Die kerk, die vrou, die huis, en die hang-ups

SONDAG 19 MAART 2000

Die kerk

Ek kry die gevoel, as ek weer kyk na die laaste maande in Korea en wat ek toe geskryf en geglo het, dat ek nog steeds die punt mis. Ek het toe gesê ek luier, dat ek wag vir die lig om groen te slaan. (Toe het ek myself besig gehou met video’s en boeke. Nou hou ek myself net meer produktief besig.)

Laas Vrydag het my scooter se brieke gefaal. Dit kon op enige tyd gedurende daai oggend gebeur het, en in 80% van die gevalle sou dit ernstige gevolge gehad het. Maar op die betrokke tyd en plek waar dit wel gebeur het, was ek in feitlik geen gevaar nie. En siende dat dit nie die eerste keer was wat iets werklik slegs kón gebeur het met my maar nie gebeur het nie, het ek gewonder: Hoekom?

Dit het my weer laat dink aan die idee van roeping … of meer spesifiek, die idee of gevoel dat ék een of ander spesiale roeping het, dat daar iets is wat ek móét doen – a reason for being.

Ek spandeer soms die beste ure van my dae en nagte hard aan die dink – oor die wêreld, oor die lewe, oor die betekenis van dinge, oor die betekenis van my eie lewe, oor die raaisel van hoekom ek is soos ek is en doen wat ek doen, en hoekom ek die keuses gemaak het wat my gebring het waar ek vandag is. Dis asof ek ’n speurder is wat die heeltyd opsoek is na leidrade, ongeag of ek bewus is daarvan of nie. Soms is dit net ’n woord wat in my gedagtes vassteek. Soms is dit ’n monoloog aan die einde van ’n movie. Soms is dit iets wat iemand nié sê nie. Ander kere weer gebeur iets, of ek doen iets wat oënskynlik geen waarde het nie, and there it is again – nog ’n leidraad, nog ’n deel van die legkaart, asof ek moet verstaan.

Ek het nou al menigmaal gedagdroom oor my ideale lewe, en gewoonlik begin dit met geld – om finansieel onafhanklik te wees, om te kan doen wat ék wil doen, wáár ek dit wil doen, vir solank as wat ek dit wil doen. Dit klink soos ’n lewe van selfsug en hedonisme. Hoe ook al sy, ek weet dit is nie die antwoord nie.Miskien is om meer as genoeg geld te hê deel daarvan, sodat jy jou daaglikse bestaan kan toewy aan wat ook al die rede mag wees hoekom jy nog leef, sonder om afhanklik te wees van ander mense vir die vervulling van jou daaglikse behoeftes, en sonder dat jy genoodsaak word om jouself te verlaag tot kleinlike gebruike en konvensies om aanvaar te word deur ’n bepaalde gemeenskap.

Steeds wonder ek “if this is as good as it gets”. Of wag ek steeds vir ’n teken, ’n woord waarop ek sal reageer dat ek nou verstaan, om dan die res van my lewe toe te wy aan wat ek sal sien as my ware roeping?

Dit alles impliseer geloof in ’n Hoër Wese. Indien jy nie glo in die bestaan van so ’n Wese nie … nou ja, dan kom dit daarop neer om jouself besig te hou op so ’n wyse dat jy ’n bewussyn van welstand ontwikkel, en handhaaf. En om te dink aan ander motiverings vir wat jy doen – miskien om onthou te word as alles verby is, of om in jou laaste minute geen spyt te hê oor wat jy gedoen het, of nie gedoen het nie.

As jy dus glo aan ’n rede vir jou bestaan, wat sou hierdie rede wees? En as jy nie oortuig is van enige spesifieke rede vir jou bestaan nie, hoe beïnvloed dit jou keuses en lewensuitkyk?

Die vrou

Die vrou het reeds heelwat ervaring gehad met mans. Tog, telkens het die verhouding tot ’n einde gekom omdat haar desperaatheid om te trou die man vervreem het.

Sy ontmoet toe weer ’n man, en neem haarself voor om dié keer alles reg te doen. Sy nooi hom uit vir aandete, maak sy gunsteling kos, en maak seker die musiek is iets waarvan hy hou (sy’t spesiaal daai middag ’n CD gaan koop met ’n versameling vroeë sewentigs singer-songwriter snitte).

Terwyl hulle aandete eet, laat sy hom praat oor sý lewe. Sy luister aandagtig, en vra die regte vrae op die regte oomblikke. Hy vra haar ook uit oor háár werk, háár familie, en oor háár lewe oor die algemeen. Sy gee deeglike, maar kort, antwoorde sodat sy hom nie per abuis verveel nie. Toe hy vir haar sê hy sal nog graag vir ’n paar maande of ’n jaar in Oos-Europa wil bly, gooi sy haar kop agteroor en lag, asof sy nie kan glo hy sê dit nie. Sy voeg by dat sy ook graag in Parys sal wil woon, of in Rome.

Na ete skuif hulle na die sitkamer toe. Sy bedien koffie en tert. Sy maak verskoning dat die tert nie haar eie handewerk is nie (wat dit wel is), maar sy hoop dit smaak lekker. Dan trek sy haar skoene uit en gaan sit op die bank oorkant hom. Haar bene ingevou op die sagte kussings, haar een hand skamerig op haar voete, kyk sy met verbloemde belangstelling hoe hy sy tert eet. Nadat hy klaargespeel het met sy tweede stuk, stel sy voor hulle moet gaan fliek, of miskien ’n video uitneem.

Hulle besluit dan op die video. Sy vind dit amper uitputtend in die videowinkel om te probeer uitvind presies waarvan hy hou, sodat sy moontlik iets in sy smaak kan voorstel eerder as om net in te stem tot sy keuse.

Terug by die woonstel sê sy iets van “nogals kouerig vanaand,” en gaan kamer toe om iets warms aan te trek. Die jeans en donkerblou sweetpak-top waarmee sy oomblikke later verskyn, laat haar … huislik lyk, en warm. Met die eerste fliek sit sy op die leuningstoel, en hy op die rusbank. Hulle gesels nie veel nie, en sy probeer ongeërg lyk elke keer as hy na haar kant kyk.

Na die eerste video vra sy of hy iets wil drink. Hy stap saam kombuis toe, en kom tien minute later uit met ’n skinkbord vol koekies en warm sjokolade. Dié keer sit sy langs hom. Kort na die begin van die tweede video raak hulle gemaklik.

Dié aand is die man nie terug huis toe nie. In die slaapkamer, so het die vrou enkele dae later aan ’n vriendin vertel, het sy haarself oortref. Waar die man se verbeelding moontlikhede getoon het, het sy dit vrye teuels gegee.

Die volgende oggend was die man gelukkig, en het by homself gedink hy’t ’n “great” vrou ontmoet. Sy luister na hom – “nie soos sommige ander mense nie” – en sy stel belang in sy opinies. Hulle het dieselfde smaak in movies, en hulle hou selfs van dieselfde tipe kos. En, soos hy later aan een van sy vriende vertel het, sy’t geen hang-ups in die bed nie.

Na ’n paar weke het hy haar aan sy ouers voorgestel. Hoewel sy pa van haar gehou het – sy’t hom “Oom” genoem en gelag vir sy grappies, was sy ma nie beïndruk nie. Sy’t selfs gesê hy moet oppas dat die vrou hom nie met ’n slap riem vang nie. Hy’t haar verdedig, en dinge genoem soos dat sy, soos hy, graag oorsee wil gaan woon vir ’n tyd.

’n Paar maande later is hulle getroud, al het sy ma se opinie van haar nie veel verbeter nie.

Ses weke na die wittebrood sê hy vir haar hulle moenie té gemaklik raak in die nuwe woonstel nie. Hulle wil immers nog oorsee gaan, het hy haar herinner – op so ’n wyse dat dit nie sou blyk dat hy ’n argument wil begin daaroor nie. Sy sê toe sy weet nie, hulle moet maar kyk hoe dit gaan. Met dit tel sy ’n tydskrif op en begin daardeur blaai.

Toe tref dit hom: hierdie strop, gaan nog styftrek.

Die huis

[…]

Die hang-ups

Gisteroggend word ek wakker en ek besef onmiddelik ek het nog steeds dieselfde hang-ups as die vorige aand. Dis soos as ’n mens kamp saam met ’n groep mense. Die volgende oggend vroeg maak een ou almal wakker, en almal herken mekaar as dieselfde mense wat hulle die vorige dag was. So is dit met my hang-ups. Die oomblik as my wekker afgaan en ek besef dis nie ’n nagmerrie of ’n grap nie, dan’s dit asof iemand ook my hang-ups wakker maak. And what do you know! Daar’s hulle almal, op hulle plek, gereed vir nog ’n dag se diens!

Waarvan praat ek? Wat presies, is my probleem? Hoofsaaklik die feit dat ek dink ek nie veel van ’n indruk maak op mense wat ek ontmoet nie. Ek wens altyd ek kan ’n beter vertoning lewer – ’n sportiewe ou wees vir die sportiewes, ’n amateur musikant vir die wannabe rock stars, ’n ervare traveller vir die ervare travellers, ’n kapitalis vir die kapitaliste, en ’n kommunis vir die kommuniste. Ek wens ek het meer geweet van meer dinge, sodat ek kon saampraat langs meer vure. Ek wens ek het al meer ervaar, en meer gesien. Ek wens ek kon meer dinge doen, op so ’n wyse dat mense ánder verwys na my, of na my verwys in hulle gesprekke.

Toe verander alles. Ek dink toe, wie is hierdie mense wat ek so graag wil beïndruk? Wie is hierdie mense met wie ek myself so onderdruk? Daar’s ses biljoen mense op hierdie planeet, duisende kulture, miljoene subkulture, ’n ontelbare hoeveelheid agterkamers en gaatjies en hoeke in donker en halfverligte gange. Daar’s kelderverdiepings, soldervertrekke, amper soveel spasies as wat daar mense is. Hoekom, op aarde, onderdruk ek myself so met ’n paar mense wat eintlik fokkol vir my beteken?

Bevry jouself, wil ’n mens amper sê.

______________________

Redes (om nie selfmoord te pleeg nie)

DONDERDAG 16 MAART 2000

(Alternatiewe titel: Redes om dit wel te oorweeg)

1. Ek is relatief gesond.

2. Ek het twee girlfriends.

3. Nie een van die twee ken my nie.

4. Ek kan peanutbutter bekostig.

5. Ek het ’n rekenaar.

6. Ek werk nie môre nie.

7. Ek moet drie bondels wasgoed was.

8. Daar’s te veel mense.

9. Teoreties gesproke moes twee mense seksuele omgang gehad het vir elke persoon op aarde, wat gereelde seksuele omgang tussen twee mense relatief normaal maak.

10. Ek is abnormaal.

11. Ek wil ’n skrywer wees.

12. Ek het geen inspirasie nie.

13. Ek het ’n paar idees.

14. Ek wil ryk wees en op Stellenbosch woon en elke oggend ontbyt by McDonald’s of Bakoven eet.

15. Ek wil ’n paar prostitute as vriendinne hê, maar ek dink my ma sal mind.

16. My sigarette brand te vinnig op.

17. Ek kan nie die derde speler op die tennis game wen nie.

18. Dis vyf voor drie op ’n Donderdagoggend, en ek is 28.

19. Die twintigste eeu is verby.

20. Ek wil nog Moskou toe gaan om na Lenin te gaan kyk.

21. Ek wil nog saam met ’n mooi vrou in Parys wees in die herfs.

22. Rodney Seale kies nie meer my musiek nie.

23. Daar’s altyd ’n moontlikheid dat ek die jackpot kan slaan.

24. Die kans is skraal.

25. Ek raak vet.

26. Cheeseburgers, pizza, Pringles, en chocolates.

27. Miskien raak die lewe nooit beter as nou nie.

28. As ek later terugkyk, sien ek dalk dat hierdie tyd die laagste punt van my lewe was. Alles raak dalk beter van nou af.

______________________