Uittreksels uit DIE 95 PUNTE

[Ek het gehoop om vanaf die tweede helfte van 1997 te begin kortverhale skryf, en sou vir dié doel ’n alternatiewe notaboek gebruik as die een waarin ek gewoonlik geskryf het. Die eerste deel van hierdie stuk is ’n fragment van die tipe materiaal wat veronderstel was om die hele notaboek te vul, maar direk na die einde van die kort stukke fiksie het ek van rigting verander.]

———–

“Why do you commit yourself …” begin ek, maar besluit dan om eers my kop van die kussing te lig en seker te maak Tammy is wakker. “Why do you commit yourself,” herhaal ek dan, “to the terror of time?” My kop sak terug op die kussing. ’n Oomblik later druk ek myself weer regop, “Do you commit yourself to the terror of time?”

Om haar tyd te gee om my nugter oggendpoësie te verwerk, leun ek oor na die videomasjien, en druk ’n video in die gleuf. ’n Tegniese probleem verknoei die Bokke se onlangse oorwinning tot beeldmateriaal uit die twintigs, met Mickey Mouse kommentaar. Ek kyk vlugtig in haar rigting, en steek ’n sigaret op.

Skynbaar onbeïndruk deur my vraag, druk sy haar hand in ’n pak skyfies wat langs die bed lê. Ek begin weer vroetel met die videomasjien. Beter beeld, geen kommentaar.

“What exactly is your problem with suburbia?” vra sy onverwags. Voor ek kan antwoord, val sy my in die rede …

———–

[Val “Tammy” my in die rede? Die waarheid is dat ek niemand nodig gehad het om my in die rede te val nie; ek kon gewoonlik nie wag om dit self te doen nie. Vir die volgende paar maande het ek my skryfwerk afgewissel tussen die volgende reeks punte – wat begin het op dieselfde bladsy as die “Tammy” storie, nog ’n paar kortverhaal fragmente, en die inskrywings en notas wat hierdie teks voorafgegaan het. Die punte in hierdie deel is net ’n seleksie van die oorspronklike reeks punte.]

[…]

Ek is ’n Afrikaan, ’n Azaniër, ’n Boer. ’n Etniese BOER van die Republiek van AZANIË.

“Kto, kgo?” het Lenin gevra. “Who [masters] whom?”

[…]

Korea het gemaak dat ek dinge waaraan ek voorheen gebonde gevoel het, beskou as nie langer van toepassing nie, en dinge waaroor ek voorheen geen sentiment gehad het nie, nou as belangrik beskou.

Enkele relevante gedagtes, en ’n paar ander idees:

* Die god van die Ou Testament was te ver, te onaanraakbaar. Die Israeliete wou net ’n tasbare god gehad het, of wou hulle vir God tasbaar maak? Het hulle nie die onderskeid verstaan nie? Nietemin, hulle is gedwing om hulle gesmelte en fyngemaalde god af te sluk met ’n bietjie rivierwater. En om te dink hulle het hul beste juwele opgeoffer om vir hulleself ’n god te laat maak.

* Socrates het geglo dat noukeurige vraagstelling kan lei tot die ontdekking en eliminasie van valshede wat gereeld voorgehou word as die waarheid. Hy het sy kollegas voortdurend gekonfronteer oor hulle definisies van geregtigheid, reg, en skoonheid, en hulle op dié manier gedwing in die rigting van antwoorde wat toenemend duideliker geword het.

* Laasgenoemde word genoem die “dialektiese metode” – ’n prosedure waarin na die waarheid gereik word deur middel van ’n dialoog, of doelgerigte bespreking.

* Sokrates het ook geglo dat kennis uit twyfel spruit, en daarom aanhoudend vrae gevra en die antwoorde getoets wat mense hom gegee het.

* Vir Sokrates was die “eintlike doel van die lewe” om die waarheid te ken, eerder as om die plesiere van die liggaam na te jaag.

* Ek soek nie op die oomblik na die “waarheid” nie. Ek is meer gemoeid met ’n soeke na my eie identiteit, die vraag na my ideale leefstyl, en hoe my identiteit en ideale leefstyl vergelyk met wat my tydgenote as belangrik ag; ook vrae na die aard van mag – polities en persoonlik, en hoe ek R100 000 bymekaar gaan kry om myself uit skuldslawerny te koop, en te hou.

* Die eerste fase van my lewe kan losweg beskryf word as ’n periode van Christelike fundamentalisme; die tweede deel kan beskryf word as ’n intellektuele periode – twyfel, skeptisisme, die bevraagtekening van waardes waarmee ek groot geword het. Hierdie tweede periode van my lewe is ietwat van ’n swerwersbestaan, waartydens ek ’n “ander mens” word as die persoon wat ek voorheen was.

* “Om te wees wat jy is, en om te word wat jy in staat is om te word, is die enigste doel van die lewe,” aldus Benedict de Spinoza.

* “Moenie na ver lande reis nie, maar keer eerder in jouself, want die waarheid is diep binne jou,” so sê Augustinus.

* Die self-onderhoud is volgens Jim Morrison die kern, die essensie, van kreatiwiteit. Om vir jouself vrae te vra, en dan te poog om antwoorde te vind. Jy konfronteer jouself met vrae. Antwoorde in so ’n oefening moet eksplisiet, akkuraat en direk wees. As jy eers iets gesê het, kan jy dit nie terugtrek nie. Die oomblik wat jy ’n antwoord gegee het (ongeag of jy hou van jou eie antwoord, of nie), is volgens hierdie man ’n belangrike oomblik in jou bestaan.

* Hoekom soek ek kennis, en nie liefde nie? Kennis is bevrydend; kennis is mag; kennis beveg vrees; kennis lei tot begrip; kennis kan nie weggevat word deur die balju nie. Kennis is wel nie so ’n goeie teenvoeter vir eensaamheid nie. Kennis maak nie jou bed warm in die aande nie.

* Hegel het gesê as ’n man werk doen wat hom pas, en ’n vrou het wat hom bemin, hy sy rekening vereffen het met die lewe.

* Mense moet hulleself weerhou van ’n huwelik wat nie vernederende armoede van hulle kinders kan spaar nie, want armoede is ’n groot euwel, het Charles Darwin geskryf.

* Miguel de Cervantes het gesê hy sou eerder ’n korsie brood en ’n ui alleen in ’n hoek eet, as om ’n vet kalkoen te eet by ’n ander man se tafel waar hy verplig sou wees om stadig te kou, min te drink, sy mond af te vee elke minuut, nie te nies of te hoes nie, of ander dinge wat die voorregte is van vryheid en alleenheid.

* Dit wat ons weet, is min in vergelyking met dit wat ons nie weet nie – enige iemand, in dié geval Plato.

* Vandat ek kan onthou, het ek ’n versugting gehad na die tydlose, die klassieke, die “ewige”, en het ek die verganklike “nuwe” met veel minder agting bejeën. Voorbeelde van die tydlose sluit in godsdiens, geskiedenis, wysheid, ou dinge wat die toets van tyd deurstaan het. En siende dat ons op hierdie onderwerp is, dit is die rede hoekom ek afgewyk het van die pad van Christelike fundamentalisme – die kleed van tydloosheid, van onverganklikheid waaraan ek soos ’n kind gekleef het, het ’n “menslike” kleurstof afgegee wat op ’n sekere tyd van my lewe vir my toenemend sigbaar geword het.

* Aristoteles: “First, have a definite, clear, practical ideal – a goal, an objective. Second, have the necessary means to achieve your ends – wisdom, money, materials and methods. Third, adjust all your means to that end.”

* Wie jy was toe jy twaalf was, gaan altyd relevant wees, want dit is die faktore wat jou tóé beïnvloed het, wat jou gemaak het wat jy vandag is (09/12) … vandag is (09/13) … vandag is (09/14). Jy kan nie net môre wil opstaan en iemand wees wat gevorm is deur ander faktore nie. Dit beteken nie dat jy nie jouself kan transformeer, en van vandag of môre iemand kan wees met … nou ja, beskouings en planne wat ietwat anders is as die beskouings en planne wat jy gister gehad het nie, of dat jy anders kan optree nie.

* “Masters of simplification; refusing to be impressed by the complexity of problems.” [Uit Hitler and Stalin: Parallel Lives, deur Alan Bullock; opinie oor beide Adolf Hitler en Josef Stalin.]

* “It seemed that things weren’t the way they were meant to be – like the way my old man was living … and the life that was waiting for me. But even if you find those things out, it’s so hard to change those things. And it wasn’t until I started listening to the radio and I heard something in those singers’ voices that there was more to life than what my old man was doing and the life that I was living. And they held out a promise, and it was a promise that every man has a right to live his life with some decency and some dignity. And it’s a promise that get’s broken every day, in the most violent way. But it’s a promise that never, ever dies, and it’s always inside of you.” [Bruce Springsteen, aangehaal uit Glory Days: The Bruce Springsteen Story, deur Dave Marsh]

[Op hierdie punt het ek twee kortverhale begin skryf, en toe die volgende stukkie teks:]

Daar is verskillende kaste, of stande, waarin mense ingedeel kan word. Die stand waarin jy jouself bevind in ’n bepaalde tyd, bepaal die waarde van jou lewe. Daar’s mense wie se lewens doodgewoon waardevoller is vir die samelewing as ander mense s’n.

Wie, behalwe my naaste familie en miskien ’n klein groepie vriende sal verlies ly deur my dood? Ek speel net ’n klein rolletjie in die samelewing, en as ek nie die ruimte volstaan wat ek doen nie, is daar duisende soos ek wat my plek kan inneem, wat selfs ’n beter job daarvan sal maak (soos om hulle poskantoorsleutels terug te gee en die skuld te betaal wat hulle aangegaan het). Ek het inderdaad geen werklike waarde vir die samelewing nie. Wat ek is, is een wat geld leen – ’n behoeftige skuldenaar.

Ek haat die skuldeisers, omdat ek in húlle posisie wil wees maar ek is nie! Ek haat die rykes, omdat ék graag ryk wil wees maar ek is nie!

Humanisme is ’n gedoemde ideologie, omdat dit van die verkeerde veronderstelling uitgaan dat elke mens se lewe kosbaar is. Dit is nie! Sommiges is meer wegdoenbaar as ander!

Ek haat armoede. Ek haat skuld. Ek sal graag die skuldeisers voor mý wil sien rondkruip met modder op hulle gesigte! Dan sal ek ook net my skouers optrek en sê: “Jammer, dis die reëls.”

Nie almal kan inpas in die ideale wêreld wat vir ons almal voorgehou word nie, maar ons maak skuld op húlle terme om deel te word van húlle wêreld. Fok hulle wêreld! Dis anyways nie eens ’n droom nie, dis ’n nagmerrie!

* “In other words, if other geographic factors are equal, the key to human progress is accessibility and interaction. Those people who are the most accessible and who have the most opportunity to interact with other people are the most likely to forge ahead. Those who are isolated and receive no stimulus from the outside are likely to stand still.” [Uit The World Since 1500, deur L.S. Stavrianos]

* “The search for profit, when it’s unconstrained and free from public control, will naturally try to repress people’s lives as much as possible. The executives wouldn’t be doing their jobs otherwise.” [Uit Secrets, Lies and Democracy, deur Noam Chomsky]

* “The retreat into individualism and personal gain is the basis for political apathy.” [Ibidem]

* “Unregulated capitalism is the enemy of human solidarity, and every economic system must be measured by the demands of social justice.” [Gedeelde oortuiging van Fidel Castro en Pous Johannes Paulus II – uit Time Magazine, 19 Januarie 1998]

* “With the inception of rudimentary cultivation and the domestication of animals, people moved inland and became more sedentary. Along with a greater reliance on cultivation came an increase in population. […] During this time kinship relationships [developed] and blood clans [exchanged] goods and [started to intermarry]. Superior cultivation techniques, advances in tools and weapons, greater variety in the preparation of foods, storehouses, and objects of decoration and veneration indicate a growing sophistication. […] They developed a more advanced society that gave rise to specialized occupations, formalized social relationships, and some sort of order and rule of law. These clans grew in number and size, evolving into associated clan groups and tribes. [Animist beliefs] became more important, [and] the responsibility for the activities and interpretation of this quasi-religion was taken over by shamans who developed prestige and power within the community, and may have become chiefs or respected elders. […] Advanced technology, metallurgy, more developed agricultural practices [and] animal husbandry [led] people to establish permanent settlements in river basins and upland regions. They established a social hierarchy of commoner, privileged class and leader. […] Tribal units developed into walled-town states where territory, not blood or relationship, was the dominant cohesive factor. Eventually, these began to form larger confederations, with one group among them becoming most influential […] [The introduction of] iron [allowed] for improved agricultural implements [and greater food production], more numerous weapons, and the ability to use wood more effectively. Because of the increase in population and the movements of people, warfare became common, causing shifting alliances and areas of control.” [Uit South Korea Handbook, deur Robert Nilsen, pp 12-13]

* Elke mens weet iets wat iemand anders nie weet nie. Erken dit, en jy sal positiewe verhoudings kan aanknoop met mense van alle agtergronde.

* Sommige tye in mens se lewe is soos ’n vergrootglas: Alles wat jy sê, alles wat jy dink, alles wat jy ervaar, lyk, en word beskou as groter, en belangriker. Ek beleef tans een van daai tye.

* Een ding wat ek sover in my lewe geleer het, is hoe belangrik dit is om keuses te hê, en om oor die vermoë te beskik om te kan oorgaan tot aksie nadat jy jou keuse gemaak het. Daar is altyd mense wat dit kan doen, en mense wat dit nie kan doen nie. Dié wat nie veel keuses het nie, is in baie gevalle, direk of indirek, die diensknegte van mense wat wel keuses het én hierdie keuses kan uitvoer. As jy dit wys geraak het, staan jy onwillekeurig voor ’n keuse: Aan watter kant van die lyn wil jy staan? As jy nie daadwerklik kies om getel te word onder dié wat keuses maak én keuses uitoefen nie, sal jy noodwendig getel word onder die ander groep.

* Die faktor wat die grootste verskil maak tussen die mees onlangse manifestasie van Die Plan en vorige verskynings daarvan, is die radikale konsep van “commitment” – die feit dat ek myself totaal en al kan toewy aan hierdie doelwit. Die idee dat ek myself sal bevind in ’n situasie waar ek toegewyd sal wees aan iets in my eie land, tussen my eie mense, in my eie kultuur, met geleenthede om ander plaaslike tale te bestudeer en ander plaaslike kulture te ervaar, en na lande te kan reis per trein of bus waarvan mense hier nog net gehoor het, is genoeg om mens te bedwelm met entoesiasme. My eie land is natuurlik ook die land van skuldeisers, balju’s, bankbestuurders, duisende lede van die petit bourgeoisie, en ’n paar mense met wie jy nie noodwendig kontak wil behou nie; die land waar middelklas middelmatigheid net ’n sug weg is …

Naskrif (van ’n nota gedateer 27 Oktober 1997 om 15:42)

“Dis nie dat ek dink ek nie in staat is om nog agt maande hier te bly nie, dis dat ek wonder of ek nie besig is om my tyd te mors nie. Ek het soveel vrae wat antwoorde soek, soveel kennis wat ek wil najaag, en dis eindeloos frustrerend as ek dink dat ek nog agt maande moet wag voordat ek die vrae aan die regte mense kan vra, en die kennis by die regte plekke kan soek.”

______________________

Die waarheid is te soet (vir ’n honger man)

Dinsdag 6 Januarie 1998

Iemand sit ’n moerse stuk sjokoladekoek voor jou neer. Jy sê nee dankie.

Die ou vra, “Jy hou nie van sjokoladekoek nie?”

“Natuurlik hou ek van sjokoladekoek!” antwoord jy sonder om te huiwer. “Dis my gunsteling!”

“Maar jy’s nie nou honger nie?” probeer die ou weer.

“Nee, nee! Ek vrek van die honger!” protesteer jy luidrugtig.

“Oukei, ek het dit. Jy wil eers iets behoorliks eet voor jy weglê aan die nagereg?”

“O nee,” antwoord jy, “niks is lekkerder as ’n stuk sjokoladekoek as ek regtig honger is nie!”

“Nou’s ek verward,” sê die ou. “Jy hou van sjokoladekoek – in fact, jy sê dis jou gunsteling, en jy’s honger. Wat is die probleem?”

“Kan jy nie sien nie?” fluister jy dan agter jou hand. “Dis net te goed om waar te wees …”

______________________

Versoening met die monster

Sondag 4 Januarie 1998

Wat is die terme waarop ’n Alleenloper hom- of haarself kan versoen met die samelewing? Oftewel, wat is die reëls van die spel … oftewel, as ’n wese van die buitenste ruim in my kamer land en hy vra my wat hy nodig het en wat hy moet doen om in te pas in die samelewing (vermoedelik dan as ’n mens), wat sou ek sê?

1) Geld.

2) Oortuiging dat dit die moeite werd is om in te pas.

3) Siende dat jy elke oggend wakkerword en dan vir 16 tot 18 ure lank “dinge doen” – en weldra leer dat dinge makliker raak indien jy patroon, rigting, selfs sin en betekenis kan sien aan die string dae wat jy aktief is as ’n lid van die spesie Homo sapiens – is dit waardevol om te verstaan wie jy is, en te weet wat jy wil doen met jou lewe.

Geld, waarvoor?

1) Woonplek – ’n gemaklike, veilige ruimte wat kan dien as jou lêplek, jou stoorplek en jou herberg

2) Kos, klere en basiese benodighede

3) Vermaak vir as en wanneer jy dit nodig het

4) Pensioenpaaiemente – indien jy oud raak

5) Mediese fonds – vir as jy siek raak

6) Versekering – vir as jy besittings het wat gesteel kan word

7) Simbole van Stabiliteit – dinge soos ’n adres en ’n telefoon

Amper vergeet ek van iets waarsonder jy skaars kan oorleef, waarsonder jy nie veel van ’n kans staan om ’n produktiewe bestaan te voer nie! Selfvertroue! Natuurlik benodig jy ’n goeie selfbeeld! Natuurlik het jy nodig om te glo in jouself en in jou vermoë en potensiaal om een helder oggend kamp op te slaan op die Hoë Grond!

______________________

Nuwe dinge, en ou dinge

Dinsdag 30 Desember 1997

Nuwe dinge, soos moderne tegnologie, is vir my simbole van die toekoms – die onbekende waar niemand nog ooit was nie, met geen sekerhede of bakens nie, waaroor daar geen stories is nie; die duisternis wat ons binnejaag.

Ou dinge is simbole van die verlede – die bekende, waaroor dinge opgeteken is, waaroor steeds geskryf word; ’n wêreld vol stories waarvan almal weet. (En nou kan ek nie verder skryf aan hierdie nota nie omdat die ou, oorverhitte trein – tegnologie van ’n vroeër tyd – my siek maak met sy geskommel.)

Donderdag 1 Januarie 1998

My eerste redelik intelligente gedagte van die jaar het gespruit uit ’n gesprek om en by halfdrie vanoggend in die Urban Bar: Die probleem met die middelklas, het ek aangekondig aan ’n groep mense om ’n tafel, is dat dit ’n relatief moderne verskynsel is. Dit het nie genoeg waardevolle tradisies nie.

Kan dae soos Kersfees en Nuwe Jaar en verjaarsdae vergelyk word met byvoorbeeld voorouertradisies, legendes van die kryger, of optogte wat al vir die laaste 700 jaar ’n gebeurtenis herdenk op dieselfde wyse? (Om net ’n paar voorbeelde te noem.)

’n Betekenisvolle persentasie van die jonger lede van die Internasionale Middelklas is ook ontnugter deur dit wat hulle aangebied word, en beskou dit nie as die moeite werd om voort te bou daarop nie.

———–

Nota bygevoeg op 7 Julie 1998: Die jonger lede van die middelklas het self niks gedoen om die relatiewe gemak en sekuriteit te verdien wat hulle gebied word nie. Hulle het nie die spreekwoordelike “huis” gebou van sy fondasie af nie. Dit laat sommiges onseker voel oor hulleself, en oor hulle eie vermoëns. Baie ouers verstaan dit nie. Baie jonger lede van die gemeenskap ook nie.

Vrydag 2 Januarie 1998

’n Spesifieke taal hoef nie universeel gepraat te word, en dus universele waarde te hê, om waardevol te wees vir mense wat dit gebruik om hulle daaglikse behoeftes te vervul, en om te kom van punt A tot punt B nie.

______________________