net sowel. Mens kan nie begin met ’n nuwe lewe as die oue nog skop nie. Ek het dit al voorheen probeer, dit werk nie.

[…]

Wat kom hierna? Ek weet nie. In elk geval, is dit nie soos om te vra na die geslag van die verwagte geboorteling as mens nog nie eens swanger is nie?

Feit: Nie alle mense het altyd nodig om vir ander te werk nie.

Slegte Nuus: Op hierdie stadium van my lewe het ék nodig om vir ander mense te werk.

Goeie Nuus: My lewe op hierdie stadium is nie van so ’n aard dat ek nodig het om ’n slaaf te wees vir ’n ryk man sestien ure elke dag, sewe dae per week nie.

Feit: Ek het nodig om op hierdie stadium van my lewe ’n paar ure elke dag (of dan vyf dae per week) vir iemand te werk wat geld maak uit my arbeid.

Feit: Ek het al ’n byna onafgebroke arbeidsverhouding met een of ander werkgewer sedert 1991 (ek het ongeveer 17 “base” getel).

Feit: Ek aanvaar dit so.

Ou Feit: Vestig jouself as ’n kenner op ’n gebied, en bou ’n professionele reputasie op.

Dus, Feit: Verbeter jou kanse om geld te maak op ’n wyse wat jou persoonlikheid pas en jou belangstelling behou, deur jouself te vestig as ’n kenner op ’n gebied waarin jy geïnteresseerd is, en deur ’n professionele reputasie op te bou in ’n mark waarin wat jy lewer, kommersiële waarde het.

Genoeg feite. Tyd vir nog ’n gedig:

ek dra nog steeds die klere
van my vorige lewe
ek sit nog steeds dieselfde stoele vol
met jukkerige agterstewe

______________________

Soldaat vir die siel (as sy wapen net wil vuur)

SATERDAG 14 JUNIE 2003

Op Vrydag 13 Junie kon ek nie verby die password op my rekenaar kom nie, want die a, die Back Space en die Caps Lock sleutels het oordag besluit om op vroeë aftrede te gaan. Dit het my nie lank gevat om ’n paar dinge wys te raak nie:

1. Dat die ontwikkeling hoogs ontstellend is.

2. Dat mense hulle hoop vir geluk plaas op iets wat deel is van hulle daaglikse lewens. Soms weet hulle wat dit is, en soms besef hulle eers wat dit was wanneer dit weg is. Vir party mense is dit ’n intieme verhouding met ’n ander persoon. Vir iemand anders is dit om ’n gesin te hê, en ’n kind in die aande in ’n warm bed te kan neerlê. Vir ander weer is dit die feit dat hulle baie geld het. En in sommige gevalle is dit al bogenoemde. Vir my is dit om te skryf; in praktiese terme beteken dit om elke dag die password op my rekenaar in te tik, en te werk aan enige van ’n paar projekte wat ek aan die gang het.

3. As ek ’n soldaat is, is my rekenaar my wapen (hoewel ek ook bekend is met meer tradisionele wapens soos ’n pen en ’n notaboek).

4. Die gedagte het by my posgevat dat dit net moontlik is dat ek dalk ’n ander rekenaar moet koop.

Vir die rekord, hoekom het ek in Junie 2000 ’n draagbare rekenaar gekoop? Omdat dit draagbaar was terug Suid-Afrika toe. Dit was soos versekering: eindig weer op in ’n bediendekamer, besit ten minste ’n rekenaar.

’n Desktop PC – groot boks met ’n groot ondraagbare skerm – het vir my beteken dat ek nog lank genoeg hier gaan bly om dit aan die einde te kan afskryf wanneer ek weer my rugsak pak.

En nou? Het ’n disfunksionele a sleutel my gedwing om vroeër by die Groot Vraag uit te kom as wat ek beplan het? Gaan ek nog lank genoeg in Taiwan bly om dit te regverdig om ’n nuwe rekenaar te koop – en heel waarskynlik nie die draagbare soort nie?

Ek wonder ook, net so terloops, is ek nie dalk steeds (of alweer) ’n bietjie naïef oor dit wat my, ’n sertifiseerbare armblanke die oomblik as ek my voete op Republiekgrond sit, inwag in Suid-Afrika nie?

So kom ’n gedagte toe by my op toe ek vroeg vanaand gaan kyk het na rekenaars: Haak hier vas vir nog ’n paar jaar, en stel myself uiteindelik in staat om ’n woonstel in Suid-Afrika te kan bekostig – natuurlik in ’n buurt en argitektoniese styl gepas vir ’n self-respekterende armblanke intellektueel.

Om eerlik te wees het soortgelyke idees al in my hoof rondgespring voor die a besluit het om ’n Caps Lock te word. Vroeg in die voormiddag het ek al gereken, “nou Julie drie weke by die familie, dan weer volgende Maart. En as mens nie aan die einde van volgende jaar teruggaan Suid-Afrika toe nie, ook volgende Desember saam met die familie by die see.” (As besigheid vir die familie goed genoeg verloop.)

Tyd sal natuurlik aanstap, en my Chinees sal ’n punt begin bereik waar mens geld sal kan maak met vertaalwerk of iets soortgelyks in Suid-Afrika. Soveel meer tyd is ook soveel meer tyd vir die publikasie van handboeke, en skryfwerk geïnspireer deur ’n lewe in die Verre Ooste. En daar’s natuurlik die oudagversekering wat 15000 kilometer treinreise, ’n paar weke in Japan, ’n paar weke in China, en selfs ’n besoek aan New York sal beteken.

Maar op ’n baie eenvoudiger vlak, hierdie punt: om my eie huis of woonstel in Suid-Afrika te besit.

Wat is die alternatief? Ek braai vanaf Maart 2004 elke naweek by my jonger suster en swaer (solank ek my eie wors en knoffelbrood kan bekostig); ek betaal vir nog drie of vier jaar af aan my studieskuld, en huur vir die res van my lewe ’n woonstel in Bronkhorstspruit. Dit terwyl ek op braais, waar my knoffelbrood al flouer raak, luister na ánder se stories van treinreise oor Russiese gebergtes en Chinese woestyne, en trips na Japan en New York, en Parys en Amsterdam. Terwyl ek by die dag ouer raak, en my geesdrif vir oorlogmaak met my sleutelbord afneem by die dag.

Maar ten minste sal ek my familie gereeld te siene kry, of hoe?

Niemand het gesê hierdie ding gaan maklik wees nie. Maar ek is ’n Soldaat in die Armblanke Bataljon, vegtende in die voorste loopgraaf in die Stryd vir die Siel.

En jy wen solank jy staande bly.

______________________

Bleekbaard doen sy wiskunde

VRYDAG 13 JUNIE 2003

Oukei, die vraag van die dag: Oortref my ambisies my finansiële vermoëns? Antwoord: Nie solank ek in Taiwan bly nie.

’n Mens beweeg in die rigting van somme maak. Jy sê: Goed, ek is nou so oud, en ek het al dit en dat gedoen. Ek besit ’n eierklitser en ’n nice asdrom. My gesondheid is sus en so, en ek het nog soveel jare oor voor ek veertig strike, of vyftig.

Jy kyk ook na wat jy nié het nie. Jy kyk na dit wat jy nie besit nie – miskien ’n huis, of ’n karavaan, of ’n mikrogolfoond – wat nog altyd net-net buite jou finansiële bereik was. En jy kyk na wat jy nog nie gedoen het nie, en wat om redes wat net jý kan verduidelik vir jou belangrik is om te doen. Hierdie laaste punt is die een wat ek vir die oomblik wil aanspreek.

Die ding is, mens raak by die jaar ouer, en jy begin toenemend dink aan versekering vir die eendag wat een of ander tyd gaan aanbreek as jy … gelukkig is. En die groot vraag, wat mens eers probeer ontduik tot jy besef jy kan dit nie langer ignoreer nie, is of jy ten minste ’n bietjie van die lewe geniet het terwyl jy opsoek was na al die stukke van die legkaart, al die antwoorde, al die naamplaatjies wat jy om ervarings, insidente, insigte en begeertes wou hang.

In die beantwoording van hierdie vraag sukkel ’n mens gewoonlik om te lieg – die waarheid neig om selfs van onder die donkerste sonbril weerspieël te word.

Ek het gekies om die naamplaatjie van “Dinge Wat Ek Rêrig Geniet Om Te Doen” te hang om reiservarings. Die lekkerte van om die eerste keer op ’n plek aan te kom, en foto’s van jouself te neem op plekke wat jy voorheen nog net op flieks of CNN gesien het. Dit dra die tipe gewig wat ek op die ander kant van die skaal wil gooi wat ouderdom so laat oorhel.

Daar is ander dinge ook, maar dit behels meestal emosies wat soms handuit ruk. Om ’n gesin te hê – om getroud te wees en kinders te kry … is ook ’n aangename gedagte. Maar dis iets wat hierdie hele bespreking baie meer kompleks sal maak, en wat op sy eie nuwe onsekerheid bring.

’n Ander gedagte druis soms my grysstof binne ten spyte van edel weerstand: Is die odds heeltemal teen ons gelaai in hierdie lewe? Of gaan die lewe nie oor wiskunde en wetenskap nie? Is dit, soos wat ek vir ’n paar jaar al vermoed, ’n stryd wat jy wen solank jy staande bly?

______________________