Oor “Harte” en die lewe

MAANDAG 18 JUNIE 2001

My strategie vir die kaartspel “Harte” is op die oog af teenstrydig met die doelwit van die spel. Dit lyk aanvanklik asof ek afstuur op selfvernietiging – net ter wille daarvan om myself te vermaak, terwyl die ander spelers besig is met ’n ernstige spel. Teen die tyd wat die ander spelers egter besef dat ek besig is om ’n spel – waarvan hulle my nie as ’n ernstige deelnemer beskou het nie – te wen, is dit te laat. Hulle pogings om hulle eie posisies te red is dan reeds gedoem, en ek is op pad na ’n skitterende oorwinning, behaal op ’n onortodokse wyse.

Dit moet egter genoem word dat ek nie hierdie onkonvensionele strategie met elke rondte volg nie. Sodra ek sien dat ek nie ’n spesifieke rondte gaan wen op my manier nie, verander ek my strategie. Ek is dus pragmaties genoeg om nie my werklike oogmerk te verslaan ter wille van om anders te wees nie.

Hierdie benadering tot die spel verg durf, en amper oordadige vlakke van selfvertroue. ’n Mens moet ook aanvaar dat jy gaan verloor van tyd tot tyd, en dat sulke tye hanteer moet word met soveel grasie as ’n oorwinning.

Aan die einde kan dit gesê word dat ’n oorwinning behaal op jou eie manier en teen die verwagtinge van die ander spelers veel meer vervullend is as om die spel te wen volgens beide die gesproke en ongesproke reëls en konvensies.

As jy egter verloor, keer op keer, deur jou eie onortodokse metodes te volg, is dit gewoonlik ’n goeie idee om jou primêre doelwit, en so ook jou metodes, te heroorweeg. Die illusie van selfvernietiging is immers – en dit moet nooit uit die oog verloor word nie – veronderstel om slegs ’n illusie te wees.

______________________

Hoe die kragte dans

VRYDAG 1 JUNIE 2001

Dat alles om mag wentel, is een van die belangrikste dinge wat ek geleer het op die bedrieglike pad na volwassenheid. Hierdie waarheid geld nie net op die politieke en ekonomiese terreine nie, dis net so geldig op die terrein van persoonlike verhoudings.

Enige persoon wat ooit gelukkig genoeg was – of ongelukkig, hoe dit ook al sy – om in ’n intieme verhouding met iemand anders te kon wees, sal vir jou kan sê dat beide partye altyd geweet het waar hulle staan in die magsbalans. In die ideale verhouding is albei partye natuurlik gelyk, selfs al is die een soms in ’n beter emosionele toestand as die ander, en derhalwe beter in staat daartoe om sake, vir die oomblik, te dikteer. Maar die feit dat die party in beter gemoed elke nou en dan wissel, bevestig die basiese gelykheid van die twee partye.

Hierdie beginsel geld ook vir vriendskappe. Daar mag tye wees wat die een vriend meer in beheer is van ’n situasie, en meer oortuig is van hom- of haarself. In sulke gevalle sal die ander vriend amper instinktief die onderdanige posisie inneem. Hierdie rolle kan verander so gou as wat die onderwerp van bespreking verander, of wanneer ’n situasie ontwikkel waarmee die een persoon meer gemaklik is, of wat hy of sy met meer selfvertroue kan benader.

Dieselfde verskynsel manifesteer ook op subtiele wyses in sosiale omgang tussen vreemdelinge. Wanneer twee mense mekaar vir die eerste keer ontmoet (sê by ’n braai, of by ’n drink-en-dans ruimte), onderneem die brein ’n spoed profiel samestelling. Feite word gesoek en gerangskik in ’n voorlopige begrip van magsbalans. Is die persoon vriend of vyand? Is hy cool, of is hy ’n loser? Is sy iemand wie se naam ek behoort te onthou, of moet ek net haar hand papperig skud terwyl ek oor haar skouer soek na iemand wat my belangstelling meer prikkel?

Afhangende van die voorlopige antwoorde op hierdie vrae, besluit ons waar ons staan in die magsbalans met hierdie vreemdeling. As die persoon gereken word as ’n nie-bedreigende, potensiële vriend wat die indruk skep dat hy of sy weet watter woorde om in watter konteks te gebruik, dan word die volgende stel vrae opgestuur na die Hoër Orgaan toe: Moet ek hom/haar as ’n gelyke behandel, of as iemand wat ek nie sal omgee om saam te sleep as ’n bewonderaar nie? Of, moet ek my bes probeer om hierdie persoon se guns te probeer wen omdat, a) die persoon meer weet as ek, b) meer ervaring het as ek, c) iets het wat ek wil hê, of d) ek die persoon beskou as my meerdere om al drie redes en nog ’n paar ander?

Jy mag dalk dink dat hierdie hele denkproses die grootste deel van ’n minuut opneem, maar in vele gevalle is al hierdie vrae reeds beantwoord teen die tyd wat die handdruk verby is, of die kop ophou knik. Die faktore wat die antwoorde van hierdie vrae bepaal sluit in voorkoms; die intensiteit van ’n glimlag; die entoesiasme, of afwesigheid daarvan, wanneer die ander persoon gegroet word; mense saam met wie jy, of die ander persoon is wanneer julle aan mekaar voorgestel word; of enige inligting wat die persoon oor jou beskik het voordat hy of sy jou persoonlik ontmoet het, of inligting wat jy oor die ander persoon beskik.

In sommige gevalle is dit moontlik dat ’n aanvanklike swakkerige beskouing van jou verander sodra die ander persoon sekere dinge oor jou wysraak. As die persoon byvoorbeeld moet uitvind dat jy ten spyte van jou eksentrieke voorkoms, “sal ons maar net sê, finansieel baie gemaklik is”, sal jy heel moontlik ’n onmiddellike houdingsverandering teëkom op jou terugkeer van die badkamer af.

Natuurlik, soos met die meeste dinge, kan die teenoorgestelde ook gebeur. Jy mag dalk reken jy’t ’n blywende indruk gelaat met die fyn sinchronisasie tussen kleredrag en fantastiese mites wat jy oor jouself versprei het, maar teen die derde keer wat jy iemand raakloop wat aanvanklik gedink het jy’s ’n held, vind jy tot jou ontsteltenis dat die persoon intussen onder ’n sterker figuur se vlerk ingekruip het. (Of miskien het jy te veel geleun op jou staaltjie van die tyd toe jy en ’n lid van die onttroonde Birmaanse koningshuis gevlug het deur die oerwoud van Viëtnam, net om te vind julle is in werklikheid in Thailand, en dat hy jou persoonlik verantwoordelik hou vir die feit dat hy malaria het. “Van wanneer af het almal sulke stories?” sal jy wonder, terwyl jy die vertrek deursoek na ’n nuwe groep mense om te beïndruk.)

Dit is helaas, nie net die onaantasbares van Indië wat ’n stryd voer met ’n kastestelsel nie. Alle gemeenskappe het hiërargieë en klasse wat kruis-en-dwars oormekaar vleg. Almal, van die rykstes tot die armstes, van die koelste boekhouer tot die verveligste popster, moet probeer byhou met wat hulle plek bepaal op die magshiërargie in die omgewings waarbinne hulle beweeg.

Iemand moet eintlik ’n sproei ontwerp wat ’n mens oor ’n sosiale bymekaarkoms kan spuit om werklike opinies en vlakke van respek wat mense het vir dié rondom hulle, bloot te lê. ’n Paar geheime bewonderaars mag dalk ontmasker word, maar die kanse is aansienlik beter dat ’n paar opgeblase ego’s die nietigheid in geprik sal word.

______________________