Ballingskap, deel drie

Inleiding

Die afgelope tyd het vier bose konstellasies stelling ingeneem bo my planeet: Alleenheid, Slegte Weer, Te Veel Werk, en Te Min Geld. Enige van hierdie konstellasies op hulle eie kan ’n negatiewe uitwerking op my gemoed hê, maar gewoonlik kan goeie weer, of ’n lekker werkskedule, of genoeg geld om myself te vermaak, kompenseer vir die negatiewe uitwerking van watse enkele droefenis dit ook al is wat my op daai oomblik teister. Selfs as twee of drie van hierdie konstellasies op dieselfde tyd stelling inneem, kan een van die ander se teenoorstaande inkarnasies steeds ietwat van ’n balanserende uitwerking hê – as ek byvoorbeeld alleen is, en die weer is sleg, en ek het te veel werk, sal dit help as ek genoeg geld in die bank het om te kan spandeer op iets wat my goed sal laat voel. Maar as al vier hierdie faktore op dieselfde tyd hulle donker skadu’s oor jou voorstoep gooi, soos jou vier mees gehate kennisse wat soos een man aan jou deur klop, wel … dan’s jy in die moeilikheid.

Die Skryfproses

Watse metode of proses verkies ek as dit kom by skryfwerk? Ek het sover drie metodes geïdentifiseer waaraan ek óf in die verlede voorkeur gegee het, óf wat ek tans verkies, óf wat ek glo in die toekoms, onder sekere omstandighede, suksesvol kan wees.

Die een metode is wat ek noem die 1995 Metode. Kenmerke sluit in die luuksheid om verantwoordelik te wees vir, en áán niemand nie; om op te staan wanneer jy wakker word, en te gaan slaap wanneer daar niks meer op TV is nie (of om voor die TV aan die slaap te raak). Om derhalwe ’n roetine te hê wat enige tyd afgewissel kan word, en dan natuurlik om te skryf as en wanneer die begeerte jou tref. (’n Mens kan natuurlik meer gedissiplineerd wees en elke dag skryf, selfs as die begeerte nié met jou is nie.)

Die tweede metode is die Johannesburg Metode. Dit behels om voltyds te werk, op die oog af ’n relatief konvensionele werks-, sosiale, en huishoudelike lewe te voer, en in die aande te sit en skryf tot so middernag toe. Hierdie metode sal dalk nie soveel rigtinglose fragmente produseer wat jy skribbel op stukkies papier terwyl jy op jou rug lê nie, maar juis om hierdie rede mag jou skrywery dalk meer produktief wees. Jy sal hoofsaaklik fokus op een projek, en miskien een of twee sekondêre projekte. Dit mag egter gebeur dat jou werksdae so ’n sielswroeging is dat jy elke aand tot middernag rondsit voordat jy jouself sover kan kry om weer aan ’n pen te vat, of dit naby ’n rekenaar te waag.

Die derde metode is die een waarvolgens ek op die oomblik werk, naamlik die Taiwan Metode. Ek werk gemiddeld vier of vyf ure per dag, verdien ’n respektabele inkomste, en ek het genoeg vrye tyd om agter die rekenaar te spandeer.

[…]

Die ander ding is dat ’n skrywer nie ’n masjien is nie. Skrywers leef, en werk in hulle eie klein wêrelde van behoeftes, gevoelens, frustrasies, klein plesiertjies, en vrese. My klein wêreldjie is baie onbevredigend op die oomblik. Ek is alleen. Ek is ook oorgewig, en ek oefen nie genoeg nie. In kort, ek is nie tevrede met wat ek sien in die spieël of in die weerkaatsing van winkelvensters nie, en dit word vererger deur die totale afwesigheid van intieme kontak. O ja, en ek glo ek werk te veel. En ek is broke.

En die weer is sleg. Dis die ergste as ’n mens geslaap het in die middag, en jy word wakker met so ’n taai sweet wat aan jou lyf kleef. Dan kyk jy in die spieël, jy sien jou voorkop blink, en jy weet dis nie net van die sweet nie, maar van al die vet wat jou liggaam so fluks stoor. En jou beddegoed ruik asof dit weke laas gewas is. En jou woonstel het nie genoeg vensters vir al die reuke om te ontsnap en vir vars lug om in te stroom soos angstige fans by ’n rock-konsert nie. En terwyl jy na jouself in die spieël kyk met al hierdie gedagtes wat in ’n waas voor jou ronddans, onthou jy weer: Jy’s alleen.

’n Roetine vraag

[…]

Einde

Wat ons terugbring by die eintlike verskoning vir hierdie opname van waar ek op hierdie oomblik in my lewe staan: BALLINGSKAP. Die term het nog altyd verwys na die oortuiging dat hierdie nie my eintlike lewe is nie; dat ek vir ’n onbepaalde tyd wegbly van ’n ánder plek tot ek gereed is om terug te keer, waarna my lewe dán met oorgawe kan begin. Miskien is dit betekenisvol dat selfs in die extended blues waarbinne ek myself tans bevind, ’n opheffing van my ballingskap in die gewone sin nie veel aandag kry nie.

Die werklike ballingskap waarin ek myself tans bevind, is eerder een van aan die buitekant wees van ’n omgewing waar ek my eie waarde sal vind, waar ek sal voel ek behoort, en waar ek myself kan toewy aan iets. Soos die geval ook in Korea was, gaan dit oor mense. Maar die omgewing waarin hierdie betekenisvolle ander gevind kan word, het nie noodwendig grense nie, en word nie noodwendig gedefinieer in terme van geografie nie.

* * *

Terug by die onmiddellike werklikheid. Omdat ek die afgelope uur by die rekenaar gesit en skryf het, het ek nie genoeg tyd oor voor my volgende klas om my wasgoed te was nie. Dit beteken ek sal nog ’n nag tussen lakens moet slaap wat my gesondheid – en soos dit blyk, my moraal – affekteer.

En dis nog steeds warm en bedompig, en die aardige sweet kleef steeds aan my oorgewig lyf. En die vars lug steek steeds buite in sy spore vas, soos iemand wat skielik op ’n dooie os afgekom het. En ek moet steeds my Nuwe Taiwan dollars omdraai. Tot volgende week. Tot die spreekwoordelike môre kom.

Die vier konstellasies hang soos low-budget movie-dekor oor my planeet, en tensy ’n renegade army of comets hulle gaan bevlieg, gaan ek môre steeds op hierdie Planeet van Ballingskap sit. Intussen moet ek maar die sweet van my siel afhou, en daai wasgoed een of ander tyd was. Want, soos ek altyd sê, as alles verkeerd loop in jou lewe maar jy’t ten minste ’n skoon onderbroek, is alles nie verlore nie.

(Afgesluit op Dinsdag 18 Julie 2000)

______________________